Daar is niks wat my so inspireer as om oor ‘n ander mens se lewe te lees nie. Of dit nou ‘n sanger, TV-aanbieder, rekenaar-ghoeroe, skilder, joernalis of koninklike is. Iewers in daardie mens se lewe het hulle iets gedoen wat my met ander oë na hulle laat kyk. Dié week was ek selfsugtig en het boeke gekies wat ek graag in my Kerskous wil hê. Hoop dis vir julle ook die geval. Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Woord vir Woord, ‘n lewensreis, Johan Stemmet (Penguin Books, R199)

Die TV-program Noot vir Noot is sinoniem met Johan Stemmet. Dié aanbieder se kwinkslae het deel geraak van uitdrukkings wat in die volksmond gebruik word, en sy klerestyl is gereeld onder bespreking. Of dit nou sy onderbaadjies of hemde is, dis iets wat ook onder skoot gekom het in die media. Selfs sy hare het vir ‘n hele paar weke ‘n geskertsery op radio veroorsaak. Is dit ‘n pruik of is dit nie? Johan het die vermoë om lustig saam te spot, want die publisiteit het hom ‘n bekende naam gemaak by ‘n groep luisteraars wat nie noodwendig Noot vir Noot-kykers is nie. In hierdie boek gee Johan ‘n oorsig oor wie hy is, waar hy vandaan kom en hoe die program ontstaan het en wat hy dink die program deur die jare bo-aan die trefferlyste gehou het. Die foto’s gee ‘n lekker kykie na hoe Johan se beeld oor die jare verander het.

Steve Jobs

Steve Jobs, Walter Isaacson (Little, Brown, R271)

Hierdie biografie van Steve Jobs is lywig en omvattend. Isaacson het meer as 40 onderhoude net met Jobs alleen gedoen. Jobs het sy volle samewerking gegee vir die skryf van die boek, sonder dat hy ingemeng het om sy verhaal te probeer whitewash. Dan is daar nog die onderhoude met familielede,
vriende, kollegas, oud-kollegas én Jobs se vyande.

Uit al hierdie navorsing kon die skrywer ‘n ware beeld skets van wie en wat Steve Jobs nou eintlik was. “He was not a model boss or human being, tidily packaged for emulation. Driven by demons, he could drive those around him to fury and despair. But his personality and passion and products were all inter-related, just as Apple’s hardware and software tended to be, as if part of an integrated system. His tale is thus both instructive and cautionary, filled with lessons about innovation, character, leadership, and values.”

Jy hoef nie belang te stel in rekenaars of die rekenaarwêreld om hierdie boek te waardeer nie. Geskryf in gemaklike trant en baie boeiend is dit ‘n inspirerende lewensverhaal, van iemand wat sy lewe geleef het. Voluit met sy duiwels en sy engele.



 My Father My Monster

My Father, My Monster, McIntosh Polela (Jacana, R176)

Een van die aangrypendste lewensverhale wat ek die afgelope tyd gelees het. Polela is tans die polisiewoordvoerder vir die Valke en ‘n voormalige televisie-joernalis. Toe Polela 4 jaar oud was, het sy pa sy ma vermoor en Polela en sy sussie (toe 2 jaar) is onmiddellik uit Durban na familie in die landelike Pevensey gestuur. Hier het hulle lewens radikaal verander. In Durban was hulle taamlik goed daaraan toe. Maar nou is hulle behandel soos weeskinders, met te min om te eet en geboelie deur die ouer kinders en die res van die familie. Dis onuithoudbaar en Polela raak uiteindelik betrokke by onwettige wapenhandel (hy het tuisgemaakte wapens gemaak en verkoop) met die ANC in Kwazulu-Natal, wat gebruik is in aanvalle op lede van Inkatha. As alles lyk of dit té desperaat is en daar geen hoop is vir hom nie, kry hy te make met ‘n paar mense wat hom laat glo dat hy iets van sy lewe kan maak. Hy begin hard werk en gaan studeer en ontsnap uit sy haglike omstandighede. En hy soek na die waarheid oor sy ma se dood. Hy wou nooit die stories glo nie en konfronteer ook uiteindelik sy pa, om uit sy mond ‘n erkenning te hoor. Dis ‘n eg menslike verhaal en een wat jou nie onaangeraak sal laat nie. Beslis die moeite werd om te lees. 

