Los Donkies, H.S. van Blerk (Protea Boekhuis, R130)
Die heruitgawe van Van Blerk se boek gee ons die uitsonderlike voorreg om 'n klompie houtryers te ontmoet, mense wat tydens die Depressiejare hul bestaan gemaak het met die aanry van hout uit die Bosveld na die delwerye in Barkly-Wes. Van Blerk vertel van die goeie mense en die minder goeies, hul drome, hul ideale. Daar is heelwat humor, maar die lag gaan gepaard met groot deernis vir dié klompie sukkelaars se stryd om 'n lewe te maak onder ongenaakbare omstandighede. - Gert Venter

Etienne Leroux

Die 18-44 Trilogie: 18-44, Isis Isis Isis, Na'va,  Etienne Leroux (Human & Rousseau, R244)
'n Heruitgawe van Leroux se beroemde trilogie. Die verteller in al drie verhale is die 44-jarige "knolskrywer". Sy korrespondensie met 'n agttienjarige kunsstudent, die onbekende mej. X, vorm die basis van 18-44. In Isis, Isis, Isis reis die knolskrywer na Europa, ontmoet 'n klomp vroue en probeer om die stukke van die verminkte Osiris bymekaar te bring. (Die verhaal se wegspringplek is die mitologiese Egiptiese Isis se soektog na die lyk van Osiris.) Die laaste roman, Na'va, gaan oor die selfmoord van die knolskrywer se nefie en die lang begrafnisfees daarna. Besoek www.humanrousseau.com vir meer.

Fanie se vuurdoop

Fanie se vuurdoop, P.J. Schoeman (Protea Boekhuis, R100)
Dié laaste boek in die Fanie-trilogie speel af tydens die Anglo-Boereoorlog. Fanie gaan saam met sy pa op kommando. Hy word gou die leier van die Pendorings en moet saam met sy makkers met die Engelse patrollies afreken. En natuurlik is daar 'n nooi, of eintlik sommer twee nooiens tussen wie hy moet kies.  Een is 'n Engelse meisie wie se pa 'n Kakie-majoor is, en dan Soekie, die sagte Boeremeisie. Liefde en oorlog is nie kinderspeletjies nie. Die ander twee boeke in die reeks is Fanie se veldskooldae en Fanie word grootwildjagter. Besoek www.proteboekhuis.co.za vir meer.

Armmansdogter

Dans met armmansdogter, Pamela Jooste (Umuzi, R184)
Dié roman speel af in die sestigerjare rondom die beplande sloping van Distrik Ses. Gloria Daniels is die armmansdogter, wat getry het for white en Distrik Ses verlaat het. Met die dreigende uitsettings kom sy terug en vryf heelparty mense, asook die amptenare in beheer van die sloping, verkeerd op. Sy kom ook in konflik met Lily, die twaalfjarige verteller. 'n Menslike verhaal met humor en baie emosie. Oorspronklik uitgegee as Dance With a Poor Man's Daughter, in Afrikaans vertaal deur Linda Rode. Besoek www.umuzi-randomhouse.co.za vir meer.

Pieternella

Pieternella, Daughter of Eve, Dalene Matthee (Penguin, R190)
Dié historiese roman is gebaseer op gebeure in die vroeë dae van die eerste blanke nedersetting aan die Kaap. Pieternella is van die eerste afstammelinge van gemengde herkoms wat in daardie tyd gebore is. Ná Eva, Pieternella se ma, se skielike dood word sy en haar broer na die strafkolonie Mauritius gestuur om as slawe vir "voogouers" te werk. Matthee vertel Eva se verhaal op 'n boeiende manier wat lewe gee aan dié wrede geskiedenis. Sy het drie jaar se intensiewe navorsing gedoen uit ou geskrifte, dagboeke en geskiedkundige rekords om dié merkwaardige verhaal te vertel. Oorspronklik uitgegee as Pieternella van die Kaap (Tafelberg), in Engels vertaal deur Malcolm Hacksley. Besoek www.penguinbooks.co.za vir meer.