Die afgelope tyd het ‘n hele klompie nuwe speurverhale die lig gesien uit die pen van Suid-Afrikaanse skrywers soos Mike Nicol, Jacques Pauw en Chris Karsten. Wat hierdie verhale besonders maak, is dat almal in ‘n Suid-Afrikaanse milieu afspeel en daarom jou aandag as leser baie sterker trek. Sulke verhale bly altyd gewild en dit is asof ons nie genoeg kan kry van die donker sy van die lewe wat aan ons opgedis word nie. Ek glo die hope TV-programme oor forensiese patologie dra by tot die gewildheid van hierdie soort verhale. Hopelik is ons geïnteresseerd omdat ons net nuuskierig is oor hoe iemand met kriminele neigings se kop werk! Hoop julle geniet die week se keuse.

Onthou om ons boekwinkel te besoek om van die titels aanlyn te bestel.

Killer Country, Mike Nicol (Umuzi, R170)
Hierdie verhaal is soos ‘n harde vuishou in die maag. Dit tref ekstra hard, want die verhaal speel hom af in ons eie agterplaas. Nicol is ‘n Suid-Afrikaanse joernalis en skrywer wat duidelik sy onderwerp - misdaad - baie goed ken. Hy skryf gestroop, sonder tierlantyntjies en omhaal van woorde, sodat die kern van die gebeure uittroon. En boonop trap hy nie katvoet rond om polities korrek te probeer skryf nie. Misdaad ken geen kleur nie en ook geen grense nie en daarom is Nicol se verhaal in die tyd waarin ons leef, totaal geloofwaardig. Mace Bishop en Pylon Buso is vennote in ‘n sekuriteitsfirma, maar hulle is ook besig met ander eiendomontwikkelingstransaksies. Hulle word genader deur regter Telman Visser wat van hul sekuriteitsdienste gebruik wil maak, want Obed Chocho, wat deur Telman tronk toe gestuur is, gaan op parool vrygelaat word. Maar nou is Telman die een wat ‘n vorm teken vir Chocho se ontslag! Tussen Chocho en Telman se doen en late is daar ‘n paar kinkels wat ‘n direkte uitwerking op die lewens van Bishop en Buso het. Gooi nou by hierdie spulletjie Chocho se baie mooi regsverteenwoordiger, Sheemina February, en die gekultiveerde hitman, Spitz, dan broei daar nog so 'n klompie ander kinkels uit. Die storie speel teen ‘n vinnige pas af en mens lees die boek in een sitting deur. Jy kan nie anders nie, want die gebeure is fassinerend en jy wil uitvind wat die konneksie nou eintlik is tussen Telman, Chocho, February en Bishop. Hierdie is die tweede boek in Nicol se trilogie, waarvan Payback, die eerste was. Ek kan nie wag vir die volgende boek nie. (Amper vergeet ek van die bonus agterin Killer Country - die speellys van musiek waarna Spitz geluister het!)

