Dis asof mens deesdae ‘n vinnige inskrywing op ‘n Facebookblad maak of ‘n kort boodskap twiet of ‘n skrapse e-posboodskap stuur. Waar is die dae waar jy vir ure aaneen kon gesels oor alles en nog wat, van aangesig tot aangesig. Waar ‘n lekker debat sommer oor dae kon strek. . . Natuurlik gee ‘n goeie algemene kennis jou altyd ‘n aanknopingspunt om ‘n gesprek te begin en argumente te motiveer. Ek is gek na inligting, of dit nou ‘n onderwerp is waarin ek belangstel of nie. Dalk kry ek dit nodig iewers op ‘n tyd waar ek in ‘n gesprek sit waar ek die onderwerp moet verander of moet bydra of wat ook al! Die week het ek boeke gekies wat daarop uit is om jou algemene kennis bietjie uit te brei.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse  aanlyn te bestel.

Afrika: Fiksie, Feit  of Fabel, Rob Marsh (LAPA, R170)

Afrika is ‘n fassinerende kontinent. In die boek bespreek Rob Marsh 166 van die vreemde gebeure, unieke mense en verbasende kulture wat Afrika uniek maak. Die boek neem jou op ‘n ontdekkingstog deur die kontinent. Verlore stede word ontdek en jy maak kennis met talle van die legendes en mites van Afrika. Wie is die reënkoniging? Bestaan die tokkelossie regtig? Het jy geweet dat Afrika sy eie Stonehenge het? Talle van die 78 wêrelderfenisgebiede word besoek. Afrika is bekend vir sy unieke fauna en flora en heelwat voorbeelde word bespreek.

Die inligting word in kort sketse weergegee wat jou lus maak om meer oor die onderwerp te gaan oplees. Dit is dus jammer dat daar nie verdere leeslyste gegee word nie. Daar kon meer aandag aan die uitleg van die boek gegee word en foto’s sou welkom gewees het. Die boek prikkel die belangstelling en laat jou besef dat Afrika nie hoef terug te staan vir Europa wat kultuur en geskiedenis aanbetref nie. –Gert Venter