Aspoesterskoene, Kristel Loots (Lapa, R140)
Sarah se lewe het verval in middeljarige voorstedelikheid - gewoon, onopwindend en voorspelbaar. Haar tienerseun, Waldo, is moeilik en geslote. Haar man, Christian, gaan deur ‘n middeljaarkrisis. Sy voel vaal, lelik en vervelig en glad nie sexy nie. Eens op ‘n tyd was haar lewe opwindender, maar dis voor sy moes trou en ‘n huisvrou geword het. Alles word nou deurmekaar gekrap, want sy is reünie toe op Doringbaai - met aspoesterskoene wat haar weer in ‘n verleidelike vrou omgetower het. En Marius Malan, haar verlore liefde, is terug met ‘n groot knal, groter as die oerknal! Haar huwelik is ‘n klug, want Christian is lankal nie meer lief vir haar nie. Hy verneuk haar in haar eie huis. ‘n Heerlike chicklit-verhaal van ‘n vrou wat haar selfvertroue en vroulikheid terugkry - deur ‘n paar aspoesterskoene waarmee sy ‘n nuwe lewenspaadjie moet loop uittrap.

Iemand vir &aposn scoop? Iemand vir ‘n scoop?, Marida Fitzpatrick (Tafelberg, R145)
Eintlik wil Andi Niemand vir ‘n publikasie soos Beeld of SARIE skryf. Maar nou skryf sy steeds stories oor die vermaaklikheidswêreld vir die poniekoerant, Pers. En steeds soek sy na die scoop wat haar uit hierdie middelklas-bestaan sal red na ‘n lewe waar sy altyd haar ideale gewig sal wees en haar romantiese, sexy held, Luan, aan haar sy sal hê en net groot en belangrike stories sal skryf ... Maar scoops val nie sommer uit die hemel nie. Sy moet krap en soek, soms in ongure plekke met minder gawe mense. Dis die moeite werd, want dit lei alles tot ‘n leidraad vir haar groot onthulling oor die celeb en bekende musikant Jack Greeff. Maar is die storie die waarheid? Advokaat Arend Human, Greeff se regsverteenwoordiger, bring Andi terug aarde toe met dreigende regstappe en ‘n ander insig oor ware liefde. ‘n Verhaal met ‘n vinnige pas en genoeg kronkels en draaie om boeiend te lees tot aan die einde.
Anderkant Pontenilo Anderkant Pontenilo, Irma Joubert (Tafelberg, R179)
Die Fouries woon op ‘n plaas in die Waterberg in Suid-Afrika en die Romanelli's woon in ‘n klein dorpie in Italië salig onbewus van mekaar se bestaan. In die Fourie-huishouding is daar twee politieke kampe - Pa en Oupa is Smelters, maar die seuns, Boelie en De Wet, is voorstanders van Malan. Dan is daar Klara, die dogter, wat nog nie seker is waaroor die stryery eintlik gaan nie. Die jongmense en hulle vriende se ambisies word beïnvloed deur die oorlog en bring veranderinge in almal se lewens. In Italië word die Romanelli-seuns opgeroep om te gaan veg. Die een, Antonio, word gevange geneem in die Noorde van Afrika en as krygsgevangene na SA gebring. Hy moet help om ‘n brug op die Fouries se plaas te bou. So begin die verbintenis tussen die twee families wat deur die Tweede Wêreldoorlog in aanraking met mekaar gebring word en wie se toekoms ineengevleg word. ‘n Eg menslike verhaal oor hoe oorlog almal se lewens raak en verander en verbintenisse skep wat jy nie self beplan nie.
The Punishment The punishment, Paula Marais (Logogog, R195)
‘n Geskiedkundige roman wat in Frankryk afspeel in 1942 gedurende die oorlog. Die Duitse soldate neem die dorp Saint-Girons in en so kom Kommandant Kurt Auer in aanraking met die jong Franse vrou, Cèdonie Boineau. Om haar inkomste aan te vul en om haar seuntjie te kan versorg, moet sy naaldwerk van die Duitse soldate inneem. Kurt maak seker dat hy die uniforms af- en oplaai. So ontstaan ‘n onverwagse stywe vriendskap tussen die twee, wat weldra in ‘n meer intieme verhouding ontwikkel. Maar daar is baie oë wat dinge sien en oorvertel aan die owerheid vir hul eie gewin. Cèdonie moet baie versigtig wees, want sy het ander verbintenisse wat haar lewe in gevaar kan stel. Odette de Bary, die haarstilis van die dorp, het hoeka haar mes in vir Cèdonie. Dan is daar ook nog die rebelle en hulle spioenasie op almal. ‘n Emosionele storie oor liefde, verraad en verlies.
Other People&aposs husbands Other people's husbands, Judy Astley (Bantam Press, R220)
Sarah is getroud met die kunstenaar Conrad Blythe-Hamilton, 25 jaar ouer as sy. Sy sewentigste verjaardag is om die draai en hy sien glad nie uit daarna nie. Allerhande vrae duik in hom op, soos dat die gaping tussen hom en Sarah vir haar ‘n probleem kan wees en dat hy ‘n oorlas vir haar kan raak. Sarah voel glad nie so nie - hulle het ‘n uitstekende verhouding, hul huishouding loop vlot en haar werk as kunsonderwyseres is heel bevredigend. En sy het baie goeie vriendskappe met ander vrouens se mans. Natuurlik platonies. Op ‘n dag word hulle hele roetine omvergewerp. Hulle twee volwasse dogters trek terug huis toe. Die een nogal met haar baba. Sarah se ouer suster kom plak ook nog daar met haar tienerseun. Conrad begin al hoe vreemder optree in die chaos. Sarah ontmoet die joernalis Ben by haar werk en sy begin wonder oor haar huwelik en haar eie kunstenaarsloopbaan. Dis ‘n verhaal oor huwelik- en gesinsverhoudinge uit verskillende oogpunte.