Truth Truth, Peter Temple (Quercus, R209,95)
Inspekteur Stephen Villani is nou nie wat mens in konvensionele terme ‘n held sou noem nie. Hy is ‘n ontroue eggenoot, het skuldgevoelens teenoor sy kind, het ‘n disfunksionele verhouding met sy eie pa en broers en het boonop een van sy kollegas in die polisie gehelp om ‘n skietery toe te smeer en af te maak as selfverdediging. Nou is hy die inspekteur wat ‘n uiters vreemde moord moet ondersoek. ‘n Jong vrou word dood aangetref in die badkamer van ‘n baie luukse nuwe wooneenheid. Daar is nie veel op die toneel om hom in sy ondersoek te help nie. Die vrou se klere is weg, die eienaars van die gebou is onopspoorbaar. Orals word deure in sy gesig toegeklap met die ondersoek en hy sukkel om al die drade bymekaar te trek. Om als te kroon vermoed hy die kollega wat hy met die toesmeerdery van die skietery gehelp het, is betrokke by hierdie moord. Terselfdertyd probeer hy om sy pa se eiendom te red van die dreigende veldbrande wat rondom die stad (Melbourne) woed. Villani moet by die waarheid uitkom, oor die saak en oor homself en die proses is ‘n langsame een. Ek is mal oor Temple se Jack Irish-reeks en het in die begin van die boek getwyfel of Temple met hierdie boek my sou beïndruk. Maar ek is aangenaam verras en ek hoop van harte dat Stephen Villani weer in die toekoms sal opduik in ‘n nuwe boek.
Seisoen van sonde Seisoen van Sonde, Chris Karsten, (Human & Rousseau, R180)
Op die Saterdagoggend van Paasnaweek, na ‘n hewige storm, kom twee oesterplukkers af op die lyk van ‘n blonde vrou. Sy is vasgebind aan ‘n paal op die strand by Platbank naby Swartvlei in die Wildernis-area van die Wes-Kaap. Die volgende oggend word nog ‘n liggaam ontdek - dié keer deur ‘n groep ekotoeriste wat by Langvlei gaan stap. Dit is die lyk van ‘n man wat kop eerste in die modder van die vlei geplant is. Die polisie besef hulle het met ‘n reeksmoordenaar te doen, toe die nadoodse ondersoeke toon dat beide slagoffers op dieselfde manier vermoor is. Vra jy vir Jack, die moordenaar, waarom, sal hy jou antwoord dat dit in opdrag van sy meester Minos is. Hy weet nie hoe en waarom die mense gekies is nie en gee ook nie om nie, hy voer slegs opdragte uit en het vrye teuels oor hoe hy dit doen. Wim, ‘n skoenlapperboer van Wildernis, en sy assistent, Portis, is ook op Jack se teikenlys. Wat is Wim en Portis se konneksie met Jack, Minos en ‘n geheime staatsprojek uit die Apartheidsjare, genaamd Antenor? ‘n Lekkerleesboek vol intrige. - Karien Labuschagne
Little Ice Cream Boy Little Ice Cream Boy, Jacques Pauw (Penguin Group (SA), R190)
Gideon Goosen, veroordeelde moordenaar en bendeleier, dien drie termyne van lewenslange tronkstraf in Pretoria Sentraal Gevangenis uit. Sy verhaal speel af tydens die laaste jare van apartheid. Watter omstandighede het aanleiding gegee dat die seun van ‘n bekroonde veiligheidspolisieman in ‘n monster ontaard het? Sy ma, Maria, hou ‘n foto van Gideon, haar klein ‘ice cream boy' met twee roomyse in sy hand op die strand by Margate, langs haar bed as herinnering van hom as ‘n klein seuntjie. Maria blameer slegte vriende vir sy verval en Gideon self meen dis die dag toe hy ‘n anti-apartheidsaktivis in sy eie oprit doodgeskiet het wat aanleiding gegee het tot sy verval. Wie is reg, of is dit eerder ‘n sameloop van omstandighede? Sy kinderjare was allesbehalwe gelukkig met ‘n alkoholis-pa wat sy vrou en kinders geslaan het. Omstandighede het in ‘n stadium so versleg dat sy jonger broer, Pieter, kort voor sy 13de verjaarsdag selfmoord pleeg. Na Pieter se dood raak Gideon betrokke by ‘n bende wat winkeldiefstal pleeg. Ná skool sluit Gideon by die polisie aan, maar steeds bly hy betrokke by kriminele aktiwiteite wat moord, diamantsmokkelary, dwelmhandel en selfs prostitusie insluit. Dis ‘n donker verhaal wat die slegste kant van die lewe vertel en hoe maklik die hoofkarakter homself vergeld het in misdaad. Pauw is ‘n ondersoekende joernalis wat baie gewerk het met die onthullings van die sogenaamde death squads gedurende die apartheidsjare. - Karien Labuschagne
Genesis Genesis, Karin Slaughter (Century, R215)
Drie en ‘n half jaar ná die moord op haar man, Jeffrey Tolliver (sheriff van Grant County), is Sara Linton terug in Atlanta waar sy haar loopbaan as mediese dokter begin het. Sy probeer die skerwe van haar lewe weer aanmekaar plak, maar dan word ‘n jong vrou ná ‘n motorongeluk na die ongevalle -afdeling van die hospitaal waar Sara werk, gebring. Ou herinneringe en gevoelens word herroep, wanneer dit duidelik word dat die jong vrou eers misbruik en gemartel is voor die ongeluk. Sara span kragte saam met Will Trent en sy kollega Faith Mitchell om die saak op te los. Wanneer Will die ongelukstoneel besoek en toevallig op die martelkamer in die bosse afkom, besef hulle sy was nie die eerste òf enigste slagoffer nie. Met een slagoffer kritiek in die hospitaal en ‘n ander een dood blyk dit hulle het met ‘n reeksmoordenaar te doen, wat sy slagoffers ontvoer en martel. Sal hulle betyds wees om te voorkom dat nog slagoffers ontvoer word? Sara, Will en Faith sukkel ook met persoonlike probleme en geheime. In die spannende speurverhaal vol verassings kombineer Slaughter twee van haar vorige reekse met groot sukses. - Karien Labuschagne