Ek het al, veral as ek die storie in die koerant lees en daar is ‘n baie grafiese foto van die toneel daarby. Skrywer Ilze Salzwedel het ‘n boek geskryf saam met twee Suid-Afrikaanse vroue wat ‘n maatskappy bedryf wat sulke plekke opruim. Ek kan my net indink wat hierdie vroue nie al gesien het nie en hoe moeilik dit soms moet wees om in te stap by so 'n huis. Volgens Riëtte Rust wat die boek gelees het en vir ons meer daaroor vertel, is die boek ook plek-plek grillerig (nie vir sensitiewe siele nie), maar dis die moeite werd om deur te druk. Die twee vroue is baie lakonies oor dit wat hulle doen en, soos tipiese Suid-Afrikaners maak, maak hulle ook grappies om hul soort werk te kan hanteer.

Verder het ek hierdie week ‘n klompie ander verhale gekies wat darem nie heeltemal so grillerig is nie. Dot Serfontein se sketse oor haar lewe bly altyd gewild. Dan is daar ‘n verhaal oor ‘n hedonis wat wil probeer om in Suid-Afrika sy armsalige lewe agter te laat en ‘n nuwe lewe te begin.

Hierdie is regtig ‘n hutspot van stories oor mense deur mense!

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Ek is maar ene, Dot Serfontein (Protea Boekhuis, R140)

Die boek is ‘n samestelling van sketse uit haar eie lewe. Sy vertel in haar skerp, humoristiese styl van Tant Beatrice wat gedurig aan haar onderklere verstel, en dan verontwaardig is omdat jy ‘n opmerking daaroor maak. Dan is daar die lewenslesse wat Dot geleer het, nadat sy die goedige Jood, Mr Abrams, se eie hoenders aan hom verkoop en haar pa se oordeel moes verduur.  Sy vertel van hul vakansietogte met die Chevvie-bakkie, vyf kinders wat wissel van doek tot tiener - vakansies deur die Kalahari en oor die top van die Sederberge na Wupperthal om die kinders die graf van Louis Leipoldt te wys, vir die geskiedkundige waarde daarvan. Dot vertel met smaak van die keer dat hulle, byna sonder kos op Kanoneiland stop om vars voorrade te koop, maar geen winkel meer te sien is nie. Die staaltjies is te veel om te beskryf.

 Dit is ‘n boek wat jy in jou handsak kan saamdra en lees terwyl jy êrens wag. Moenie verbaas wees as mense jou snaaks aankyk nie, want jy het heel waarskynlik hardop gegiggel. – Trudy Booyens

Bloedsusters 

Bloedsusters, Roelien Schutte en Eileen de Jager soos vertel aan Ilse Salzwedel (Lapa-Uitgewers, R160)

Hierdie nie-fiksiewerk oor twee susters wat misdaadtonele skoonmaak, is om verskeie redes ‘n moet-hê: Baie van ons weet seker nie dat so ‘n werk bestaan nie, dat dit boonop hoogs gespesialiseerd is en deeglike opleiding verg, of dat twee vroue dit doen.

Roelien Schutte en Eileen de Jager besit ‘n maatskappy met verskillende takke landwyd wat misdaadtonele opruim. 

Die boek is glad nie vir sensitiewe lesers nie. Maar, as jy vir die lees kans sien, sal jy gereeld dink, sjoe, dít het ek nie geweet nie.

Die tonele wat skoongemaak word, sluit onder meer in moord- en selfmoordtonele, huise van obsessiewe opgaarders en onwettige tuislaboratoriums waar dwelms vervaardig word.

Elke opruiming vereis spesifieke chemiese stowwe. Daarby moet die manier van doen aan streng wetlike vereistes voldoen.

Die vraag is: Hoekom doen die susters dit? Die antwoord is méér as “iemand moet”. Insiggewend is hoe hulle hul emosies hanteer, die rol van hul geloof, die belangrikheid van fisieke krag, asook hoe ‘n sin vir humor moeilike dae hanteerbaar maak.

Dis nie nét swaar leesstof nie. Nes Roelien en Eileen stres verlig deur te lag, glimlag die leser gereeld.

Mens leer dink anders oor dae soos Moedersdag wanneer die selfmoordsyfer styg. Stel jou voor: ‘n Ma wat verwerp word deur haar kinders of man en dalk op so ‘n dag alleen sit ...    

As jy van rillers/die misdaadgenre hou, is hierdie boek beslis vir jou. Besef net: Dis realiteit en dis erger.  - Riette Rust  

 Extremely loud & incredibly close

Extremely loud and incredibly close, Jonathan Safran Foer (Mariner Books, R138, 95)

'n Ongeëwenaarde juweel in soveel opsigte: die foto's, sketse en interessante tipografie vertel kleurryk 'n eie, oorspronklike storie.

