Hierdie week se keuse is gemik op lekkerlees boeke vir jouself of, as jy nog haastig ‘n geskenk vir ‘n boekwurm soek, kyk gerus deur die hopie. Een wat my opgewonde het, is Kerneels Breytenbach se eerste volwaardige roman in 18 jaar, Piekniek by Hangklip. Breytenbach kan ‘n storie lekker vertel en dit lyk my ek sal maar my beursie moet oopmaak vir dié een! ‘n Ander gunstelingskrywer is Deon Meyer en sy nuutste boek het ook nie teleurgestel nie. Ek het hier weer ‘n uiteenlopende klomp boeke gekies, en daar is nie ‘n tema wat hulle saambind nie, behalwe dat almal lekkerlees-verhale is.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Piekniek by Hangklip, Kerneels Breytenbach (Human & Rousseau, R220)

Ons moes 18 jaar wag vir die nuwe roman van Breytenbach. Dit vertel die verhaal van Joshua Gumbo en Sonja Griessel. Tydens ‘n kaping in Johannesburg skiet Joshua, ‘n lid van die Lucky Thirteen-sindikaat, per ongeluk Sonja se ouers dood. Sonja struikel uit die voertuig en plant per ongeluk ‘n soen op die kaper se mond. Joshua glo dat die soen hom van sy mojo beroof het. Hy probeer om sy mojo aan te vul met die moorde op meer as 34 mense wat hy van geen kant af ken nie. Sonja verhuis na Pringlebaai waar sy ‘n nuwe lewe begin en ‘n nuwe huis in Bettysbaai beplan en bou. Ons maak kennis met onbetroubare prokureurs, eiendomsagente, boukontrakteurs, vertrouenswendelaars, charismatiese kerkleiers, swartbemagtingsaktiviste, ‘n Afrikaanse literêre biograaf en vele ander interessante karakters. Sonja en Joshua se paaie kruis weer by die dak-natmaak, Piekniek by Hangklip, van haar nuwe huis. Breytenbach het ‘n unieke skryfstyl en dié is ‘n lywige roman wat lekker lees. Dit was beslis die wag werd. – Gert Venter

7 Dae 

7 Dae, Deon Meyer (Human & Rousseau, R225)

Hiert, vat so Deon! ‘n Heerlike verhaal met Bennie Griessel in die hoofrol. Hanneke Sloet is 40 dae gelede vermoor en daar was nou nie juis leidrade wat kon lei tot die inhegtenisneming van ‘n moordenaar nie. Die saak is heel deeglik ondersoek, maar is nou koud en die dossier lê nou by daai plek waar onopgeloste moorde maar land. Ewe skielik is daar ‘n verwikkeling. Die polisie kry dreigbriewe oor hierdie Hanneke Sloet-saak, en boonop word daar à la die dreigbrief ‘n polisieman geskiet. Wie is die skieter en wat is sy belang by hierdie saak? Wie word ingeroep om hierdie situasie te kom oplos? Niemand anders as Bennie Griessel nie. En hy doen dit alles in net 7 dae. Daar is darem vir hom nog ‘n paar ander klein goedjies in die pad gelê om sy aandag effe af te trek van die oplos van Hanneke Sloet se moord en die skietery op sy mede-kollegas. Hy het soort van ‘n verhouding met die sangeres Alexa Barnard en dan moet hy nog kophou met sy seun en dogter se sake ook. Oudergewoonte skep Meyer weer ‘n meesleurende verhaal met ‘n vinnige tempo en lekker karakters uit sy vorige boeke duik ook weer op. – Phyllis Green

* Die boek is op Exclusives se Wishlist.

 The Leopard

The Leopard, Jo Nesbo (Random House Struik, R215)
Na die drama en tragedie wat hom in The Snowman (die vorige boek in die reeks) afgespeel het, vlug inspekteur Harry Hole na Hongkong. Daar probeer hy sy sorge verdrink en bedwelm. Hy word egter genader om terug te keer na Oslo, Swede, om te help met die ondersoek van twee jong meisies wat raaiselagtig vermoor is. Die polisie vind geen verbintenis tussen die slagoffers nie, behalwe die wyse waarop hulle vermoor is. Harry is teensinnig, maar die owerhede in Swede speel egter ‘n troefkaart. Sy vader is ernstig siek en dis moontlik dat hy sy siekte nie gaan oorleef nie. Harry stem toe maar in om terug te kom, maar met die intrapslag bevind hy homself in opposisie met Kriptos (Krimpolisisentralen) wat die saak wil oorneem. ‘n Derde slagoffer word gevind, maar omdat die modus operandi verskil, wil Kriptos en Harry se mede-offisiere nie glo dié moord hou verband met die vorige twee nie. Dan ontdek Harry al die slagoffers het saam tyd by ‘n afgeleë berghut bestee. Stelselmatig  word die ander mense wat by die hut was een vir een vermoor. Harry jaag teen tyd om die moordenaar te vind en die saak op te los. ‘n Boeiende speurverhaal. – Karien Labuschagne

