Die kleipot het gebreek, Dr. Fanie Rudolph (Lux Verbi, R79,95) Fanie Rudolph vertel van sy worsteling met depressie. Dié dominee van Brakpan vat sy verhaal van die begin af en loop dit stelselmatig deur soos hy die siekte beleef het. Hy het aanvanklik nie erken hy ly aan depressie nie en het selfs aangegaan met berading en sy normale bediening by sy vorige gemeente. Tot die dag dat sy vrou saam met hom na ‘n psigiater gegaan het sodat hy om professionele hulp kon aanklop. Rudolph sê in die laaste hoofstuk: ”Daar is nie kitsoplossings vir hierdie siekte nie (ook nie boererate nie!). En selfhelp-motiveringsboeke gaan jou net moedeloser maak. Depressie is ‘n lang, uitgerekte stryd teen ‘n groot duisternis, en dit is ‘n lewenslange pad.” Die boek is geskryf vanuit sy Christelike oortuiging en hy verwys ook dikwels na hoe hy spesifieke Bybeltekste deur sy siekte beleef het. Dit is nie bedoel om ‘n selfhelpboek te wees nie, eerder ‘n verhaal van hoop en inspirasie.Bestel by www.kalahari.net.

a Memoir of love and madness
A Memoir of love and madness, Rahla Xenopoulos (Oshun, R139,95)
Rahla het van sy sewe jaar oud was, geboer by dokters om te probeer uitvind wat haar makeer. Sy is eers na sewentien jaar en menige doktersbesoeke uiteindelik as bipolêr gediagnoseer. Die boek is haar verhaal van hoe dit is om met dié versteuring te leef. Sy vertel van haar angsaanvalle, selfmutilasie, anoreksie, bulimie en drie selfmoordpogings. Dis nie ‘n outobiografie met ‘n logiese tydlyn en ‘n uiteengesette lewensverhaal nie, eerder ‘n verhaal wat die verloop van haar emosionele lewe vertel - haar ideale en ambisies, haar soeke na ‘n lewensmaat en haar versugting om ‘n kind te hê. Haar eksentrieke Joodse familie is haar ondersteuning en lewer ook ligte oomblikke op in ‘n donker lewensverhaal. Rahla skryf oor haar lewe as volg: "I can't say that bipolar disorder has made my life easy, but it has educated me, and it has certainly humbled me. It's made me vulnerable and forced me to tell the truth at times when lies would have tripped more willingly from my lips." Al ly jy nie self aan bipolariteit nie, moet jy die verhaal lees. Dis eerlik, weerloos en herinner 'n mens hoe gelukkig jy is as jy gesond is. Bestel by www.kalahari.net.
The Horse boy The Horse Boy, Rupert Isaacson (Viking, R210)
Een van die aangrypendste verhale wat ek al oor outisme en ouers se toegewydheid teenoor hul kind gelees het. Rupert Isaacson en Kristin Neff se seuntjie, Rowan, is in April 2004 op twee en ‘n halfjarige ouderdom met outisme gediagnoseer. Dit het hulle hele wêreld verander, want ewe skielik het hul lewe voltyds om die sorg van Rowan begin draai. Rupert is ‘n skrywer, menseregte aktivis en perdehanteerder, Kristin ‘n professor in sielkunde. Rowan was ‘n ingekeerde, stom kind wat vir geen rede soms onophoudelik geskree het en sy arms aanmekaar gefladder het. Hy was ook in doeke, want hy wou nie of kon nie toiletgewoontes aanleer nie. Toe beland hy per ongeluk in die bure se perdekamp. Rupert het die ergste gevrees, maar daar was ‘n onverklaarbare band tussen Rowan en die perde. Rowan was baie rustiger wanneer hy by die perde was. Dit het Rupert ‘n idee gegee om sy kind op ‘n helingstog te perd te neem, na ‘n plek waar daar sjamaans is. Die boek vertel dan verder die verhaal van die tog te perd in Mongolië na die Rendierstam waar die sjamaan is wat Rupert uitgekies het. Dis ‘n verhaal van opoffering, deursettingsvermoë en intense emosies. ‘n Dokumentêre filmspan het die reis verfilm. Vir meer oor die film, besoek www.horseboymovie.com en bestel die boek by www.kalahari.net.
Torn Apart Torn Apart, James Patterson en Hal Friedman (Century, R180)
Cory Friedman lei aan Tourette se sindroom en obsessief- kompulsiewe gedrag. Sy liggaam is sy grootste vyand. Elke dag kry hy met ‘n nuwe onwillekeurige beweging te doen waaroor hy geen beheer het nie. Teen alle verwagtinge in probeer sy ouers hom help om ‘n normale interaktiewe lewe te lei en hy gaan ook na ‘n gewone skool. Dis beslis nie maklik nie, want daar is net geen voorspelbaarheid aan Cory se lewe nie. Hy ry wipplank met sy medikasie - hy drink hande vol pille, pille om sy bewegings te beheer, sy buie te kontroleer, hom te laat slaap. Partykeer werk die medikasie en ander kere nie. Dit bly ‘n raaispul. Om alles te kroon raak hy verslaaf aan alkohol en in ‘n dronkbui brand hy amper sy ouerhuis af. Dis die keerpunt. Cory besluit om homself te rehabiliteer en ondergaan ‘n intensiewe winterkamp, sielkundige behandeling vir sy obsessief- kompulsiewe gedrag en ‘n intense skool- hersieningsprogram sodat hy weer tot die gewone skool toegelaat kan word. Sy inspirerende lewensverhaal is deur sy pa, Hal Friedman, in samewerking met James Patterson geskryf.
The book of Jacob The Book of Jacob - a journey into parenthood, Lisa Lazarus en Greg Fried (Oshun, R139,95)
Daar word altyd met groot verwagtinge uitgesien na die koms van ‘n eerste baba. Maar wat nou as die baba kom en die werklikheid is totaal anders as die verwagtinge. . .? Dié boek vertel juis so 'n eerlike verhaal oor hoe ‘n nuwe ma en ‘n nuwe pa die koms van hul eersteling beleef. Die verhaal word vanuit albei se oogpunt vertel en jy spring tussen Lisa en Greg se vertellinge. So kry jy ‘n baie duidelike prentjie van hoe verskillend mans en vrouens sake emosioneel beleef. Hulle praat oor die swangerskap, die geboorte, borsvoeding, nageboorte depressie. En dieomwenteling wat Jacob in hulle huis gebring het, hoe hulle moes aanpas met werkskedules, die oumas en oupas se betrokkenheid en die moeilikheid van ouerskap. Die boek vertel eerlik van die frustrasie, vreugde en liefde wat by ‘n eerste kind se geboorte betrokke is.