Die hoofkarakter dink voortdurend nuwe patente uit, skryf vir Stephen Hawking, ontwerp juwele en haal Shakespeare aan, maar is te bang om sy pa se oproep te beantwoord - 'n besluit wat hom duur kos. Thomas Schell jnr. sterf in die 9/11-aanvalle, die verhaal is oneindig hartseer, en die naïewe vertelstyl is aangrypend op 'n manier wat jou asem steel.

Foer onderskei homself met dié onnabootsbare kragtoertjie oor drie geslagte waarvan die grootouers die oorlog in Dresden oorleef, met gepaardgaande verwonding, net om in Amerika opnuut swaar te kry. Die beste aspek van die pragtige roman, is die hoop waarmee dit die leser laat, ondanks die 'heavy boots' wat ons telkens saam met die negejarige Oskar beleef.

Beslis 'n buitengewoon luiddrugtige en ongelooflike ondervinding om dié ekstreme gebeure van naby te beleef.

Kreatiewe skryfwerk op sy beste!  - Mariette Postma

 History of a Pleasure Seeker

History of a Pleasure Seeker, Richard Mason (Weinfeld & Nicolson, R190)

Die plesiersoeker is ‘n ambisieuse jong man genaamd Piet Barol wat sy armsalige bestaan agterlaat om ‘n werk te aanvaar as tutor by die welgestelde Vermeulen-Sickerts. Piet se taak is om die sosiaal-wanaangepaste Egbert se vrese te besweer en hom weer in the samelewing te laat aanpas.

Die verhaal word geweef rondom the lewe van die Vermeulen-Sickerts en die bediendes wat vir hulle werk en in dieselfde huis woon.

Piet Barol ontwikkel ‘n diep respek vir Martin Vermeulen-Sickerts, die eienaar van onder meer suksesvolle hotelle oor die wêreld. Intussen ontwikkel ‘n fisieke verhouding tussen Piet en mevrou Vermeulen-Sickerts.

Wanneer Piet genoeg geld bymekaar geskraap het, klim hy op ‘n skip na Kaapstad sonder ‘n konkrete plan oor hoe hy vir eens en vir altyd van armoede gaan ontsnap. Op die skip loop hy sy voormalige kollega Dieder raak, wat op hom verlief raak en hom toegang tot die skip se eersteklas-plesiertjies bied. Dis ‘n baie ernstige oortreding om hier gevang te word as jy nie ‘n eersteklas-passasier is nie en wanneer Piet byna vasgetrek word, moet hy sy weldoener vergoed met ‘n homoseksuele ervaring. Die ervaring bied hom die geld om ‘n nuwe lewe in Kaapstad te begin, saam met Stacey, die skip se operasangeres.

Wanneer die skip in Kaapstad aanland, vergesel Stacey hom en hulle bespreek ‘n kamer in die Mount Nelson. Die boek eindig met ‘n To be continued. . .  

Dit is ligte ontspannende leesstof wat ‘n ywerige leser vinnig sal verslind.

Ek sien uit na die opvolg wat Piet se ervaringe verder neem in die Kaapkolonie in die vroeë 1900’s. Die skrywer is in Suid-Afrika gebore. -Nina-Lize Theunissen

 Night Road

Night Road, Kristin Hannah (Macmillan, R190,95)

’n Boek met te veel temas kan ’n leser maklik deurmekaar maak, en dié boek het beslis nie ’n tekort aan temas nie. Moet egter nie afgesit wees nie. Kristin Hannah kry dit reg om onderwerpe soos vriendskap, liefde, verwyt, en vergifnis op só 'n manier saam te weef dat jy, net soos ek, dit moeilik gaan vind om dié boek neer te sit. Drie vriende en ’n gesin se lewens verander dramaties ná ’n motorongeluk op Night Road, en ek het gevoel my eie hart breek saam met al die ander karakters s’n na dié tragedie. Ek het die karakters se pyn en hartseer op elke bladsy saam met hulle ervaar, en elke oorwinning en mislukking was ook nes my eie. Op tye kan een van die karakters, Lexi Baill, se besluite frustrerend wees en jy mag dalk net voel dat jy nie verder wil lees nie. Dit is wel die moeite werd om vas te byt om te sien hoe alles eindelik uitwerk. Aanhangers van Jodi Piccoult – wat ook haar skryfwerk om morele en etiese dilemmas sentreer – sal die boek geniet. – Liesl du Toit