Destyds toe die Engelse regering Engels as enigste voertaal wou vestig, het die versiende ds. G.W.A. van der Lingen van die Paarl die skool uit sy eie sak laat bou met die voorbehoud dat net in Hollands (later Afrikaans) gedoseer mag word. Geen wonder nie dat hierdie skool, met onderwysers soos ds. S.J. du Toit en Arnoldus Pannevis ’n groot rol sou speel in die vestiging van geskrewe Afrikaans en die Eerste Taalbeweging.

Dis ’n ryk tradisie. Oor hierdie skool het ’n gemeente geskeur (sekere lidmate in die 19de eeu wou Gimnasium prysgee, maar ander het vasgebyt om die skool te red) en die beroemde Toringkerk het vir die afgestigte gemeente tot stand gekom. En wanneer ek by die skool se ou hoofgebou met sy Egiptiese simbole in Hoofstraat verbyry, roep stemme uit die verre verlede: Ek stáán nog, maar waar staan julle?

Vir my was die aandoenlikste om Paarl Gim se feesjaar met die groot erediens in te lui in die imposante Toringkerk. Stemme van vandag, gister en môre het gelyk in my gedagtes gepraat soos kore wat mekaar antwoord, byna soos in die Bybel se groot tempel. Op pad kerk toe - my kind het bestuur - het ek vir laas nog dit alles probeer verwerk.

Soos ’n mens groei en ouer word, óntgroei jy baie dinge. Maar die meeste van ons ontgroei nooit ons kinderdae nie: Jou huis, jou dorp, jou skool, jou ouers - wie en wat hulle ookal mag gewees het. Die vrou in wie se gastehuis ons gebly het, het lakoniek opgemerk: “Net jammer jy was in die verkeerde skool.” Mense raak nogal heftig oor skole in daardie geweste. Geen wonder nie, want die skole daar is almal goed en tradisieryk.

Maar - noem my gerus kinderagtig - ek het my op die plek vervies vir die vrou, al het sy dit dalk as humor beskou (dit het nie so oorgekom nie). Ek sê nie my skool is of was die beste of “reg” of “verkeerd” nie, maar ek was dáár en Gimnasium is deel van my vesel, van my opvoeding, deel van wie ek ís en waaraan ek nie kan ontsnap nie. Die skool het ’n te groot positiewe “tjap” op my lewe en denke geplaas.

Gim is nie meer die skool wat ek geken het nie. Die ou hoofgebou huisves nou die laerskool (Klein Gim) en die moderne hoërskool is op ’n pragtige terrein, met groot sportvelde wat opstrek na die berg. Dis ook nou ’n “gemengde” skool, met pragtige meisies wat in my dae ontbreek het. Maar die gees is nog presies dieselfde.

Dit het ek aangevoel toe ek op die preekstoel gekom het en die stampvol kerk (meer as 1 900 mense), oud-Gimmies van heinde en ver en die leerlinge van vandag in die beroemde rooi, geel en groen skooldrag, voor my sien. Daar was elektrisiteit in die kerk, ’n soort opgewondenheid en die “kore” in my gemoed het gesing dat ek weer tuis is, kind is, deel is van ’n grootse tradisie.

Aan die einde, ná die seën, het ek gevra dat die Gimmies en oud-Gimmies agterbly. Opvallend min mense het geloop. Toe het ons die skoollied gesing. My agterkleinneef (ds.) Deon Rossouw het agterna bely hy kon nie sing nie weens die knop in sy keel. En ná die skoollied wou die Gimmies nie die kerk verlaat nie. Hulle het bly sing en sing: Iets wat ek nooit sal vergeet nie.

Mense en dinge en instansies kan moderniseer en veranderinge aanbring om met die tyd tred te hou, maar tradisie, dit wat opgebou is deur geslagte en eeue, is onvervangbaar. Dit het my hoop gegee daardie Sondagoggend toe ek weer soos ’n kind op Gim kon voel, hoop vir môre en oormôre. As tradisies leef, sal geloof bly leef, en instansies en kulture.

Uiteindelik het ek die kerkgebou verlaat en die hoofingang van die ou skool oorkant Hoofstraat gesien met die skoolwapen: ’n son in rooi, groen en goud. Met die leuse: Sol Justitiae Illustra Nos - son van geregtigheid bestraal ons!

Mag dit so wees vir ons almal, jonk en oud. Altyd ’n son in kleure, die Son van geregtigheid oor ons. Dan is die toekoms . . . nie so donker nie.