Of jy nou lees vir inspirasie of net om te ontspan, daar is altyd ’n storie wat jou behoefte vervul. Dié week het ek gekies uit verhale wat op ware gebeure gebaseer is, ander wat sorg vir geestelike pitkos en nog ander wat net vir die lekker is.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Die pad na Skuilhoek, Hans du Plessis (LAPA, R160)

Die historiese roman speel in die omgewing van Potchefstroom af tydens die Groot Trek. Die verhaal begin waar die Matebeles ’n groepie Voortrekkers, wat deel van die Potgieter-trek was, uitmoor. Net drie jongmense, Lourens Botha, Petronel van Rensburg en Vryheid oorleef die slagting. Dis die begin van Petronel en Lourens se liefde. ’n Liefde wat eers ses jaar later, ná vele terugslae, tot sy reg kom wanneer Lourens ten einde laaste die plaas Skuilhoek bekom.

Dit is ’n fyn liefdesvertelling en terselfdertyd ’n spannende pioniersverhaal. Die Trekkerspad is die agtergrond waarteen die gebeure afspeel en gee ’n totaal nuwe blik op dié deel van die geskiedenis. Ons leer ken die Trekkers as ware mense. Hulle het ook maar hul foute gehad en sou nie skroom om mekaar vir eie gewin te bedrieg nie. Al is die hoofkarakters fiktief, is die gebeure op die werklikheid gegrond. Du Plessis skryf al sedert 1978 en het verskeie digbundels en romans op sy kerfstok. – Gert Venter

 Eersgeborene - Omnibus 1

Eersgeborene – Omnibus 1, Roem & Om te vergewe, Karen Kingsbury (CUM, R129,95)

Hierdie boek laat jou besef dat ware geluk nie in roem of rykdom lê nie, maar in vriende en jou geloof in God. 

In Roem moet Dayne Matthews, Hollywood se hartebreker en ’n gesogte akteur, dringend ’n aktrise vir sy nuwe romantiese komedie “Dream on” vind.  Die beeld van ’n gesig wat hom ’n jaar gelede betower het, spook by hom. Katy werk aan ’n toneelstuk by die Christen-kinderteater (CKT) by ’n  gemeenskapskerk. Dis Katy se droom en haar passie. Sal sy bereid wees om dit op te offer vir roem en haar onverwagte liefde vir Dayne?  Intussen word Dayne deur ’n onstabiele bewonderaar geteister wat ook Katy se lewe bedreig. ’n Noodlottige motor ongeluk waarin twee kindertjies van Katy se CKT-groep oorlede is, ruk Katy en die hele gemeenskap. Die ouers en ander kinders van die CKT-groep is geknak deur die smart in hul harte. Sal hulle vergifnis vind? Dis ’n tyd waarin almal swaar steun op Katy. 

In Om te vergewe leer Katy ons hoe belangrik vergifnis is. Ashley ontdek haar oorlede moeder se brieweboks. Die inhoud hiervan het ingrypende gevolge vir die Baxter- familie asook vir Dayne. Dayne het onlangs eers uitgevind hy is aangeneem by geboorte – van hier die naam “Eersgeborene”. Sal Dayne ooit die vrede vind wat hy so graag wil hê? Wanneer sal Dayne uitvind van die briewe en hoe gaan hy en die Baxter-familie dit hanteer?

Hou die sneesdoekies byderhand, want hierdie verhaal praat met jou en raak ’n mens se diepste emosies.  – Ronel Taljaard

 Memoirs of a Bitch

Memoirs of a Bitch,  Francesca Petrizzo (Quercus, R114,95)

 ’n Storie uit die klassieke geskiedenis van die Grieke en Romeine, vir diegene wat glo in ware liefde. Dis die verhaal van Helena van Troje, die vrou wie se gesig beroemd is omdat dit volgens legende ‘n 1 000 skepe te water kon laat.

Een van die bekendste oorloë van alle tye is deur haar veroorsaak, maar sy het haar eie lief en leed beleef. Mens raak betrokke by haar verlies, verraad, vrees maar tog ook hoop. Helena het alles prysgegee ter wille van die een man wat sy liefgehad het. Die legende word in die loop van hierdie boek ‘n ware vrou van vlees en bloed.

