Ons is in die buitelug hierdie week en kyk na ‘n stapeltjie boeke wat jou gaan help om ‘n klomp goed maklik-maklik onder die knie te kry. Wanneer ek as kind gekla het ek weet nie hoe om iets te doen nie het my ma altyd gesê: "Maar jy kan mos lees." Nou ja, hier's hy, lees en leer.


Kos uit die Tuin
, Jennifer Godbold-Simpson (Struik, R189,95)
Wat is lekkerder as om ‘n heerlike slaai te eet wat jy vars uit jou eie tuin gepluk het? As jy gedink het jy het nie groen vingers nie, dink weer. Hierdie boek is letterlik ‘n ABC tot groentetuinmaak in Suid-Afrika. Dit vat jou stap vir stap van die beplanning van ‘n groentetuin tot die keuse van waar die tuin moet wees (en waarom) tot klimaat, tot plantkeuses, peste en plae en nog baie meer. Selfs al het jy nog nooit voorheen ‘n groentetuin gemaak nie, sal jy met hierdie boek onder die arm die praktiese wenke tot jou beskikking hê om jou eie tuintjie aan te lê en weldra jou slaai uit die einste te pluk. Een van die nuttigste hoofstukke is die tuinkalender en die saaikaart, wat die planttyd vir groente in elke provinsie aandui. Sien julle later. Ek is op pad tuin toe.
Bestel by http://www.kalahari.net/sarie/default.aspx

Landscape Design

Landscape Design for the Home Owner, Lynton Johnson (Briza, R215)

Van groentetuin tot siertuin.

Lynton Johnson is al meer as 40 jaar bedrywig as ‘n landskapontwerper, skrywer, konsultant en lektor in landskapontwerp. Die boek word beskryf as ‘n maklike gids en dit is dit gewis. In eenvoudige terme verduidelik Johnson wat goeie ontwerp is, waaruit dit moet bestaan en dan gaan hy voort om al die komponente in verstaanbare begrippe te beskryf. Hy verduidelik hoe jy plante moet kies en dat jy prakties moet dink, aan instandhouding en koste en ook hoe goed plante aard onder sekere klimaatstoestande.

Hy sluit die boek af met ‘n lys van indringerplante om te help voorkom dat jy iets plant wat jy nie mag plant nie. Dan gee hy laastens ‘n lysie van nuttige kontakte en webwerwe waar jy verder kan kers opsteek.

Bestel by books@briza.co.za. of www.briza.com

Cool Hotels USA

Cool Hotels USA (teNeues, R329,95)
As jy gedink het ‘n hotel is ‘n hotel is 'n hotel, dink weer.

Elkeen in hierdie boek het ‘n unieke aspek wat dit ‘n cool hotel maak. Sommige het minimalistiese ontwerpersdekor, ander het elke denkbare elektroniese gadget waarmee jy jouself kan vermaak. Ander se badkamers het selfs reënstorte! Dan is daar die sogenaamde "groen" hotelle - uitstekende ontwerpe, maar hiper-omgewingsvriendelik. Daar is selfs ‘n hotel in Los Angeles waar gaste op die luuksedak langs die swembad kan kuier, terwyl hulle na die indrukwekkende geboue-horison kyk.

As jy daaraan dink om na Amerika te reis, sal jy belis ‘n hotel na jou smaak kan opspoor in hierdie gids.

Bestel by http://www.kalahari.net/sarie/default.aspx

Voëlgids

Volledige Fotografiese Gids: Voëls van Suider-Afrika, Ian Sinclair en Peter Ryan (Struik, R270)
As jy ‘n voëlkyker is, sal die boek jou baie opgewonde maak.

Nou het jy ‘n volledige fotografiese verwysing in volkleur van al die spesies in die Suider-Afrikaanse sub-streek. Elke spesie wat meer as een onderskeidende kenmerk het, word ook toegelig met meer foto's om identifikasie makliker te maak. Die gids is prakties en maklik om te gebruik.

Dis in tradisionele veldgidsformaat en het beknopte spesiebeskrywings teenoor die afbeeldings. Ek moet bieg ek vind dit moeilik om die voëls van sketse af te identifiseer. Hierdie boek sal beslis my dae in die veld makliker maak! ‘n Aanwins vir alle voëlkykers.

Bestel by http://www.kalahari.net/sarie/default.aspx

Wild Flowers

Field Guide to Wild Flowers of South Africa, John Manning (Struik, R220)
Of jy nou ‘n gesoute blomkyker is of ‘n beginner, die gids sal lekker te pas kom op jou staptogte. Dis maklik om te gebruik en beskryf en wys meer as 1 100 van die plantspesies in Suid-Afrika.

Die skrywer verduidelik ook hoe jy die gids moet gebruik, sodat jy vinnig by die regte plek kom om identifikasie van plante makliker te maak. Agterin is die volledige botaniese naamlys sowel as ‘n naamlys van die gewone name wat in die volksmond gebruik word.

Pak die boek eerste in, wanneer jy jou stapskoene aantrek.

Bestel by http://www.kalahari.net/sarie/default.aspx