Wat het geword van sommer net speel, of sommer net lees, of sommer net iets met hul hande maak? Is dit my verbeelding of wil kinders vandag net voor die rekenaar sit of net hul duime op hul selfone oefen. Dis dalk net my persepsie, maar toe ons klein was (ek sê altyd ek gaan dit nie weer sê nie), het ons baie goed gehad om ons mee besig te hou. Daar was bordspeletjies. Wat natuurlik altyd op ‘n geveg tussen die boeties en sussies uitgeloop het. Dan was daar karretjies speel, damme bou, Lego en natuurlik dokter-dokter speel. En as ons nou goed moeg was vir die lotjie, dan was daar altyd die staatmaker-vermaak – ‘n boek. Dit was my grootste vreugde as kind, om op die naat van my rug te lê en te ontsnap na die fantasiewêreld tussen die blaaie. Ai, daardie vreugde is gelukkig steeds deel van my lewe.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op Kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Waarvoor is seerowers bang, Jaco Jacobs & Chris Venter (Lapa uitgewers, R80)
Seerowers is veronderstel om vir niks bang te wees nie.
Maar Sanmarie weet van een ding waarvoor dié brawe manne wel bang is.
Sy neem haar pa, die Kaptein, en sy makkers deur ‘n hele reeks bangmaakgoed, soos woeste storms en monsters, in leesbare slim rymwoorde, voordat sy by die waarheid uitkom.

Ek het die storie met sy kleurvolle prente en snaakse karakters baie geniet, en dink dat seuns en dogters daarvan sal hou. Soek ook na die klein prenteverhaal van die muise binne die hoofstorie. - Cailin SpickettCailin Spickett (8 jaar – Gr.2)

Net Sisi 

Net Sisi, Wendy Hartmann en Joan Rankin (Human & Rousseau, R130)
(Afrikaans deur Philip de Vos)
Net Sisi is ’n prettige prenteboek wat jou roep om deel te word van die avonture.

Daar is twee rympies “Pappa is tuis” en “Nagsoentjies” spesiaal vir slaaptyd wat jou kindjie rustig sal maak voor hy sy ogies toemaak. Dit sal haar leer van liefde en omgee.
Ons ontmoet Sisi, ’n baie besige hasie. Sy moet ’n kleipot vir haar mamma vat, maar sy moet ver stap en die pad is vol gevare. Sal Sisi veilig by die huis kom met haar kleipot, sonder om dit te breek?
Sisi se  vriende het vir haar ‘n verrassing nadat sy ’n lang tyd weg was. Sy soek haar vriende, maar niemand is tuis nie. Haar hartjie is baie seer en haar ore hang slap. Dan gaan sy maar terug huis toe. Sal Sisi van haar verrassing hou en gaan haar oortjies weer regop staan?
Haar ouma is baie hartseer. Sisi wil vir haar ’n prent teken sodat sy weer kan lag. Die vriendelike bruin hennetjie gee van haar veertjies vir Sisi om mee te verf.  Hulle maak ’n huisie vir die bruin hennetjie om dankie te sê vir haar pragtige veertjies. Gaan sy van haar nuwe huisie hou of gaan sy in die boom bly? – Ronel (Ma) en Carla Taljaard (9 jaar)Carla Taljaard

 Aspris-krokkedis

Aspris-Krokkedis, Theresa van Baalen en Joan Rankin (LAPA, R70)
’n Storie oor ’n ouboet en ’n kleinboet. Kleinboet is die monster wat ouboet se lewe versondig. Hy is natuurlik die appel van almal se oog en ouboet kry altyd die skuld vir alles wat verkeerd gaan. Kleinboet doen al die gewone goed wat verkeerd is. Hy vat ouboet se speelgoed, lê vir ouboet voor en maak hom skrik. As daar met hom geraas word, gooi hy die grootste vloermoer nog. Tog eindig die verhaal op ’n vrolike noot, met broederliefde wat groter as alles is! Die pragtige  illustrasies is gemaak deur Joan Rankin, wat al meer as 25 kinderboeke geïllustreer het.