 Fallen

Fallen, Karin Slaughter (Random House Struik, R215)
Faith Mitchell van die GBI (Georgia Bureau of Investigation) kom ná ‘n kursus by haar ma, Evelyn, se huis aan om haar babadogter op te laai. Tot haar skok vind sy ‘n bloedspoor wat na die voordeur lei. Haar baba is in ‘n stoorkamer toegesluit en haar ma is nêrens te vinde nie. In plaas daarvan om vir die polisie te wag vir ondersteuning, gaan sy die huis binne. Daar vind sy ‘n dooie man op die kombuisvloer. Daar is nog twee mans in die slaapkamer en skote word uitgeruil. Will Trent, Faith se vennoot by die GBI, word gevra om die ondersoek na Evelyn se verdwyning te lei. Will was voorheen betrokke in ‘n korrupsie-ondersoek teen Evelyn,  maar die saak is later laat vaar. Evelyn is tog daarna op vroeë pensioen geplaas. Het Evelyn se verdwyning te doene met die korrupsie-ondersoek teen haar, en is sy ontvoer? Maar as sy is, hoekom word geen losprys geëis nie? Dis van die vrae waarmee Will spook. ‘n Opwindende speurverhaal vol intrige en verrassings. – Karien Labuschagne

 Love Virtually

Love Virtually, Daniel Glattauer, (Maclehose Press, R144,95)

Emmi en Leo het van hul eerste ontmoeting ’n onmisbare chemistry. Maar die verhouding is nie liefde met die eerste oogopslag nie, want dié twee ontmoet mekaar toevallig per e-pos. Die hele boek is in ’n e-pos-formaat geskryf, en is aanvanklik iets om aan gewoond te raak. Moenie laat dít jou afsit nie. Soos jy verder lees, word jy by die virtuele verhouding ingetrek, en dis asof jy die derde wiel in dié tweetjies se aanlyn-flirtasie word. Die verhouding stuur egter van die begin op ’n ramp af. Emmi is reeds getroud met haar musiekonderwyser wat twee kinders uit ’n vorige huwelik het. Haar aanlyn-gesprekke met Leo laat haar vir die eerste keer besef dat sy iets mis in haar lewe – ’n intieme konneksie met iemand. Hoewel jy van die eerste paar e-posse al weet dat dié verhouding nie verder as die rekenaarskerm kan gaan nie, bly jy steeds hoop vir ’n gelukkige einde vir almal. Maar met al die gekompliseerde verhoudings in beide Emmi en Leo se lewens, is só ’n einde onmoontlik.  – Liesl du Toit

 Veilige hawe

Veilige Hawe, Irma Joubert  (LAPA,  R99,95)

Vonkpos vir die hart - Liezl het haar man verloor, maar daar kom ’n tyd dat mens wel gereed is om aan te gaan met die lewe, al voel dit nie altyd so nie. Pieter kan die vonk tussen hom en Liezl nie weerstaan nie, maar is ná die moord op sy gesin te bang om aan te gaan – om weer te probeer. Gaan die ander man wat Liezl se pad kruis haar begeerte na Pieter laat verflou en die pad na haar hart wen? Lekker om te lees tot die einde.

‘n Beskermengel vir Marlene – Marlene, weduwee op drie en twintig, is grootgemaak deur ‘n kritiese pa wat haar geleer het dat vrouens maklik goedkoop kan wees, en dat mans nie vertou kan word nie. Na die dood van haar man besluit sy egter om die lewe self aan te pak en nie na haar pa terug te gaan soos hy verwag nie. Ná Adolf se opwagting in haar lewe begin die son weer vir haar skyn. Gaan die verlede ‘n wig tussen hulle indryf of wink daar geluk vir haar in die toekoms?

‘n Boek waarin mens jou lekker kan inlewe. - Erna du Toit

 Fallout

Fallout, Sue Rabie  (Human & Rousseau, R185)

Fallout is ‘n lekkerlees-spanningsverhaal. Die drama begin wanneer David Roth in die middel van die nag uit sy huis ontvoer word. Hy word gedwing om te help soek na sy oom, Julian Harper. Twee regeringsgroepe is egter betrokke en kort voor lank is David op vlug vir sy lewe van beide die groepe. Iewers is iemand besig om met verrykte uraan te smokkel en dit beteken dat groot geld betrokke is. Wie kan vertrou word? En wat is die rol wat sy oom speel? Die verhaal speel af in Durban en Swaziland en bevat al die elemente van ‘n moderne vinnig vloeiende spanningsverhaal wat boei tot op die laaste bladsy. Jy bly wonder wie eintlik die skurke is en of David en sy oom gaan oorleef. Rabie is ‘n departmentshoof en bibliotekaresse by ‘n privaat seunskool in Pietermaritzburg. Fallout is haar derde boek. Beide haar vorige boeke het in aanmerking gekom vir die Gemenebes-prys vir die beste eerste boek en die beste boek in Afrika onderskeidelik. – Gert Venter

