Die massa boeke wat oor hierdie onderwerp geskryf word en die tonne navorsing wat gedoen word oor klimaatsverandering is ‘n bewys daarvan. Verder is daar groot internasionale konferensies waar die aarde, die omgewing en die klimaat bespreek word. Dis duidelik dat daar ‘n groter bewustheid is om jou koolstof-voetspoor te verklein. Maatskappye word ook aangemoedig om dieselfde te doen. Alles ter wille van die mens en sy behoeftes. As daar nie water is nie, gaan ons nie oorleef nie. As ons nie gesonde kos kan produseer nie, gaan ons nie oorleef nie. As ons nie gesonde lug kan inasem nie, gaan ons nie oorleef nie. Ek besef dit klink of ek preek, maar ek het die afgelope tyd ‘n klomp boeke gelees (en stories in koerante raakgelees en dokumentêre programme op TV gesien) wat my amper in ‘n staat van paniek geplaas het. Gelukkig is ek ‘n koelkop mens en het besluit om maar eers die boeke mooi rustig te lees, voordat ek paniekerig raak. Die uiteinde is – ek is nie paniekerig nie, maar wel bekommerd. Dis duidelik dat elkeen van ons ‘n bydra sal moet maak om op ‘n manier te probeer om ons hulpbronne te beskerm. Maak nie saak hoe klein jou bydrae is nie. Dis ‘n begin. My keuse dié week is nie om paniek te saai nie, eerder om te help inlig en jou die geleentheid te gee om self te lees hoe jy dinge anders en ‘gesonder’ en groener kan doen.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahri.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Die Groen Strook, Michelle & Riaan Garforth-Venter (Lapa, R245)

Die boek is ‘n omgewingsbewustheidgids wat jou vertel hoe jy ‘groener’ en meer ekologies vriendelik kan leef. Dit begin met ‘n woordelys van terme wat alles te make het met ‘n groener leefstyl en die terme word uiteengesit en verduidelik. Die boek is gepak met kort stukke inligting oor alles wat die planeet en mense se leefstyl beïnvloed. Daar is hoofstukke oor afval en gemors, water, die lug wat ons inasem, die grond, die plante- en diereryk en die oseaan. Verder gee die skrywers wenke en voorstelle van wat jy kan doen om jou koolstof-voetspoor te verander en te verbeter. Hulle beklemtoon: Verminder, hergebruik, herwin en heroorweeg. Met ander woorde jy moet die patroon van hoe jy die hulpbronne benader, verander. Mors minder, spaar water, verminder lugbesoedeling, spaar krag en spaar geld deur te herwin. Jy moet jouself bedag maak daarop om bewustelik meer groen te lewe en te sorg dat jy ‘n bydrae maak tot die welstand van die omgewing. Die boek eindig met ‘n aanhaling van C.J. Langenhoven: “Berou is ‘n ewigdurende rente op ‘n skuld waarvan die kapitaal nooit vereffen kan word nie.” Laat mens dink. . .

 The Protein Crunch

The Protein Crunch, Jason Drew en David Lorimer (Print Matters Planet, R169,95)

Ek was benoud om hierdie boek te lees, want die sub-titel is: Civilisation on the brink. Ek het onmiddellik ‘n gevoel van desperaatheid en verlorenheid ervaar, want hier, lyk dit vir my,  is ‘n boek wat my gaan depressief maak. Toe nie! Die boek gaan wel oor ‘n baie ernstige onderwerp – die oorlewing van die mensdom in ‘n wêreld wat ‘n hele spul aanslagte sal moet afweer. Die aanslagte behels hoe die hulpbronne soos water, grond en oseane bestuur gaan word met betrekking tot bevolkingaanwas, en hoe hierdie mense almal gevoed gaan word en onderdak gaan hê. Jason Drew is ‘n sakeman en entrepeneur en hy bekyk aspekte vanuit ekonomiese oogpunte en dit wat hy sê in hierdie boek maak sin. Die hoofsaak waaroor die boek gaan, is die volgende: “As we add more and more people to our planet every day we have more and more demand for protein, yet the natural resources with which to create it are infinite. When more meets less, we face what we call the Protein Crunch. Our changing climate will bring forward the onset and increase the severity of the Protein Crunch.” Hy beklemtoon dat alles uiteindelik sal gaan oor die keuses wat gemaak word – hoe om besigheid te bedryf, hoe om landbou te bestuur, hoe om goedere te vervaardig, hoe om die hulpbronne aan te wend sodat dit nie uitgeput raak nie. Ek het gejok. Sy boek maak my tog ‘n bietjie benoud, want ek hoop die mense wat die groot besluite moet maak, gaan die regtes maak. Ek sal op my eie reeds probeer om groener te leef.