 Doer in die oerwoud

Doer in die oerwoud, Graham Wise en Jo-Anne Shilliam (Human & Rousseau, R59,95)
Dié boek gebruik ’n slim manier om klein kindertjies te leer tel. Die olifantjies op elke bladsy word minder, omdat een elke keer wegkruip. Die boekie is interaktief, want daar is ’n wiel wat jy kan draai om die verskillende maats uit die oerwoud te ontmoet, wat op elke bladsy moet saamspeel. Die boekie is gemik op kinders van 3 – 6 jaar.

 Die ruspe wat so honger was

Die ruspe wat so honger was, Eric Carle (Human & Rousseau, R140)
Dis die derde uitgawe van dié immergewilde kinderboek. Eric Carle het sy eerste kinderboek in 1969 geskryf en het reeds 70 kinderboeke op sy kerfstok. In dié een leer kinders die name van die dae van die week en hoe om te tel. Verder leer hulle om die vrugte en kos wat die honger ruspe eet, te identifiseer. Die verhaal wys hoe ’n ruspe uiteindelik ’n pragtige vlinder word.

 Die Kat kom kuier

Die Kat Kom Kuier, Dr Seuss (Human & Rousseau, R79,99)
Dr Seuss is ’n ou bekende in die kringe van kinderboeke. Sy boeke verskyn al sedert 1957 en vermaak kinders al langer as vier dekades. Die stories lees moeiteloos en is daarop gemik om kinders te help om beter te leer lees. Leon Rousseau het die vertaling in Afrikaans gedoen en dit doen geen afbreuk aan die oorspronklike verhaal nie. In hierdie verhaal word Boet en Sus gedwing om binne te bly, want dit reën. ’n Resep vir ’n tragedie, want gou is hulle doodverveeld. Nie vir lank nie, want ’n vrolike, pratende kat kom kuier. En natuurlik is daar heelwat pret ter sprake. Daar is nog ’n boek in die reeks: Die Kat Kom Weer.

 100 Papiervliegtuie

100 Papiervliegtuie, Andy Tudor (Protea Boekhuis, R100)
Die boek is vir seuntjies, maar ek is doodseker pa’s gaan net so lekker saamlees, of eintlik saamspeel. Dit bestaan uit 100 papiervliegtuie, een per blad. Elke blad kan uitgeskeur word en dan gevou word in ’n vliegtuig. Kan jy jouself indink hoeveel ure se pret dit beteken! Daar is vegvliegtuie, vuurpyle en selfs vlieënde goggas. Gelukkig is daar ook instruksies, so pa sal beslis moet help. Net reg om Boetman in die vakansie besig te hou.

 

Speurder Kwaaikofski: Die kougomstrik, Jürgen Banscherus (Human & Rousseau, R79,95)
Die gewilde speurreeks vir jong lesers is nou uit die oorspronklike Duits in Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys. Die eerste paragraaf van hierdie verhaal lees as volg: “My naam is Kwaaikofski en ek is ’n privaatspeurder. Ek het sopas besluit om op te staan. Ek gaan ’n glas melk uit die yskas kry, my gunsteling-kep opsit (die een met ‘n ‘K’ op, vir ‘Kwaaikofski’....”Nou ja, so begin die negejarige seun se avonture. Hy is gek na kougom, want dit help hom dink. En nou het hy ’n probleem om op te los, want sy gunsteling-kougom verdwyn uit die winkel. Waarheen en wie is die oorsaak van die verdwyning? Dis eenvoudige lekkerlees-verhale met genoeg intrige om jong lesers besig te hou.

