Dit is ‘n uiteenlopende klompie boeke, maar die spilpunt is elke keer mense. As jy belang stel in reis, sal jy hou van Lötter se vertellings oor Mosambiek en Zimbabwe. As drama meer jou ding is, moet jy beslis Dannelene Noach se ervaring in die Midde-Ooste nie misloop nie. Dan is daar Mariël le Roux se tweede boek, nog ‘n heerlike boek uit die pen van Margaret Bakkes en ‘n bundel met jagverhale spesiaal vir die manne. Onthou om ons boekwinkel te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Kissmas in Mosambiek, Johan Lötter (LAPA, R120)
Kissmas in Mosambiek vertel van twee broers se soektog na rare en unieke voëls in Mosambiek en Zimbabwe. ‘n Tweedehandse Isuzu Frontier met alternator-probleme vorm die derde lid van die "Good Luck Safari". Alles verloop egter nie altyd volgens plan nie. In hulle reis van twee en twintig dae sien hulle nie net ‘n groot verskeidenheid rare en unieke voëls en ander kleiner diere nie, maar maak ook kennis met die ware inwoners van die streek. Mense wat altyd bereid is om te help waar hulle ook al kan. Hulle oorleef die vloede in Mosambiek en besoek ‘n aantal plekke wat nie as gewone toeristebestemming beskryf kan word nie.
Die hulpvaardigheid van die mense help om die negatiwiteit oor Afrika en sy inwoners bietjie af te skud. Onkonvensionele bladuitleg, talle kaarte, sketse, foto's en kort handgeskrewe aanhalings oor skoonheid, tesame met Lötter se gemaklike en boeiende skryfstyl, maak die boek ‘n interessante leeservaring. Lötter is ‘n mens wat sin vind in alles wat met hom gebeur. Die boek is ‘n moet-lees vir elkeen wat sukkel om iets positiefs in Afrika te sien. - Gert Venter

My ouma in kaneel My ouma in kaneel, Margaret Bakkes (Human & Rousseau, R145)
Magriet se vertelling van haar kinderjare speel af teen die agtergrond van die Groot Depressie en die moeilike jare ná die Tweede Wêreldoorlog. Die skrywer skets ‘n vergange era van boerebygelowe, treinry en briefskryf. En tussendeur ontvou hierdie sensitiewe jong meisie se grootwordjare op só ‘n wyse dat die leser saam bou aan haar dogtertjie-sandkastele.
Magriet, haar pa en ma moet kort-kort oppak en trek agter ‘n nuwe, beter werksgeleentheid aan vir haar pa. Elke keer moet Magriet van nuuts af vriendskappe kweek en op ‘n nuwe dorp of plaas gevestig raak. Maar van al die karakters en al die plase (van Klapkloof in die Oos-Kaap tot Montrose in die verre Transvaal) bly die kuiertjies by haar Ouma-van-die-plaas haar anker. Totdat sy later tot die besef kom: Niks hou vir ewig nie.
Die boek vul ‘n mens met heimwee na mense en tye wat jy dalk nooit eens geken het nie... - Lee-Ann Liebenberg
Die Naamlose Die Naamlose, Mariël le Roux (Tafelberg, R185)
Mariël le Roux se tweede roman is boeiend en roerend. Dit handel oor oorlewing, oorwinning en verlies, asook identiteitskrisisse. Rassevooroordeel word sterk uitgebeeld. Onheil, wreedheid en die bedreiging van seksuele misbruik deurspek die verhaal in tydspronge tussen hede en verlede.
Carli se grootwordplaas, Grootvlei, is 'n plek waar baie booshede gebeur. Sy moet uiteindelik ontsnap van haar "kleintyd se spoke". Haar hardvogtige, haatdraende, dronklap-pa maak haar kinderlewe hel, veral nadat haar Italiaansgebore moeder, Bella, tydens die geboorte van die "katkoppie" sterf. Aan haar ma se droom van eendag "annerland" toe gaan, hou Carli vas.
Gevoellose uitbuitende wit gesagsfigure (haar pa, die sersant, Oudominee) kontrasteer sterk met die bediendes (Lena, Dora, Evelyn) wat Carli liefdevol beskerm en versorg, en haar jeugliefde ,Wimpie. - Malene Breytenbach
Kruispunt Kruispunt, PJ Haasbroek (Human & Rousseau, R144,50)
Soos wat die visier-simbool op die voorblad asook die titel aandui, handel hierdie 14 kortverhale oor jag en geweld. Hoewel die stories op plase, tydens jagtonele of in die oorlog afspeel en daarom ideaal vir die manlike leser is, is hier vele onderstrominge wat ook vroue sal interesseer.
Haasbroek ondersoek die donker psige van die mens. Hoewel die karakters dikwels drinkende mans, soldate of sigeuners is, val hul broosheid (en verganklikheid) sterk op. En dit is wat hierdie bundel so interessant maak. Daarby speel dit in Afrika én Europa af.
Die verhale lees lekker en die taal is gestroop. Só beskryf Haasbroek ‘n vrou se oë: "...(dis) die blou van ver berge en van die see wat amper pers is..."
Die skrywer is ‘n meester van die treffende slot, seker een van die moeilikste dele van ‘n kortverhaal om te skryf. Mens pink dikwels ‘n traan weg.
Vir die leser wat dieper soek, is hier baie. Dié bundel is vir lees en herlees. Dis ook ‘n lekker geskenk vir daardie spesiale man. - Riette Rust
Vrou Alleen Vrou Alleen, Dannelene Noach (Griffel Media, R166)
'n Spannende verhaal van 'n besondere vrou wat die Koningkryk van Saoedi-Arabië aanvat. Reeds met die inleiding besef jy die verhaal van Dannelene Noach is feitelik. Jy lees tussen die lyne om te besef hoe traumaties dit werklik vir hierdie vrou moes gewees het. Gelukkig is dit 'n dun boekie - die spanning is te veel!
Dannelene gaan werk as verpleegster in Saoedi-Arabië en slaag daarin om wanpraktyke en bedrog op hoë vlak te ontbloot. Met die krag van haar Christenskap en die vasberadenheid van sterk oortuigings was sy bereid om te veg vir haar beginsels. Met emosies wat sterk onder dwang gehou word, beskryf sy die intimidasie, haglike omstandighede, mishandeling en brutale misbruik wat sy moes beleef.
Haar vaste geloof in God onderskraag haar in so 'n mate dat sy haar kan oorgee, aanvaar en staande bly. Inderdaad 'n besondere vrou! - Nikki Strassburg