Soms vang ek myself, wanneer ek eintlik iets anders moet doen, dat ek begin om in ‘n boek te blaai - net om bietjie te kyk - en dan raak ek so geboei deur die woorde dat die tyd my inhaal. Voor ek my kom kry, lê ek op die naat van my rug en lees!
Natuurlik skrik ek my boeglam as ek sien waar die tyd staan en het skuldgevoelens daaroor. Tot ek hierdie aanhaling deur die Britse skrywer William Hazlitt raakgelees het: "So het ek my lewe om geboemel: boeke lees, skilderye bekyk, toneelstukke gesien, geluister, gedink, geskryf oor waarvan ek die meeste gehou het. Net een ding het ek begeer: om gelukkig te wees, maar by gebrek daaraan het ek alles ontbeer." Dan raak die tyd om te boemel met boeke vir my eintlik ‘n voorreg, want dit gee my soveel vreugde!

Dié week het ek ‘n uiteenlopende paar boeke gekies, wat natuurlik oudergewoonte by ons elektroniese boekwinkel bestel kan word.

Padmaker, Christine Barkhuizen le Roux (Human & Rousseau, R195)
Twee maande na haar bejaarde ma se verdwyning volg Katrien die paaie van haar kinderjare terug na haar nomadiese verlede. Sy onderneem ‘n emosioneel uitmergelende reis na elke plek waar die geel padskrapers en die armoedige kampe haar gesin se tydelike verblyf was en hoop om sodoende haar verwytende, bitter ma beter te verstaan.
Soos Katrien se reis vorder, onthou sy al hoe meer van haar saggeaarde pa, ‘n padskraper-operateur, se wyse woorde aan haar. Sy verstaan ook beter hoe haar ma se verbete stryd teen die padkampe se armoede sy emosionele tol geëis het. In die woorde van Kinnie (Katrien se kindertroetelnaam): "Huis, paleis, pondok, varkhok - die kinders sê ons bly in bokse..."
Hierdie is Barkhuizen le Roux se eerste roman en die digter in haar kom telkens sterk na vore in die liriese prosa. Jy kan nie anders nie as om deur die verhaal te stoomroller tot die finale skokkende onthulling op die heel laaste bladsy. Dis ‘n deurleefde, sensitiewe roman wat beklemtoon: "Om te weet waarheen jy op pad is, moet ‘n mens onthou waar jy vandaan kom." - Lee-Ann Steenkamp

Soos &aposn birimankwe

Soos ‘n birimankwe, François Hugo (Malan Media, R135)
In Soos ‘n birimankwe vertel François Hugo van hoe hy as sendelingseun tydens die laat 1950's tot die vroeë 1960's in die eertydse Njassaland (tans Malawi) grootgeword het.

Dit is ‘n tydperk wat gekenmerk is deur sterk politieke woelinge en onderstrominge in Malawi. Die leefwyse van die sendelinge en die algemene lewensomstandighede word meesterlik uitgebeeld. Ons beleef saam met die gesin hul Kersvakansie by die Njassameer en reis saam met hulle per motor van Tete tot Kleinmond. Francois vertel van die "malman" wat ‘n stomp om sy nek moet dra en die Roomse paap op sy BSA-motorfiets.

Die verhaal eindig met sy vertrek na die suide vir groot skool. In kinderlike onskuld wonder die jong knaap oor groot vrae in die godsdiens en politiek. Vrae wat nie altyd maklike antwoorde het nie. Soos Dana Snyman dit op die agterblad stel: "Sy dom vrae is eintlik so slim dat hy mens baie laat lag en regtig lief maak vir hom."

Die boek gee ons op humoristiese wyse ‘n stukkie Afrika-geskiedenis. François Hugo is  tans hoof van menslike hulpbronne in die FirstRand-groep. - Gert Venter

Deception

 Deception, Jonathan Kellerman (Headline, R185)
Nog ‘n heerlike verhaal in Kellerman se Alex Delaware-reeks.

Speurder Milo Sturgis ondersoek die dood van Elise Freeman, ‘n onderwyseres by Windsor Prep Academy, ‘n ekslusiewe skool in Los Angeles. ‘n DVD word naby haar lyk gevind. In die DVD maak Freeman skokkende aantygings oor haar emosionele aftakeling en fisieke aanranding deur drie kollegas. Die insidente het glo oor ‘n tydperk van agtien maande gebeur.

Oudergewoonte wanneer iets vir Sturgis verdag voorkom, roep hy die hulp van kliniese sielkundige Alex Delaware in. Soos die ondersoek na Freeman se moord vorder, word verdere aantygings van verkragting, aanranding en selfs moord onthul. En nie net Freeman se kollegas nie, maar voormalige - en huidige - studente word by ‘n baie sinistêre komplot betrek. Milo en Alex se taak word verder bemoeilik deur een van die studente met politieke konneksies in die stadsraad. Die moordondersoek is ‘n politieke en sosiale tydbom wat enige oomblik kan ontplof.

'n Spannende moordverhaal wat ‘n moet is vir alle aanhangers van Kellerman. - Karien Labuschagne

Other people&aposs secrets

Other People's Secrets, Louise Candlish (Sphere, R125,95)
Die meesleurende, emosioneelbelaaide boek trek jou van die eerste bladsy in die verhaal van ‘n paartjie wat ‘n krisis beleef in.

Die verrassende ontknoping word gespaar vir die heel laaste bladsye van die boek. Tog boei die verhaal deurgaans.

Twee vroue anker die storie, die beproefde eggenote, Ginny Trustlove, wat in die greep van ‘n verwoestende verlies is, en die charismatiese Bea Sale, wat haar eie geheime het wat net-net onder die oppervlak van ‘n ooglopende perfekte lewe met ‘n glansryke en sjarmante gesin lê. Die wisselwerking tussen die Trustloves en die Sales (wat toevallig op dieselfde plek vakansie hou) en die indringer Zach is fassinerend. Die verhaal ontvou onvoorspelbaar.

Ek kon die boek nie neersit nie - jy sal dit in een sessie wil deurlees, want die verhaal gryp jou van begin tot einde. - Julia Boltt

Shades of blue Shades of Blue, Karen Kingsbury (Zondervan, R119,95)
Brad Cutler het alles wat 'n man kan begeer, 'n wonderlike loopbaan, ‘n voortreflike verloofde en 'n toekoms wat menige mens hom sal beny. Tog is daar swarigheid in sy gemoed, 'n donker geheim wat hy jare saam met hom dra. En dit staan nou in die pad van sy geluk.

Ons kan identifiseer met Brad se gevoel van "as ek maar net. . ." Die boek het baie fasette, maar vergifnis weef 'n fyn draad deur die verhaal. Vergifnis nie net vir ander nie, maar ook vir jouself - ons is almal menslik. Om nie net vas te kyk in die verlede nie, maar om ook die hede en toekoms raak te sien, en boweal te besef dat God 'n plek en plan het met elkeen se lewe.

'n Lekkerlees-verhaal sonder enige prekerigheid. Vir diegene wat nie Karen Kingsbury se werk ken nie - doen jouself die guns en lees een van haar boeke. Begin sommer met dié een. Selfs die erkennings en voorwoord is die moeite werd om te lees. - Erna du Toit