Ek dink wat ons mooi land vir my so spesiaal maak, is die goeie klimaat, wonderlike mense (meeste van die tyd) en die verskillende tipes natuurtonele. Dan is daar die groot kontras tussen die platteland en die groot stede. Die bekoring lê daarin dat ek in die stede soos ‘n wêreldburger voel en wanneer ek na die platteland ontsnap, dan voel dit of ek hier nog rustig kan lewe en die kalmte van ‘n kleindorpse lewe kan geniet. Natuurlik met al die intriges wat in so gemeenskap is. . .

Die week het ek ‘n paar boeke gekies wat fokus op ons mooi land.

Vredefort Dome: A Stone from Heaven, Attie Gerber (And Cork, R165)
Suid-Afrika spog met agt Wêrelderfenisgebiede en die Vredefort Koepel is een daarvan. In hierdie publikasie is alles wat jy oor die Koepel wil weet in bondige en verstaanbare taal beskryf . Die skrywer is ‘n professor in fotojoernalistiek en dokumentêre video by die Noordwes-Universiteit. Die teks is in Afrikaans, Engels en Frans. Die foto's is regtig iets besonders. Daar is landskappe wat wys hoe die Koepel uit elke windrigting lyk en dan is daar foto's wat die tekstuur van die klip wys. Maar verder vertel en wys hy die fauna en flora van die omgewing en verduidelik ook die aspekte van die verskillende kulture wat ‘n invloed in die ontwikkeling van die streek gehad het. (Gerber het ook ‘n boek oor bobbejane geskryf, Bogom.)
Die boek kan bestel word by Graffiti , maar is ook beskikbaar by Van Schaiks.

South Africa, Heinrich, Philip en Ingrid van den Berg (HPH Publishing, R125)
Die Van den Bergs is ou bekendes in fotografie-kringe en het al ‘n hele rak vol boeke oor die natuurlewe en Suid-Afrika die lig laat sien.

Hierdie boekie is een in hulle pocket memento-reeks en gee ‘n visuele oorsig van die land en sy provinsies. Die teks is geskryf deur Ingrid van den Berg en Joanne Pohl en gee die vernaamste inligting oor die land: die grootte, bevolking, tale, hoofstede en die provinsies. Elke provinsie word ook bondig beskryf ten opsigte van ligging, waarvoor dit bekend is en wat interessant is daar.

Die ander boekie in die reeks gaan oor die Kruger Wildtuin. Die boeke en hulle ander publikasies kan bestel word by HPH.

CapitaFaces People and Places

Capital Faces - People and Places, Marita van Jaarsveldt (Marita van Jaarsveldt Communications, R250 plus posgeld)
Die boek is vir mense wat Pretoria nie ken nie, maar ook vir inwoners van Pretoria wat net weer bietjie hul geheue wil verfris oor wat dié stad sy inwoners en besoekers bied.

Dit gee ‘n oorsig van die geskiedenis van die stad, die verskillende woonbuurte en die argitektuur. Dan is daar ‘n baie goeie bespreking van al die plekke waarin toeriste sal belangstel - mensgemaaktes en natuurlikes. Die foto's sal jou ook prikkel om meer te wil lees. Al is die boek nie ‘n omvattende gids oor die stad nie, is die inligting volledig genoeg om enige leser ‘n waardevolle insig te gee in hoe die stad inmekaar steek.

Van Jaarsveldt beskou haarself as ‘n Pretorianer in murg en been en die trots en liefde vir haar tuisstad kan mens sien in die publikasie. Die boek kan bestel word by marita@webmail.co.za.

Scenic day drives from Cape Town

Scenic day drives from Cape Town, Mike Lundy ( Human & Rousseau, R 159,95)
Lundy gee 15 roetes in die boek, almal met ‘n kaart en GPS koördinate sodat jy weet presies waarheen om te ry. Elke roete se afstand, die gemiddelde tydsduur word ook gegee, wat beplanning vergemaklik. Elke rit word ook kortliks beskryf met die plekke wat moontlik besoek kan word.

Hy gee selfs voorstelle van waar jy kan aandoen vir middagete! Die boek is so maklik om te gebruik dat selfs jou kind (wat al kan lees) die aanwysings vir jou sal kan voorlees.

Beslis ‘n publikasie wat eerste ingepak moet word as jy op besoek aan die Kaap gaan!

From Joburg to Jozi

From Jo'burg to Jozi, saamgestel deur Heidi Holland en Adam Roberts (Penguin, R130)
Johannesburg is een van daardie wêreldstede wat ‘n reputasie het - in Suid-Afrika en internasionaal. ‘n Reputasie vir hoe woes dit is om in die stad te oorleef, hoe sleg die misdaad is, hoe lelik dit is en hoe onvriendelik dit is. En dis alles net ‘n persepsie.

Lees jy dié boek met bydraes deur joernaliste en skrywers oor hoe hulle Johannesburg ervaar, besef jy dis ‘n stad met baie gesigte. Almal wat hier woon en werk, ervaar Johannesburg op ‘n ander manier en het waardering vir die "iets" wat die stad vir daai spesifieke mens uitsonderlik maak.

As jy een van die mense is wat nog altyd geglo het Johannesburg is die grote, bose stad, dan moet jy die boek lees, sodat jy tot ander insigte kan kom. Een ding is beslis, hierdie is nie ‘n vervelige stad nie!

‘n Heerlike verskeidenheid van bydraes deur onder andere Max du Preez, Marlene van Niekerk, Zakes Mda en Rian Malan.