En elke mens tree op hul eie outentieke manier op en reageer op goed uit hul eie verwysingsraamwerk. Daarom bly dit altyd interessant om te lees oor die mens, of dit nou ware karakters of fiktiewe karakters is.

Huis teen die skuinste, Marietjie van Rooyen (Tafelberg, R180)
Katerine is ‘n losloper-argitek wat in Johannesburg praktiseer. Haar suster, die flambojante, Lilliane, sterf. Katerine kry ‘n groot erfporsie - haar suster se tienerdogter, Karyn. Ewe skielik is haar lewe omvergewerp. Sy moet haar praktyk in Johannesburg opgee, sak en pak verhuis Kaap toe waar Karyn woon. Haar verhouding met Karyn verander oornag, want sy is nie net meer Karyn se tannie nie, maar sy moet nou ma wees vir haar. Dis moeilik, want Katerine moet haar loopbaan as argitek weer op dreef kry en ‘n nuwe lewe probeer bou saam met Karyn. Die verhouding tussen hulle is aanvanklik wankelrig, want Lilliane se dood lê soos ‘n groot berg tussen hulle. Sy is aan vigs dood en dis moeilik om daaroor te praat.
‘n Interessante boek wat fokus op verhoudings en die komplikasies wat intree wanneer iemand in jou intieme kring aan vigs ly. Die boek is met baie empatie geskryf, sonder om prekerig of stroperig te wees. Gee ‘n realistiese kykie in hoe ‘n gesin se lewe verander na ‘n gesinstragedie. Die verhaal is relevant vir die tye waarin ons leef en die probleme in gesinne waarmee mense vandag te make het. - Phyllis Green

Aan die windkant Aan die Windkant, Annemarie Coetser (Tafelberg, R165)
Annemari Coetser se boeke was nog altyd die moeite werd om te lees, maar hierdie een was 'n heerlike ondervinding.
Nadat sy seksueel geteister is by die werk, stap Liefka Naudè (sonder om te bedank) daar uit. Haar verhaal begin by 'n lewensverrykkingskursus wat sy bywoon, omdat sy 'n senuwee-ineenstorting gehad het. Deur Liefka maak ons kennis met die karakters in die dorpie Garsveld en ons weet van al hul wel en wee. 'n Week se verblyf word 'n veel langer tydperk en Liefka leer weer lag en lewe. Delikate en omstrede kwessies word met deernis, begrip en waardigheid hanteer, en mens beleef die lief en leed saam met al die karakters.
Die eksentrieke karakters, die nuwe liefde in Liefka se lewe en die lekker gebruik van taal maak die boek 'n plesier om te lees. - Erna du Toit
Solar Solar, Ian McEwan (Jonathan Cape, R217)
McEwan skryf oor 'n briljante, dog pateties-grillerige karakter wat twee dekades vantevore die Nobel-prys verower het en nou op sy louere rus, buiten 'n obsessiewe getob oor sy fisieke aftakeling en veroudering.
As die 'chief' word Beard teësinnig en toevallig deur een van die studente by 'n navorsingsinstituut betrek by 'n poging om die wêreld te red van 'n omgewingsramp.
Chaos in sy persoonlike lewe saai uit na sy beroepslewe, en vermeerder eksponensieel aangesien hy geen situasie probeer oplos nie en veragtelike optrede sy standaardreaksie is. Met kenmerkende vlymskerp swart humor skets McEwan 'n gewetenlose wetenskaplike wat byna obsessief ontrou is, en dankbaar reageer op 'n uitnodiging na die Pole, om te ontsnap van sy probleme tuis.
Wanneer hy genooi word om teen buitensporige betaling te verduidelik hoe kunsmatige fotosintese gebruik kan word om goeie, skoon elektrisiteit te verskaf deur sonligbenutting wat water kan verdeel in waterstof en suurstof wat brandstofselle kan voortdryf, verag hy homself en sy werk: "Now planetary stupidity was his business". - Mariette Postma
Away Away, Amy Bloom (Granta Books, R194,95)
Lillian se storie begin vol verwagting en empatie. Moord is so na aan ons hart en wanneer Lillian se man, ouers en ander dierbares vermoor word, bring dit jou midde-in die gebeure. Die enigste gedagte in Lillian se bestaan is dat sy moet seker maak haar dogtertjie, Sophie, ontsnap. Met 'n laaste drukkie en sagte woorde stuur sy Sophie die donker nag in, weg van die wrede mans met moord in hul harte en bloed op hul hande. Met ‘n geleende jas en ‘n bladsak van een van die vermoorde geliefdes, klim Lillian op ‘n skip na die beloofde land, Amerika. Sy weet sy moet 'n nuwe lewe begin, 'n lewe sonder Sophie, sonder haar man en ouers. Alleen. Wat begin as ‘n aangrypende lewensdrama verander vinnig in ‘n lewe van misbruik. Met harde werk gaan sy nêrens kom nie, Lillian weet sy sal 'n ander plan moet maak. Sy maak 'n keuse, sy verkies om ‘n gemakliker lewe te lei as die houvrou van die rykes. Gou vergeet sy die mense wat haar gehelp het toe sy as vreemdeling in Amerika aangekom het - hulle wat haar versorg en vertroos het, wanneer haar drome in gille ontaard het en sy hartverskeurend gehuil het. Niemand weet of dit trane van pyn of trane van vernedering is nie. Seks word vir haar die kaart wat sy speel, haar liggaam die betaling. Dit bring koekies by die tee. Handskoene en pelsjasse. Soos balsem op haar verwonde hart verneem sy van Raiselle, haar niggie uit Rusland, dat Sophie nog leef. Sy moet terug na Sophie toe, terug na haar verlede. Of is haar nuwe toekoms saam met John Bishop, met die sagte hande en die liefde in sy stem? - Trudy Booyens
Classrooms in the Shade, Shanthee Manjoo (STE Publishers, R272,95)
Dis interessante herinnerings dié: Manjoo se lewe val saam met 'n tyd in ons landsgeskiedenis toe 'n Indiese gesin wit aangetroude familie kon hê en sterk Anglofiel wees, vir die eerste keer te make gekry het met die Groepsgebiedewet en vriende aan die Apartheidstryd verloor het. Manjoo self was dekades lank 'n gerekende onderwyser. Dis 'n waardevolle boek - as tydsdokument, as verslag oor SA onderwys en dies meer. Ongelukkig lees dit soos direk getranskribeerde herinnerings van 'n (wel ter tale) ou dame, asof jou ouma al haar herinnerings uitpak, met skamele gedagte vir orde.
Dis 'n jammerte dat hier feitlik geen redigeerdershand te bespeur is nie. Korrek georden en gesnoei kon hierdie herinnerings 'n boeiende memoire gewees het. - Hester Carstens