Onthou om ons boekwinkel te besoek vir aanlynbestellings van my Top-5.

Dwars, mymeringe van ‘n gebleikte Afrikaan, Max du Preez (Zebra Press, R220)
Max du Preez skryf in die voorwoord: "Dwars is nié ‘n outobiografie nie. Ek is nie belangrik genoeg om ‘n outobiografie te skryf nie. Dwars is ‘n boek oor my ervaringe as joernalis, skrywer en kommentator. Die persoonlike stories in die boek is net daar om die breër storie beter te belig." En dan gaan hy voort in sy inleiding: "Afrikaner/Afrikaan. Ek is albei. Ek noem my twee keer na my vasteland. Ek wens soms dit kon anders wees. Dis die rede vir my huidige penarie. ...Ek is ‘n deel van hierdie land. Maar anders as die meeste ander boorlinge, is ek bleek van vel." So begin hy dan mymer oor sy herkoms en herskryf sy 2003 boek, Pale Native in Afrikaans en werk die afgelope 5 jaar se politieke verwikkelinge by. So 'n boek lees nou maar een maal net lekkerder in Afrikaans. Veral as die taal pront en onomwonde gebruik word. Natuurlik bekyk Max alles uit sy eie oogpunt, en dat Du Preez op ‘n ander manier na sy lewe en die politiek kyk, is gewis. Hierdie boek is een wat politieke diskoers aanhelp. Sulke stemme is nodig om te help dat Suid-Afrika in konteks kyk na wat binne sy grense gebeur. Soos Max aan die einde tereg afsluit: "Die hef aan lê nog voor. Suid-Afrika het nog nie ‘n vervelige land geword nie." Viva Max du Preez, viva!

Afrika

Afrika - dispatches from the outside edge, Kingsley Holgate (Struik, R279)
‘n Moderne weergawe van David Livingstone is wat Kingsley Holgate is. Sy sendeling-pa het hom altyd die avonture van David Livingstone vertel en so het hy verlief geraak op avontuur en die onbekende aantrekkingskrag van Afrika. Dit het hom geïnspireer om sy lewe as ‘n tipe sendeling te leef en die hele Afrika vrot te reis, maar met die doel om mense se lewens te help verbeter. Malaria bly steeds een van die grootste oorsake van dood in Afrika en Kingsley en sy familie (wat saamreis) se een doel is om muskietnette uit te deel sover hulle gaan en mense in te lig oor die voorkoming van die siekte. Hierdie boek is fassinerend. Dis geskryf soos ‘n dagboek (dispatches soos hy dit noem) met brokkies inligting oor die plekke, mense en reiservarings. Tussendeur is foto's , handgeskrewe notas en kaarte. Hy maak dat ek ‘n rugsakkie wil pak en aanhaak by een van sy volgende avonture! Dis mense soos Kingsley Holgate en sy gesin wat my inspireer.
Unmasked Unmasked: The Final Years of Michael Jackson, Ian Halperin (Simon & Schuster, R175)
Toe die boek op my lessenaar geland, het ek nie geweet of ek dit wil lees nie. Ek het grootgeword met Michael Jackson se musiek en dink steeds hy is een van die beste musikante wat daar al was. Nou, ná sy dood, met die massiewe oplewing in verkope en speeltyd van sy musiek, is daar weer ‘n nuwe gehoor vir die baie vreemde karikatuur van ‘n musikant genaamd Michael Jackson. Ek wou eintlik nie weet wat die waarheid agter al die skinderstories is nie en het aanvanklik langtand begin lees. Ek was verras, want Halperin het vir 5 jaar navorsing gedoen om die onthullings te kon maak. Hy volg die seksaanklagte in diepte en het baie moeite gedoen om dit objektief en volgens getuienis te ondersoek. Nou wat is dan die uiteinde van die verhaal, was Jackson ‘n pedofiel of nie? Lees maar die boek om uit te vind. Al wat ek kan sê, is dat ek nou meer as ooit weer my ou Jackson-musiek uitpak en luister. O ja, op die heel laaste bladsy van die boek skryf Halperin darem so ietsie oor die ster se musiek!
Get her off the pitch Get her off the pitch, Lynne Trusse (Fourth Estate, R190)
Een van die snaaksste boeke oor sport wat ek al gelees het. Trusse (‘n skrywer wat oor uitvoerende kunste skryf), word deur haar baas by The Times gevra of sy kans sien om ‘n sportrubriek te skryf. So beland sy vir vier jaar in ‘n kantoor vol gesoute sportjoernaliste, almal mans. En om alles te kroon, weet sy niks, maar net mooi niks van sport nie. ‘n Resep vir ‘n ramp? Toe glad nie. Trusse se rubriek het gegaan oor die goed rondom die geleentheid wat sy moes dek. Haar indrukke oor die fêns, sitplekke, spelers se kaperjolle, worsrolle, pasteie en sulke dinge. Met tipiese Britse humor beskryf sy haar reise na van die grootste sportgeleenthede op so 'n manier dat jy nie kan help om geamuseerd te wees nie. Sy het ‘n liefde/haat-verhouding met sport ontwikkel en skryf so oor die einde van haar loopbaan as sportjoernalis: "When I stopped writing about sport in 2000, it wasn't that I was finished with it. Mainly, I was finished with the lifestyle of the sports writer - or, at least, the lifestyle of the middle-aged female sports writer, which (as Alan Bennett once beautifully said of being Prince of Wales) is not so much a job as a predicament.'' ‘n Baie vermaaklike predicament!
Double Take Double Take, Kevin Michael Connolly (HarperCollins, R190)
Verbeel jou jy het glad nie bene nie en jy beleef die wye wêreld vanaf ‘n skaatsplank - nie staande nie, sittende, en dit is die uitkyk vanwaar jy alles sien. Dit is seker hoe kleuters ons beleef as hulle moet opkyk na ons. Wel, hierdie uitkyk is presies hoe Kevin Michael Connolly sy wêreld sien. Die drie-en-twintigjarige Amerikaner is sonder bene gebore en het ten spyte daarvan steeds ‘n baie aktiewe lewe gehad. Hy het selfs aan die 2006 Winter X Games deelgeneem en tweede geëindig. Met sy prysgeld het hy op ‘n uitgebreide back pack-trippie na sewentien lande gegaan waaronder Oekraïene, China, Japan en Maleisië. Oral waar hy gekom het, het hy foto's geneem as deel van ‘n projek om homself gewoond te maak aan mense wat hom aangaap. Oor die projek sê hy: "This photography had allowed me to see my leglessness as a way to create an art project that otherwise would have been impossible to produce." Hy vertel sy verhaal en  ervaringe van sy reis. Die foto's het uiteindelik ‘n uitstalling geword, The Rolling Exhibition, wat uitgestal is in talle galerye oor die wêreld. Besoek Kevin Michael Connolly se webwerf vir meer oor die uitstalling en sy lewe