 Only time will tell

Only Time Will Tell, Jeffrey Archer (Macmillan, R225,95)
Dis die eerste boek in Jeffrey Archer se nuwe sage oor die Clifton- en Barrington-families. Die een familie is skatryk en die ander brandarm. Harry Clifton word groot in die agterstrate van Bristol, maar sy potensiaal word gou raakgesien. Só doen sy ma, Maisie Clifton, alles in haar vermoë om seker te maak dat Harry die beste skoolopleiding moontlik kry. Die dood van Harry se pa is omhul deur misterie. Maar is Arthur Clifton regtig Harry se pa? Sy ma het ’n skelm verhouding met ’n ander man gehad kort voor haar troue ... Die waarheid kom jare later na vore met verwoestende gevolge. Afgesien van al die slaggate in Harry se pad maak hy tog ’n sukses van sy lewe en word aanvaar deur die gesogte Oxford-universiteit. Na ’n jaar by Oxford breek oorlog uit, en nadat sy troue deur ’n skokkende onthulling afgestel word, sluit Harry as ’n bemanningslid aan op ’n skip bestem vir Kuba. Die skip word egter gesink deur ’n torpedo en Harry neem die naam van ’n gestorwe bemanningslid oor met onverwagte en skokkende gevolge. - Esmé Blackburn

 Agter die skerms - Take Three

Agter die skerms: Take Three en Take Four, Karen Kingsbury, Lux Verbi (R139,95 elk)

In Take Three begin Keith en Chase ’n rolprent-vervaardigingsmaatskappy, Jeremiah Productions, ná hulle terugkeer as sendelinge saam met hul onderskeie gesinne uit Indonesië. Dis hulle droom om Christelike flieks in die baie omstrede Los Angeles te vervaardig, en só mense geestelik te raak en in aanraking te bring met die Woord. Dié droom is nie een wat maklik bereik word nie. Daar gebeur deurlopend dinge wat altwee gesinne onkant vang, maar wat deur volgehoue gebed – een van die sterkste temas in beide boeke – vir almal ten goede uitwerk. Tussendeur speel daar in Take Four ’n ligte liefdesverhaal af tussen die karakters Bailey Flanigan en Cody Coleman. Bailey moet egter twee keer haar liefde afstaan weens Cody se persoonlike omstandighede. Dis duidelik in beide boeke dat daar vir elke besluit wat jy maak ’n definitiewe gevolg is, en of dit positief óf negatief uitdraai, dat alles uiteindelik in plek val. Lekker ligte Christelike leesstof wat maklik lees. – Jenny du Toit

 The particular sadness of lemon cake

The Particular Sadness of Lemon Cake, Aimee Bender (Windmill, R195)

Met die lees van Bender se nuutst, spring ’n mens se gedagtes dadelik na Laura Esquivel se Like Water for Chocolate. In dié roman word Esquivel se uitgangspunt egter omgekeer; met elke happie kos wat die negejarige Rose eet, ervaar sy die verborge emosies van die persoon wat dit gemaak het.

Hierdie ongevraagde vermoë kompliseer Rose se lewe, want skielik ontdek sy ’n hele paar geheime wat agter die oënskynlike gemoedelikheid van haar gesin se voorstedelike bestaan wegkruip. Spoedig word voedsel gevaarlik; enige dis het die potensiaal om nóg ’n stukkie van die legkaart te openbaar en dit veroorsaak dat Rose haar aan die genadige anonimiteit van kitskos oorgee. Maar eendag deel sy ’n snytjie roosterbrood met haar broer – en kom tot haar skok agter dat hy ’n veel vreemder gawe besit.

Bender se treffende karakterbeskrywings, fyn hantering van stemming en verrassende einde maak dié komplekse verhaal ’n boeiende leeservaring. – Emsie Viljoen

 What the night knows

What the Night Knows, Dean R Koontz (Harper Collins Publisher, R180) 
Die Lucas-familie word wreed vermoor. Die enigste oorlewende lid, die 14-jarige Billy, beken skuld op die moorde. Speurder John Calvino ondervra Billy by die hospitaal, waar hy gehou word vir observasie. Die wyse waarop die moorde gepleeg is, lui ‘n klokkie by Calvino. Die moorde herinner hom aan dié wat sowat 20 jaar gelede deur die reeksmoordenaar Alton Turner gepleeg is. Turner is deur Calvino doodgemaak kort ná hy Calvino se ouers en susters vermoor het. Dit is moontlik dat Billy ‘n ‘copycat’ moordenaar is, maar John se instink sê vir hom dis nie so nie en dat Turner die sleutel tot die moorde is. Sy kollegas glo hom nie en wanneer Billy op onverklaarbare wyse sterf, begin Calvino in homself twyfel. Die moorde stop egter nie met Billy se dood nie en Calvino bevind homself in ‘n resies teen tyd om die raaisel op te los en nog moorde te keer. ‘n Verrassende moordverhaal met ‘n bonatuurlike twist. – Karien Labuschagne