 Stories I only tell my friends

Stories I only tell my friends, Rob Lowe (Bantam Press, R235)

Rob Lowe skryf onderhoudend en pittig oor sy lewe. Hy vertel van die mense wat hom beïnvloed het en wat ‘n bydrae gemaak het tot sy loopbaan. Hy delf ook in sy persoonlike verhoudings, hoe sy onstabiele ma ‘n lewenslange merk op sy psige gelaat het en hoe hy ‘n verhouding met prinses Stephanie van Monaco gehad het. Die verhouding het skipbreuk gelei omdat hulle onrealistiese verwagtinge gehad het. Hy was die spreekwoordelike tiener-pin up wat internasionaal ‘n huishoudelike naam op alle jong meisies se lippe geword het. Dan was hy op twintigjarige ouderdom ook nog ‘n lid van die sogenaamde Brat Pack, wat meer in die nuus was oor hulle manewales eerder as die filmrolle wat hulle vertolk het. Sy loopbaan het hoogtepunte en laagtepunte gehad. Sy lewensverhaal gee jou insig in al die fasette van sy lewe – sy vergrype aan drank, mislukte verhoudings, filmprojekte wat bom, en sy huwelik met Sheryl, sy grimeerkunstenaar-vrou – wat ook uiteindelik gehelp het om hom so ver te kry om sy lewe uit te sorteer. Fassinerend, en gee goeie insig in die rolprent-era waarvan hy deel was.

 Sometimes there is a Void

Sometimes there is a Void, Memoirs of an Outsider, Zakes Mda (Penguin Books, R260)

Mda is een van dié Suid-Afrikaanse skrywers van ons tyd en word ook hoog aangeskryf in die internasionale skrywersarena. Hy is as jong man landuit saam met sy pa, AP Mda, wat Lesotho toe is as politieke uitgewekene. Zakes het gedurende 1970 tot 1980 hom toegespits op die skryf van toneelstukke – natuurlik het hy die sensors van die tyd ook goed die harnas in gemaak met hierdie skryfwerk wat kritiek gelewer het op politiek en ten beste sterk sosiale kommentaar gelewer het. Hy is Amerika toe om verder te studeer in kreatiewe skryfwerk en daar het ‘n hele klomp hoogaangeskrewe boeke uit sy pen verskyn. Hierdie outobiografie is in sy kenmerkende styl geskryf en hy skroom nie om sy persoonlike verhaal warts and all te vertel nie. ‘n Boek vir almal wat meer oor die skrywer en sy werk wil weet, maar ook vir lesers wat bloot sy kenmerkende skryfstyl wil verken.

 Young Prince Philip

Young Prince Philip, His turbulent early life, Philip Eade (HarperCollins, R220)

‘n Fassinerende oorsig oor Prins Philip se lewe as jong man. Die boek is nie ‘n amptelike biografie of enigsins goedgekeur deur die koningshuis nie, maar die skrywer het dit aangepak omdat hy die prins se geskiedenis so interessant gevind het. Hy vertel van die prins se herkoms in Griekeland en hoe hy as sestienjarige sy swanger suster en swaer in ‘n vliegtuigongeluk aan die dood afgestaan het. Die suster en haar man het bande met Duitsland gehad en was self lede van die Nazi’s. Dis interessant dat Philip met die mees gesogte jong vrou in die wêreld getrou het – die Britse troonopvolger en dat hy steeds die gedienstige eggenoot twee tree agter haar is. Vir mense wat meer wil lees oor ‘n prins wat ‘n paar lekker skandes, of gerugte van skandes, in sy verlede het ... vroue en verhoudings ... Lees maar self oor sy sogenaamde eskapades.

 Fred Page

Fred Page – Ringmaster of the Imagination, Jeanne Wright en Cecil Kerbel (Cecil Kerbil, R290)

Page is een van ons land se interessantste kunstenaars, maar ook een waarvan tot nou toe eintlik maar min omvattende inligting beskikbaar was. Hy het gewoon en gewerk in Port Elizabeth, waar hy ‘n kluisenaarsbestaan gevoer het. Hy was een van die eerste skilders wat probeer het om ‘n lewe te maak uit sy kuns en het maar dikwels onder die broodlyn gelewe. Hy is in 1984 oorlede. Die toonaangewende surrealistiese skilder se werke word min in die openbaar gesien. Die meerderheid skilderye is in private besit hier en oorsee. In hierdie boek wat deur die kunsjoernalis Jeanne Wright en die prokureur Cecil Kerbel saamgestel en uitgegee is, word 300 van Page se werke in kleur afgebeeld met toeligtende kommentaar. Sy kunswerke dokumenteer baie van Port Elizabeth se geboue en argitektuur, omdat dit die agtergrond is waarteen hy sy onderwerpe geskilder het. Sy werk gee ook ‘n historiese oorsig van die lewe in die stad waar Page lewenslank gewoon het. Die boek kan by toonaangewende boekwinkels gekoop word of bestel by peter@peterhyde.co.za.