Edith Venter

Edith Venter: The Art of Good Living, soos vertel aan Heather Dugmore (Oshun, R149,95)

Edith Venter is 'n bekende gesig oor wie baie geskryf word. Dié boek is Edith se persoonlike vertellings oor haar lewe, dit wat sy wil deel en waaroor nie in die media geskryf word nie. Sy vertel van haar kinderdae, haar eerste werk as sekretaresse, haar mislukte huwelike (buiten die Venter een waaroor ons almal nuuskierig is) en verhoudings, haar twee seuns, haar finansiële verknorsing en haar maatskappy. Sy sluit die boek af met 'n beskrywing van haar onlangse troue in die bos met haar huidige man, Johnny Schwartz. Tussendeur deel sy haar skoonheidswenke en gee selfs 'n paar gunsteling-resepte. 'n Vermaaklike, interessante en vinnige leesplesiertjie. Besoek www.oshunbooks.co.za vir meer.

Uit die Veldapteek

Uit die veldapteek, Betsie Rood (Protea Boekhuis, R180)

Het jy geweet jy kan smeerwortel (comfrey) as 'n geneesmiddel vir 'n verskeidenheid kwale soos maagsere, diarree, nierkwale, inflammasie en beenbreuke gebruik? Baie van die bome, struike en kruie in jou tuin is goed om algemene siektes soos verkoues, 'n omgekrapte maag en inflammasie 'n kishou te gee. Leer meer van veldgeneesmiddels in dié tweede uitgawe (die boek het in 1994 sy eerste verskyning gemaak.) Die huidige belangstelling in natuurlike geneeskunde maak dit 'n waardevolle toevoeging tot jou boekrak. Die plant word beskryf en sy botaniese en volksnaam asook gebruike vir genesing word gegee. Betsie Rood het ook Kos uit die veldkombuis geskryf. Besoek www.proteaboekhuis.co.za vir meer oor dié interessante gids.

Just Keep Breathing: South African Birth Stories, saamgestel deur Sandra Dodson & Rosamund Haden (Jacana, R145)

'n Versameling van 28 uiteenlopende kortverhale oor geboorte, geskryf deur mans en vroue uit verskillende kulture. Van die verhale is komies, ander skokkend, sommige hartverskeurend en party warm en emosioneel. Een skrywer vertel hoe sy die lewe geskenk het aan 'n tweeling, 'n meisie van 1.2 kg en 'n seuntjie van 1 kg. Jy voel haar vreugde oor die babas en dan haar hartseer oor die meisietjie, wat dit nie maak nie. Vir drie lang maande leef sy langs die broeikas en sien haar ander piepklein baba in 'n seuntjie verander. Met ewe veel empatie en pyn skryf Marita van der Vyver oor hoe sy ook 'n baba aan die dood afgestaan en die trauma gedeeltelik verwerk het ná haar twee gelukkige swangerskappe later in haar lewe. 'n Mens staan nie onaangeraak deur die stories nie. Besoek www.jacana.co.za vir meer.

Tissue Salts

Tissue Salts for Healthy Living, Margaret Roberts (Struik Nature, R95)

Roberts verduidelik wat weefselsoute is en hoe 'n mens dit gebruik om in vandag se gejaagde lewe weer balans in jou liggaam te bring. Sy vertel hoe die soute 'n verskil in haar lewe gemaak het. Elkeen van die twaalf soute word volledig beskryf en sy verduidelik presies vir watter kwale dit gebruik kan word. By elke afdeling is ook 'n volledige bespreking van aanvullende kruie en kosse wat die soute bevat en wat in jou eetplan ingesluit kan word. Agterin is 'n alfabetiese lys kwale en siektes met die korrekte weefselsoute vir gebruik. 'n Handige gids en maklik om te gebruik. Die boek is ook in Afrikaans beskikbaar: Weefselsoute vir heilsaamheid.

Kruidjie roer my nie

Kruidjie roer my, Antoinette Pienaar (Umuzi, R180)

Dit het Antoinette Pienaar 42 jaar geneem om haar voetpaadjie uit te trap tot by oom Johannes Willemse. Toe kon sy eers gestalte gee aan haar droom "om by iemand te leer van die bossies wat so teen [haar] skoene krap elke keer as [sy] die vlaktes plat loop." En die oom het geduldig vir haar gewag, van sy 15 jaar oud was en hy haar die eerste keer in 'n gesiente herken het. Sy het tot in 2002 haar pad geloop van toer en musiek maak en stories vertel. Toe beland sy met haar rooi dieselbakkie, twee honde en een kat op Theefontein. En só begin haar vakmanskap om haar dors na kennis te les. Pienaar vertel op 'n warm en boeiende manier haar en oom Johannes se storie asook die verhaal van die antieke helingskuns van die Karoo-veld. Mooi foto's vir kyk, ook! Jy kan Antoinette weeksdae tussen vyf- en sewe-uur bel vir raad by 023 416 1659. Sy pos ook op aanvraag kruie. Luister Vrydagmiddae na Tjailatyd op RSG wanneer sy en Amore Bekker oor kruie gesels.