 Verhale uit die Arabiese nagte

Verhale uit die Arabiese nagte, Stella Maidment en Graham Percy (Human & Rousseau, R120)
Eintlik is dit ou bekende verhale. Wie onthou nie vir Sinbad, Ali Baba en Aladdin nie. Al die opwindende avonture van vlieënde tapyte, towerlampe en pratende diere is genoeg om enige kind se verbeelding aan die gang te kry om heerlike drome te droom. Die verhale word bondig in Afrikaans oorvertel deur Kobus Geldenhuys. Dit neem ongeveer tien minute om ’n storie te lees. Dis ’n heerlike boek vir selflees of vir voorlees.

 Moemin en die towenaar se hoed

Moemin en die towenaar se hoed, Tove Jannson (Human & Rousseau, R120)
Moemin se stories bestaan al vir 60 jaar en wat die verhale nog meer geliefd maak, is die eenvoudige, vrolike illustrasies. Philip de Vos het die verhaal nou in Afrikaans vertaal. Party van julle sal Moemin van die televisiereeks af onthou. In hierdie verhaal ontdek Moemin en Boeboe en Snifsnaf ’n towenaar se pluiskeil. Eers dink hulle dis ’n gewone hoed, totdat hulle besef  dis ’n towerhoed wat mens en dier kan verander in iets anders. Maar dan daag daar nog twee vreemdelinge met ’n geheime tas op. Nou ja, die kinders kan maar self verder lees om uit te vind wat gebeur. Moemin se verhale is eintlik gepas vir oud en jonk om te lees, want dis sulke heerlike universele stories.

 Sonja Serfontein en die Groot Kaas

Sonja Serfontein en die groot kaas, Saskia Kuschke en Alistair Ackerman (LAPA, R50)
Kinders wat hou van superhelde sal van Sonja Serfontein hou, want sy is nie sommer ’n gewone dertienjarige meisie nie. Sy kan honder keer haar eie gewig optel. Maar dis nie al nie. As ’n naald val, kan sy dit hoor. En daar is nog – sy kan vlieg ook! Ongelukkig vir haar is daar nog ’n superheld in haar stad, die irriterende Wolf. Hy val alewig in haar sop, daarom stry hulle gedurig. Sal hulle gestryery maak dat hulle die president kan red van ’n ontvoering? Die skelm, Groot Kaas, is besig om planne te maak om die president te ontvoer.

 Diva Veronica

Diva Veronica, Marianna Brandt en Tanja Joubert (Human & Rousseau, R120)
Dis ’n baie humoristiese storie oor ’n hoenderhennetjie wat graag beroemd wil wees. Veronica woon op Vygiefontein, maar smag na ’n wyer gehoor. Sy wil haar oom Parsons se Hoenderhokgedigte op ’n groot verhoog voordra. Haar drome word uiteindelik bewaarheid, maar sy moet ’n hele paar gevare trotseer en ook ’n klomp hindernisse oorkom. Sy word darem bygestaan deur die ander hoenders, die wyse Vernon en die sjarmante Herman en natuurlik haar oom Parsons. Sy vind ook ware liefde by Pikkeling van Carnarvon. Die storie is boeiend geskryf met interessante feite oor hoenders wat deur die storie ingeweef is.

 Bessie Hemelbesem en die ekspedisie na Daërdoer

Bessie Hemelbesem en die ekspedisie na Daërdoer, Janie Oosthuysen en illustrasies deur Lize-Marie Smit en Anja Aucamp (LAPA, R70)
Die skrywer van die Bessie Hemelbesem-reeks is ook verantwoordelik vir die vertaling van die Harry Potter-reeks en Artemis Fowl, asook die Narnia-reeks. Die Hemelbesemgesin is ’n vreemde lotjie mense, die een meer eksentriek as die ander. En dit sluit Bessie in. Sy is alewig besig met avonture waar sy haar speurvernuf moet beproef. In hierdie avontuur moet sy uitvind wie het probeer om tant Potjierol te verwurg en is dit dieselfde mens wat die troetelseekoei, Pietersielie, se seldery gesteel het. Jy kan nie anders as om soms hardop te lag vir Bessie en haar vreemde gesin se eskapades nie.