Al die bekende karakters uit die klassieke geskiedenis maak ‘n draai in die vertelling. Lewe word geblaas in die stowwerige, dog bekende karakters uit handboeke, soos Ulysses, Kastor en Pollux. – Mariette Postma

 Madeleine

Madeleine, Kate McCann (Bantam Press, R250)
Dis die verhaal van die Britse dogtertjie Madeleine McCann wat ontvoer is terwyl die McCann-gesin in Portugal vakansie gehou het. Sy was drie jaar oud toe dit gebeur het. Op 3 Mei 2007 het sy spoorloos verdwyn en word steeds vermis.
Kate, haar ma het dié hartverskeurende verslag geskryf oor hoe haar kind se ontvoering haar en haar man, Gerry, se lewens geraak het. Eers was daar die onbeholpenheid van die polisie en hul eie magteloosheid om die wiele aan die rol te sit om hul geliefde dogtertjie op te spoor. Verkeerde inligting het gelei tot allerhande valse berigte wat in die koerante verskyn het tot hulle later self verdink en beskuldig was vir hul kind se verdwyning.
Die pyn en lyding wat hierdie ouers deurgemaak het en nog altyd deurmaak, is onbeskyflik. Die soektog na Maddy het hul lewens so drasties verander, maar terwyl daar nog hoop is sal hulle nie tou opgooi nie.
Dis ’n boeiende verhaal wat ’n mens opnuut laat besef hoe broos die lewe eintlik is. – Chris Botha

 A Heart for Freedom

A Heart for Freedom, Chai Ling (Tyndale House, R211,95)

Protesaksies teen die Chinese regering het in 1989 in Beijing begin by ’n groep studente en uitgeloop op die slagting van honderde mense op en rondom die Tiananmen -plein. Chai Ling was op 23 jaar die leier van die studente-aksie. Dié is haar storie: van haar streng opvoeding as oudste dogter van twee militêre dokters, haar betrokkenheid by die opstande, deur haar maande as vlugteling en die uitdagings van haar nuwe lewe in die VSA, tot die stigting van All Girls Allowed, wat hulle bemoei met die menseregtevergrype van China se eenkind-beleid. ’n Aangrypende verhaal van diskriminasie, onderdrukking, deursettingsvermoë en spirituele ontwaking. – Ilse van Staden

 Celebrity Shopper

Celebrity Shopper, Carmen Reid (Bantam Press, R195)

Annie Valentine is 'n persoonlike aankoper vir "The Store" in Londen. Sy moet deurentyd op hoogte bly met die nuutste modes en haar kliënte uitrus met klere en bykomstighede wat hul figure en persoonlikhede pas.

Met ’n gelukskoot word sy die aanbieder van haar eie televisieprogram, How not to shop

Annie het 2 kinders uit 'n vorige huwelik, Lana en Owen. Hul pa, Rodney, het ná ’n fratsongeluk gesterf. Sy is nou al jare in ’n vaste verhouding met Ed, by wie sy ’n tweeling, Michael en Minette, het. Haar TV-program raak al gewilder en dinge by die huis raak al hoe moeiliker. Die kinders is ’n handvol en boonop is hulle besig met verbouings aan die huis. Fern, Annie se ma, kom bly vir 'n onbepaalde tyd in die kelderwoonstel. Haar lang verlore pa maak sy opwagting om boete te doen oor die foute wat in die verlede gemaak het. Dis vir Annie een te veel. Sy is steeds kwaad omdat hy sy familie jare gelede in die steek gelaat het en stel nie belang om ’n verhouding met hom op te bou nie.

Haar goeie vriendin, Svetlana, is skatryk en reeds 3 keer getroud. Svetlana begin ’n klerereeks waarin Shirley belê. Die twee boesemvriendinne ervaar ’n paar opwindende gebeurtenisse.

