’n Paar werwers van fotograwe het ook daar aangekom, vriendelik meelewend, en wou weet of ek dalk my foto wil laat neem. Amper soos die Turk wat aangebied het om ons in Istanboel die Blou Moskee te gaan wys, en gevra het of ons dalk ook by sy matte-winkel ’n draai wou maak.

Maar by die munisipale kantore was geen matte en Turkse koffie nie. Tog het ’n vriendelike, fyn vrou ons aanwysings gegee. Terwyl sy beduie, het ’n paar ander voor my probeer indruk met hul eie vrae. “Vriendelike vrou” het gesê sy sou ons gou die kantoor gaan wys. Toe ons groet en dankie sê, voeg sy by: “Sterkte, met daardie toue ...”

Dit was ’n eufemisme. ’n Mensemassa wat die hele homo sapiens-spesie verteenwoordig, het ingedruk gestaan, een ou glo al van die vorige dag af. Ek neem aan hy het darem gaan slaap, iewers. Die eerste tou is vir oogtoetse. Gelukkig is ons aangeraai om ’n sertifikaat by ’n oogkundige te kry, wat die toets oorbodig gemaak en die proses baie vergemaklik het. Maar nogtans, met láááánk staan en sit, is ons vingerafdrukke geneem, vorms ingevul, en het ons gewag dat die spulletjie aan mekaar gekram word om verder verwys te word na die tou vir die cashier.

Dit was die tweede skrik, want hierdie tou het die lang gang vol gestaan. Die groot toets vir jou bestuursvernuf, wil dit voorkom, is jou uithouvermoë om die cashier se hokkie te bereik. Ek het gaan loer en gesien daar is vier kassiere, of liewer, daar is veronderstel om vier kassiere te wees. Twee was aan diens. By ’n leë venster het gestaan: Machine out of order. By die ander: Sorry, our systems are slow. Agter ons het ’n paartjie gestaan wat, soos ons, duidelik nie ingenome was met die gewag nie, en hulle het maar, soos nog ander, vir eers die aftog geblaas. Ek het weer gaan loer en gesien hoe die een kassier haar goed pak en ’n vir die ander een sê sy gaan nou eers lunch.

Ek het by myself gemor oor hoekom ek nie nóg iemand saamgebring het wat solank kon plek hou in die tweede tou terwyl ek by die oogtoets/foto’s/vingerafdruk-mense moes verby nie. Maar die ander mense in die tou (sommige wat gesit en ander wat half gelê het en nog ander wat gedemp gesels het), was ’n hele Ingmar Bergman-film werd.

As ek my spookfoto’s moet glo, sou ek vir die ligte vermaak in die film gesorg het. Op een deur was ’n soort spieël en toe ek myself daarin bekyk en dit in my gedagte met die seuntjie-foto van my eerste rybewys vergelyk, het ek gewonder hoekom tyd so vinnig verbygaan, maar toue altyd stadiger en stadiger tot feitlike stilstand beweeg. Kan ons lewensjare nie maar ’n tou vir rybewyse word nie?

Toe ons uiteindelik tweede van die cashier af was, het ’n beampte sonder verskoning ’n paar jong bestuurders voor ons ingedruk. Ek het beswaar gemaak en hy het sy skouers opgetrek. My rybewys sê dus twee dinge: Ek mag ’n motor bestuur en ek het deeglike kennis van toustaan. En die nodige uithouvermoë.

Dit laat my dink aan die storie van die boervrou-tante in die Wes-Transvaal wat die dominee ingewag het nadat hy oor “plig” gepreek het, en hom pront gesê het: “As ek voor die hemelpoort staan en moet hoor ek moet binne gaan kosmaak vir die miljoene, draai ek net daar om!”

Ook nie altyd so maklik om om te draai nie. Vanweë die bou van die Gautrein waaroor party so hoog opgee (een begeesterde vrou skryf in ’n klein pamfletjie almal sal glo lekker ry, eiendomspryse in die buurt van stasies sal verdubbel, dis net woeps na Pretoria ... Ons kan al selfs soos ape na die reuse-gate in die grond gaan kyk!), moes ons ná die rybewys-gedoente weens die padverleggings in ’n verkeersknoop toustaan. Behoorlik aan alle kante vasgetrek.

Tog gelukkig dat ons nie voor God hoef tou te staan nie. Hy hoor ons aan waar ons is. En Hy help ons waar ons staan, ook in ’n tou vir jou rybewys.