As daar wilde diere is, nog beter. Hierdie week is ek baie opgewonde oor die boeke waarna ons kyk. Almal het diere as tema en behoort julle ook te inspireer.

Onthou om ons boekwinkel te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Diere: ‘n Ensiklopedie vir kinders (Human & Rousseau, R250)
Het ek my nou verlustig in hierdie boek! En ek is nie eers ‘n kinder nie! Waar was soortgelyke ensiklopedieë toe ek op skool was?

Die boek is visueel, ongelooflik maklik om te gebruik en werklik interessant geskryf. Dis kort, pittige brokkies wat jy vinnig kan inneem. Tog is dit baie volledig met gedeeltes oor die klassifikasie van diere, soogdiere, voëls, reptiele, amfibieë, visse en ongewerweldes. Daar is ‘n eenvoudige sleutel van simbole wat die diere se normale habitat, grootte in vergelyking met ‘n mens, lewensduur en bewaringstatus aandui. Al die gewone diere is daar en dan is daar die ongewones. Party van hulle se name het ek nou vir die eerste maal gehoor, soos doegong en manatee, hawik, goudmantella, doringwants en gelada. Die name is genoeg om my onmiddellik te laat blaai na die relevante bladsy en die foto te bekyk. Ek leer ‘n klomp nuwe dinge uit hierdie boek. Wat 'n wonderwêreld, perfek vir enige skoolgaande kinders wat die boek baie handig sal kan gebruik in hul skoolwerk.

Die Roofvoëlgids

Die Roofvoëlgids van Suider-Afrika, Ulrich Oberprieler, Burger Cillié (Game Parks Publishing, R245)
Die pragboek handel slegs oor die roofvoëls van Suider-Afrika en is in 5 afdelings verdeel. Die afdelings sluit in: algemene biologie, roofvoëlgroepe, spesiebeskrywing, verwarrende voëls en verwysings. Elke roofvoëlgroep, met sy onderskeie spesies, word op sy eie behandel en beskryf met bondige inligting oor afmetings, verspreiding, voorkeurhabitat, kos en status. Op bladsy 9 word die uitleg van die spesiebeskrywings bespreek. Pragtige, duidelik foto's illustreer die verskille tussen die volwasse, onvolwasse, mannetjie- en die wyfievoëls. Kleursketse en kleurfoto's beeld die voëls in vlug uit. Die afdeling oor verwarrende voëls lys die beskrywing asook die kenmerke van elke spesie puntsgewys vir maklike verwysing. Baie handig ook is die ou en nuwe "Robert-nommers" wat gegee word. Die boek is maklik verstaanbaar en gebruikersvriendelik. Beide beginners en gesoute voëlkykers sal die boek kan gebruik en geniet. Daar is ook ‘n Engelse weergawe, The Raptor Guide of Southern Africa. Dis beskikbaar by alle goeie boekwinkels, en kan ook direk bestel word van die uitgewer, Game Parks Publishing by info@gameparkspublishing.co.za

- Karien Labuschagne

Dangerous creatures of Africa Dangerous Creatures of Africa, Chris & Mathilde Stuart (Random House Struik, R 290)
Charles Darwin sê in The Descent of Man: "No country in the world abounds in a greater degree with dangerous beasts than southern Africa." Dié mooi boek bewys weer hoe waar Darwin se woorde was. Die vyf afdelings in die boek is: diere wat wond, giftige diere, diere wat giftig is om te eet, diere wat siektes veroorsaak en noodhulp in noodsituasies. Groot diere en reptiele, sowel as kleiner diere wat insekte en wurms insluit, word bespreek. In die afdeling oor diere wat siektes veroorsaak, word nie net die bekende siektes soos malaria, geelkoors, hondsdolheid en miltsiekte behandel nie. Maar ook die meer onbekende, tog belangrike siektes wat Kongo- en Slenkdal-koors insluit. Meeste van ons het seker al van die rolprent The Elephant Man gehoor, maar hoeveel van ons weet sy siekte is deur ‘n klein filaria-wurmpie veroorsaak. Na raming is ongeveer 120 miljoen mense in tropiese- en subtropiese Afrika geïnvekteer deur die parasiet. ‘n Kort beskrywing van elke siekte word gegee, met ‘n verspreidingskaart, simptome, behandeling en voorkoming. Die boek is propvol inligting en duidelik geïllustreer met pragtige kleurfoto's. ‘n Aanwins op enige boekrak. - Karien Labuschagne
Creative Bird Photography Creative Bird Photography, Bill Coster (New Holland, R220)
Bill Coster is ‘n voltydse natuurfotograaf wat oor die hele wêreld reis om landskappe, soogdiere, plante, insekte en natuurlik sy spesialiteit, voëls, af te neem. Hy sê self dis ‘n leefwyse, een waarvan hy maar net gedroom het as kind. Die droom het met toewyding en harde werk ‘n werklikheid geword. In hierdie inspirerende boek deel hy sy kennis van die baie gespesialiseerde voëlfotografie met lesers op ‘n praktiese, toeganklike en baie eenvoudige wyse - sonder om afbreuk te doen aan inspirasie. Dit wil gedoen wees. Dit help natuurlik as jy reeds ‘n fotograaf is en ‘n goeie basiese kennis van die tegniese aspekte van fotografie het. Hy verduidelik elke aspek van die proses aan die hand van sy eie foto's. Nie alleen kyk hy na die fotografiese proses nie, maar bespreek ook basiese toerusting en hoe jy foto's moet bêre. Die kreatiewe insette wat hy lewer, maak hierdie ‘n boek wat enige aspirerende voëlfotograaf moet aanskaf. Maar gesoute fotograwe kan ook iets by Coster leer. Prakties, handig en beslis ‘n goeie kopie.
In search of the African Wild Dog In Search of the African Wild Dog, Roger & Pat de la Harpe (Sunbird, R350)
Die De la Harpes is ou bekendes by natuurliefhebbers. Die vernuftige skrywer-en-fotograaf-span het al 19 natuurleweboeke op die rak. Hulle werk pryk ook gereeld in Africa Geographic, BBC Wildlife, Geo en National Geographic. Hierdie boek, sê hulle, was by verre die moeilikste van die lot. Bloot omdat wildehonde so moeilik is om te volg in die natuur - hulle is ontwykende sluipers en daar is ook baie min troppe honde oor. Die boek se ontstaan is te danke aan ‘n versoek wat hulle gekry het om vir Sasol te skryf oor die 2 troppe vrygelate wildehonde in die Madikwe Natuurreservaat, waarvan Sasol die borg was. Die honde kom oorspronklik van De Wildt Cheetah and Wildlife Centre en dié gedeelte sou bygewerk moes word. Maar toe word die boek ‘n omvattende dokument van al die bewaringareas in en om Suid-Afrika, want dis die enigste manier om die bedreigde diere se storie te vertel. ‘n Uitmuntende boek met ongelooflike goeie navorsing wat die geskiedenis van die wildehond en al die gebeure van die spesie uiteensit. En jy sal jou verlustig in die foto's. Dis van die mees kreatiewe natuurfoto's wat ek in in ‘n lang tyd gesien het. Volgens my mening, een van die top-boeke uit die stal van die De la Harpes. Besigtig meer van hul werk by:
www.africanimagery.com
www.oldcanvasexpeditions.com