Dit is weer ‘n uiteenlopende keuse boeke en daar is iets wat oumas en ma's kan voorlees vir kleintjies. Daar is ook ‘n paar vir tieners en dan, in die gees van die sokker, ‘n lekker aktiwiteitsboek.

Onthou om ons boekwinkel te besoek om jou boeke aanlyn te bestel.

Moenie dat die grootmense hoor nie, Francois Bloemhof (Tafelberg, R132)
Die verhale in die bundel is nogal vreemd en party is in strokiesprent-formaat en selfs fotoboekie-formaat. Een van die snaaksstes in die boek is "Die storie agter die foto". Hier is dit ‘n klomp foto's met eienaardige onderskrifte wat die verbeelding prikkel oor die goed of mense op die foto. Met van die ander verhale kan jy selfs kies hoe die verhale moet eindig. Bloemhof skets ‘n situasie en dan gee hy drie moontlike keuses van hoe die verhaal verder verloop. Jy kan dan self kies watter een van die opsies die beste een is vir jou leeservaring. Ek dink die grillerige en vreemde onderwerpe sal tog jonger lesers se nuuskierigheid prikkel. En ook dat dit nie ‘n konvensionele boek is nie.

A Teenager&aposs diary of moving on from anorexia A Teenager's diary of moving on from anorexia, Constance Barter (Robinson, R180)
As jy al ooit wou weet wat in ‘n meisie se kop aangaan wat sukkel met die eetversteuring anoreksie dan moet jy dié boek lees. Dis Constance se dagboek van hoe sy die siekte ontwikkel het en hoe sy uiteindelik gehospitaliseer is en in ‘n spesiale eenheid vir jong mense met eetversteurings beland het, om haar te probeer genees. Jy kry ‘n kykie in al die onsekerhede en liggaamskwessies wat aanleiding gee tot hoe sy haar eie liggaam beleef. Sy vertel ook eerlik oor die moeilike pad na herstel en hoe dit al haar verhoudings beïnvloed het. Sy erken ook dat sy hierdie siekte regdeur haar lewe sal moet beveg en dat sy baie bewus moet bly van goed wat die siekte weer kan laat opvlam. Constance is deesdae 'n ambassadeur vir die liefdadigheidsorganisasie BEAT in Engeland, wat hulle toespits daarop om jong mense met eetversteurings te help. ‘n Boek wat enige ma van tienermeisies met liggaamskwessies ook moet lees, nie net tieners nie.
Wêreldsokkerkampioene Wêreldsokkerkampioene (Human & Rousseau, R69,95)
Vir enige kind wat belangstel in sokker. Die boek is propvol allerhande aktiwiteite, van woordbou, soek-die-verskille, legkaarte en wiskundige raaisels. Verder is daar ‘n hele afdeling met inligting oor die 2010-kompetisie: die stadions, interessante feite oor spelers en spanne. Daar is ook ‘n telbord waar die uitslae van elke wedstryd ingevul kan word, sodat jy jou eie rekord kan hou van wat op die veld gebeur. In die middel is ‘n dubbelblad met plakkers.
Grondslagfasewoordeboek Longman Grondslagfasewoordeboek Afrikaans/Engels, Ronel Gouws, Liezl Potgieter en Susan Burgess (Maskew Miller Longman, R79,95)
Die woordeboek is gemik op leerders van die eerste dag wat hulle skool toe gaan tot in Graad 3. Die eerste deel bestaan uit ‘n prentewoordeboek wat volgens temas wat in die beginjare van ‘n skoolkind gereeld gebruik word. Soos die alfabet, kleure en vorms, my liggaam, klere, my familie, ons huis en nog ‘n hele klomp ander. Die tweede deel bevat woorde in alfabetiese volgorde. Hier kan meer geleer word van elke woord, die definisie word gegee en ‘n voorbeeldsin in Afrikaans om die betekenis in konteks te verduidelik. Elke woord het ook ‘n klein prentjie by vir visuele herkenning.
Storie-Rondomtalie Storie-Rondomtalie (Stilbaai Skryfkring, R150, posgeld en verpakking ingesluit)
Die stories en gediggies in die boek is die pennevrug van die lede van die Stilbaai Skryfkring met illustrasies deur Louis Hiemstra. Dis een van daardie boeke wat ideaal is vir voorlees. Die woorde is gekies om die verbeelding aan te gryp en om met verskillende stemme voor te lees. Die stories is ook nie te kort of te lank nie en het genoeg drama om klein mensies se aandag te hou. Daar is stories oor diere, oor kabouters, oor oupas en oumas en selfs ‘n lekker bangmaakstorie! Hierdie Skryfkring is lekker aktief en het al ‘n paar ander publikasies ook agter die blad. Daar was onder meer ‘n boekie oor walvisse en dan ook ‘n bundel met essays. Marie Cronje van die Stilbaai Skryfkring vertel die boek is juis geskryf vir hul eie kinders en kleinkinders. Storie-Rondomtalie kan bestel word by Marie Cronje, cronjep@telkomsa.net, of selfoon: 072 244 1051.