Hierdie boek is 'n baie goeie kandidaat vir ’n lekker "girlie"- TV-sitkom. – Jenny du Toit

 New York to Dallas

New York to Dallas, JD Robb (Piatkus, R207,95)
Luitenant Eve Dallas van die New Yorkse polisie het reeds 12 jaar ondervinding in moord-ondersoeke. Eve se hede en verlede bots wanneer Isaac McQueen uit die tronk ontsnap. In die begin van haar loopbaan het haar eerste ondersoek (kort nadat sy uit die Akademie gekom het) haar met McQueen in kontak gebring. As onervare lid van die polisie is sy en haar mentor die taak gegee om van deur tot deur te gaan om moontlike getuies van ’n roof te vind. Eve se taak was om op die boonste vloer van deur tot deur inligting te vra. Sy het aan McQueen se deur geklop en ontdek dat hy ’n pedofiel en reeksmoordenaar is. Met sy ontsnapping is McQueen vasberade om hom op Eve te wreek. Wanneer McQueen een van sy vorige slagoffers ontvoer, lei die ondersoek Eve van New York tot in Dallas. Dis waar sy as getraumatiseerde agtjarige gevind was. Tydens die huidige ondersoek vind sy meer uit oor haar verlede. Dis ’n uitstekende speurverhaal vol verrassings.– Karien Labuschagne

 This Way Up

This Way Up, Paige Nick, (Penguin, R117,95)

Dié verhaal handel oor twee vroue se lewens. Stella is ongelukkig met haar werk. Haar droom is om ’n gerekende joernalis te wees. Nou moet sy mense se seksprobleme oplos onder die skuilnaam Dr Dee. Wanneer ’n posisie as artikelskrywer uiteindelik by haar werk oopgaan, kry iemand anders die werk.

Dis maar net die begin van haar probleme. Sy is teleurgesteld en bel haar man, Max, om hom daarvan te vertel. Sy vertel egter ’n wit leuntjie wat haar hele wêreld omver gooi. 

Jy kry ook te doen met Poppy. Sy is opsoek na opwinding en reis saam met haar beste vriend, Buck, na plekke soos Amerika, Indië, Duitsland en Frankryk. Vir dié meisie van Hermanus maak ’n nuwe wêreld oop, en sy kry meer uit haar reise as wat sy ooit verwag het.

Om die heeltyd tussen Stella se lewe in die Kaap en Poppy se reis oorsee rond te spring is aanvanklik moeilik. As jy egter dié struikelblok kan oorkom is This Way Up die perfekte boek om buite by die swembad te lees terwyl jy die laaste dae van somer geniet. – Liesl du Toit

 The Lazarus Funeral Parlour

The Lazarus Funeral Parlour, Pamela Oberem (Random House Struik, R180)
Dominee Donges, van die NG gemeente op Nylsdorp, verwyl sy dae met die voorbereiding van sy Sondagpreek en om uit die pad van die ‘koeksusters’ te bly. Dis nou die dames van die gemeente wat sy vrou, Hetta, daagliks bystaan. Hetta is besig om te herstel ná ’n operasie en die dames het ewe vrywillig aangebied om haar te help met dinge soos koekbak, blommerangskik en tee maak. Met die koms van die karavaan van die ‘Mobile Church of the Holistic Christ’, onder leiding van die charismatiese ‘Reverend Grant’ verander alles. Wonderwerke soos die genesing van siekes en verlamdes wat weer kan loop is algemene gebeurtenisse tydens Grant se preke. Dan maak Grant ‘n begrafnisonderneming oop waar daar opstandings plaasvind. Om sake te vererger ontvang van Donges se gemeentelede dreigbriewe omdat hulle kwansuis nie morele standaarde handhaaf nie. Al dié gebeure laat Donges besef hy sal moet optree teen Grant en sy swendelary, al het hy nie bewyse nie. ’n Ligte, humoristiese boek, maar tog met ’n sterk morele inslag. – Karien Labuschagne

 Rainmaker

Rainmaker, Don Pinnock (Jacana, R121,95)

Ky word groot in Bonteheuwel, waar bendegeweld en dwelms deel van sy daaglikse lewe uitmaak. Tydens ’n bendegeveg wond hy die leier van ’n ander bende en besef dat hy nou in die moeilikheid is. ’n Skoolvriendin se pa sien iets in Ky waarvan hy self nie eers bewus is nie en help hom om na die berge toe te vlug. Daar word hy toevertrou aan die sorg van Zimry, ’n San-veldwagter wat in ’n primitiewe hut ver van die beskawing woon. By Zimry leer dié stadskind van die ou San-gebruike en stadigaan begin Ky sy roeping vind.

Hierdie boekie is pragtig geskryf en vertel die storie van Ky se verwarring en uiteindelike aanvaarding van sy lot met soveel oortuiging dat dit moeilik is om te glo dat dit ’n fiktiewe werk is. – Retha Burger