 Bending the Curve

Bending the Curve: Your guide to tackling climate change in South Africa, onder redaksie van Robert Zipplies (Africa Geographic,   R195,95)

Aardverwarming en klimaatsverandering is ‘n realiteit en elkeen moet sy deel doen om dit te bekamp. Die tyd vir aksie is nou. Dit is nutteloos om te argumenteer ek is net een mens, dis die regering se plig om iets te doen. Tensy elkeen van ons ’n bydrae lewer, hoe klein ook al, gaan daar geen aarde wees om vir die nageslag na te laat nie. Die boek gee ’n oorsig van wat aardverwarming is en hoe elkeen van ons ’n bydra kan maak. Elke hoofstuk is deur ‘n kenner geskryf. Daar is hoofstukke  oor onderwerpe soos: jou huis, ons kos, jy die onderwyser,  besigheid en, belangrikste, afval. Byvoorbeeld, in die hoofstuk wat handel oor jou huis word daar praktiese wenke gegee oor hoe jy krag en water kan bespaar. ’n Insiggewende boek vol feite en uitvoerbare voorstelle hoe om jou koolstof-voetspoor te verklein. – Karien Labuschagne

 When a Billion Chinese Jump

When a Billion Chinese Jump, Jonathan Watts (Faber and Faber, R162,95)

Een ding is seker, hierdie boek maak my bang. Watts is `n Britse omgewingskrywer vir die Guardian en skryf oor alles wat te make het met die omgewing. In 2009 was hy `n mede-wenner van `n omgewingstoekenning vir `n reeks artikels wat hy oor die globale voedselkrisis geskryf het. So, hierdie is `n joernalis wat deeglike navorsing doen oor sy onderwerp. Met hierdie boek is dit ook die geval. Hy skryf alles na aanleiding van reise wat hy onderneem het om self ondersoek te gaan instel oor die stand van sake ten opsigte van die omgewing en hulpbronne in China. Hoe kom hy aan die titel van die boek? As kind het hy gewonder oor die betekenis van `n biljoen. Toe verduidelik `n volwassene vir hom `As almal in China terselfdertyd spring, sal dit die aarde van sy as af skud en ons sal almal sterf.’ Dit is ’n skrikwekkende gedagte, maar is die beginpunt van sy boek om uit te vind presies hoe vooruitgang die omgewing in China beïnvloed. Reusagtig! Daar is erge ontbossing, water- en lugbesoedeling en die grond word benadeel met hoe hulle plant en oes. Verder is daar bouprojekte vir nuwe geboue, te veel om eers te kan visualiseer. Die nuwe vervaardigingskultuur en groeiende kapitalisme beïnvloed die mense en die kwaliteit van hul lewens daar. Party ten goede, maar op die lang duur almal ten slegte. Dis ’n boek waaraan jy lank gaan lees, maar een wat toonaangewend is oor dit wat in China gebeur. En natuurlik, wat daar gebeur het ’n effek op wat in die res van die wêreld gaan gebeur. . . en 'n biljoen mense is baie. Te veel vir my kop om te verstaan.

 The Universe Speaks

The Universe Speaks, Roar Sheppard (Kima Global Publishers, R219,95)

Jy moet ‘n baie oop gemoed hê om hierdie boek te lees. Dis vir mense wat esoteries is en wat heeltemal anders dink en doen as mense wat in die realiteit van die daaglikse glo. Die skrywer is ‘n eienaardige karakter en dis maklik om te dink hy is van lotjie getik. Hy beskryf homself as ‘n citizen of the universe en voer in hierdie boek gesprekke met byvoorbeeld Moeder Aarde, asook die Collective Unconscious. Dit alles klink baie hokus-pokus, maar as jy wel die gesprekke lees, besef jy daar is baie dieper waarde en waarhede daarin. Die aarde word bedreig en daar is reeds groot veranderinge aan weerpatrone, klimaat en dit het 'n impak op plante, diere en mense. In die gesprekke word al die sake bekyk en vrae gevra oor hoe sake anders bestuur kan word. Sy gevolgtrekking aan die einde van die boek is dat die aarde reeds besig is om te verander, of ons dit wil glo of nie, en dat ons op die ou einde self tot ons eie behoud sal moet bydra. Hy gee dan ook ‘n lys voorstelle van dinge wat gedoen kan word om die veranderinge makliker te maak. Vreemd is die boek wel, maar beslis insiggewend.