Gelukkig wanneer jy ‘n familie het wat sommer ook jou vriende is. Gelukkig as jy weet jy kan op hulle reken om jou te help wanneer jy ‘n helpende hand nodig het. Gelukkig as jy weet jy gaan ‘n trooswoord kry op daardie dag dat jy emosioneel weerloos voel.

Ongelukkig wanneer jy ‘n familie het wat onmin, ongelukkigheid en wroeging in jou lewe bring. Ongelukkig wanneer hulle probleme joune word. Ongelukkig wanneer jou besittings sommer hulle s’n word. Ongelukkig wanneer jy weet die las is vir ewig joune.

Die eienaardigste ding is, maak nie saak wat my verhouding met my familie is nie, ek bly mal daaroor om te lees oor families en familieverhoudings. Soms sny die verhale teen die been en ander kere slaak ek ‘n sug van verligting dat dié klomp in die verhaal nie my bloedmense is nie! Hierdie week het ek gaan soek vir boeke waarin familie sentraal in die verhaal staan. Hoop julle geniet dit.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel te besoek om van die boeke teen afslagpryse aanlyn te bestel.

Freedom, Jonathan Franzen (Fourth Estate Ltd, R180)

Min skrywers kan 'n familiesage so meesterlik vertel as Franzen. Hy trek die leser in, betrek haar by die narratief wat op die oppervlak handel oor 'n kleindorpse gemeenskap, maar op 'n dieper vlak oor mag en persoonlike vryheid gaan, die klein oortredinkies wat elkeen hulleself veroorloof. Wanneer die persoonlike vryheid van party karakters dié van ander bedreig in die sosiaal-realistiese verhaal, wanneer onbeperkte vryheid skeefloop, word woede en obsessiewe haat ontketen.

Die verhaal begin by die laat-70's en duur voort tot ons 21ste eeu met sy eiesoortige probleme. Helaas, ken die Berglunds ook ontevredenheid en teleurstelling, veral wanneer hulle 'goue' seun hulle openlik verneder. Franzen weef dié tapisserie van individue en hulle stryd om oorlewing in die samelewing van ons tyd meesleurend goed.

'n Menslike storie waarin jy jou leestande met mening kan slaan. – Mariëtte Postma

The Birds, the Bees and Other Secrets

The Birds, the Bees and Other Secrets, Frances Garrood (Pan Books, R105)

Hierdie is een van daai boeke wat jou laat kriewel oor die familiariteit van daardie ongemaklike familie-oomblikke wat ons almal al ervaar het met ons ouers.

Die boek wissel tussen die hede, waar Cassandra Fitzpatrick haar bejaarde ma in haar laaste dae verpleeg, en die verlede - haar hoogs onortodokse kinderjare.

Terwyl Cassandra die naderende dood van haar ma in die oë staar, herevalueer en herwaardeer sy die ervaringe – party wonderlik, ander vernietigend – van haar kinderjare wat haar gevorm het as volwassene.

Dis ‘n aandoenlike, soms hartverskeurende boek en ‘n wonderlike boekklub-boek wat uittroon bo die gewone chic lit-voer! – Julia Boltt

Breaking Night

Breaking Night, Liz  Murray(Century, R195)
Dit is die ware en inspirerende verhaal van Liz Murray wat in die Bronx, New York, saam met haar ouer suster, Lisa, en haar dwelmverslaafde en werklose ouers grootword.

Peter en Jean is mekaar en hul kinders se ondergang. Hulle leef in uiterste verval en armoede. Die halfblinde Jean, ’n skisofreen, se welsyntjek word net so bestee aan dwelms. Vigs word by Jean gediagnoseer en op 15 neem Liz haar toevlug tot die strate. Sy slaap soms skelm in vriende se kamers, maar is hoofsaaklik op straat en steel kos om aan die lewe te bly.

Jean se dood ’n jaar later is ’n keerpunt vir Liz. Sy besef met geen opleiding of enige vooruitsig van ’n werk of blyplek nie, sal sy dieselfde paadjie loop as haar ouers. Hoewel  sy steeds op straat bly, voltooi sy haar skoolopleiding met onderskeiding en kry ’n beurs om aan die Harvard-universiteit te studeer.

Liz se verhaal sal jou lank bybly. - Liesel Pienaar

A Secret Kept

A Secret Kept,  Tatiana de Rosnay (Pan Books, R195)

'n Meesterlik vertelde gesinsage wat jou aandag opeis, en lank na die lees nog in jou kop draai.

Dis 'n storie oor 'n broer en suster wat saam uitreik na hulle kinderdae deur 'n naweek op Nourmoitier-eiland deur te bring. Mélanie verloor beheer oor die voertuig wanneer sy vir Antoine iets wil vertel wat haar ontstel het.

Die roman bekoor met 'n tipiese emosioneel afsydige familie wat 'skandalige' inligting van die kinders weghou. Die karakters is oortuigend en eg, van die trotse Franse ouma, hulle pa wat stug oorkom, tot by die kinders se romantiese herinnerings aan hulle ma, Clarisse, met haar donker geheim wat mettertyd ontknoop word. – Mariette Postma

The Pattern in the Carpet

The Pattern in the Carpet, Margaret Drabble (Penguin Group (SA), R320)

'n Heerlike, verfrissende boek. Dis asof jy met 'n ou vriendin, wat jy lanklaas gesien het, sit en gesels. Onwillekeurig herken jy van die karakters as iemand in jou eie lewe. 

Vandat Drabble die legkaart begin bou, vertel sy van haar lewe en die mense wat in- en uitbeweeg in haar lewe. Tussenin vertel sy die geskiedenis van die legkaart. Sy bou haar storie ook soos ‘n legkaart. Sy skryf oor haar tante Phyllis en hulle onwaarskynlike vriendskap.

Al is die legkaart deurmekaar wanneer sy begin, pas al die blokkies uiteindelik  in mekaar. Die storie is ook maar deurmekaar, maar die skryfster boei met haar vertellings en trek jou onwillekeurig in die boek in.

Wees voorbereid, as jy begin lees, gaan jy nie maklik die boek neersit nie. – Trudy Booyens