Dis omdat ons elke dag, elke uur, soos sweefstokkunstenaars tussen minstens drie tale tuimel en swaai, grypend na woorde, enige woorde, wat deur almal in die geselskap verstaan sal word. Dis nie luiheid of slordigheid nie. Inteendeel. Dit kos oefening en toewyding om so tussen tale te vlieg. Om nie aanmekaar met ’n mond vol tande op jou agterwêreld te beland nie.

Wanneer ek en my man alleen is (wat bitter min gebeur, met al ons kinders en kuiergaste), praat ons Frans-Engels. Let wel, nie Frans óf Engels nie, maar so ’n mengelmoes, wat Frengels genoem kan word. Ek begin gewoonlik my frases in Frans, omdat ek beleef wil wees en sy taal behoorlik wil leer praat, maar sodra ek vashaak, slaan ek oor na Engels. Amper soos wanneer jy vinnig van rat verwissel om te keer dat ’n kar tot stilstand ruk. Die Franse deel van my brein bly nou eenmaal ’n sukkelende tjor wat frustrerend dikwels dreig om te stol of die spoor byster te raak.

My man volg dieselfde resep, net andersom. Begin in Engels, uit ordentlikheid teenoor sy vrou, maar slaan aanmekaar oor na sy ma se taal.

Dit lei tot gesprekke wat min of meer só klink: Je vais acheter minced meat. (Ek gaan maalvleis koop.) Please pass me un torchon. (Gee asseblief vir my ’n vadoek aan.)

Wanneer sy seuns in die geselskap is, of sy kollegas of die meeste van ons bure, moet ek noodgedwonge heelpad in ’n Franse rat ry. Gevolglik is die Franse Magiethe, soos ek hier genoem word, meestal minder spraaksaam as die Boere-Marita. Misterieus soos Garbo, dis die beeld wat ek graag sou wou skep. Maar sodra die gesprek rêrig interessant word, vergeet ek van my Garbo-pretensies en klets lustig saam in vrot Frans.

Alleen saam met my eie kinders praat ek Afrikaans - hoewel hulle my dikwels in Frans antwoord. Maak nie saak nie, ek het hulle nog nooit gedwing om my taal te praat nie, en dis dalk juis waarom hulle dit uitstekend praat terwyl vele van my ekspatriaat-vriende se kinders (en selfs party wat steeds in Suid-Afrika woon) nie meer Afrikaans praat nie. Solank hulle dit verstáán, dis vir my belangrik, sodat hulle nie afgesny word van hul Afrikaanse wortels nie.

My geheime wapen was nog altyd slaaptydstories. As jy vir jou kinders saans stories lees en vertel in die taal van jou hart, sal daardie taal ongetwyfeld ook ’n paadjie na hul harte uittrap. Jy skep ’n ritueel van liefde en geborgenheid wat altyd ’n aangename herinnering bly, ’n warmte om die hart wat onvermydelik ook die taal van die ritueel insluit.

Toe Mia gebore is, het ek en haar pa gedog ons gaan eenvoudig elkeen ons eie taal met haar praat, soos die kenners ’n mens aanraai om te doen, en dan sal sy sommer tjoef-tjaf sonder enige verwarring twee tale gelyk leer praat. Binne ’n maand het ons besef die werklikheid is soos gewoonlik meer ingewikkeld as enige kenner se teorie. Hierdie metode werk net as albei ouers mekaar se taal verstaan. Elke keer as ek Afrikaans met my babadogter gepraat het, het ek haar pa by die gesprek uitgedruk.

Dis waarom ek steeds Afrikaans met haar praat as ons alleen is, of as haar broer by is, maar nie as haar pa of haar Franse broers ook by is nie. Of anders sê ek ’n sin in Afrikaans vir haar en Daniel, en vertaal dit dadelik in Engels én Frans vir die ander gesinslede. ’n Erg omslagtige manier om te kommunikeer, maar wie het nou ooit gesê enigiets is maklik in ’n Toring van Babel?

Babel, ja, want Daniel neem ook Spaans op skool, soos Thomas voor hom, terwyl Hugo en Mia Italiaans as derde skooltaal gekies het. Op laerskool was Daniel boonop gedwing om ’n ruk lank Duits te neem, omdat hy beter Engels gepraat het as die juffrou wat vir hulle Engels moes leer. En op hoërskool het hy ’n jaar lank Japannees geleer. Sommer net vir die sommer.

Want één ding wat ’n veeltalige huis jou leer, glo my gerus, is dat dit vet pret kan wees om baie tale te praat.