Deesdae kom ek agter dat ek al hoe minder my opwagting maak met die tradisionele bottel wyn of bos blomme, maar byna altyd ’n drumpel betree met ’n varsgebakte bydrae onder ’n kombuisdoek. Die kanse dat nog ’n samekoms rampspoedig gaan eindig sonder nagereg is net te groot. Wat is ’n huis sonder ’n moeder? vra die mensdom gereeld. Net so ’n ramp soos ’n huis sonder poeding, hoor my lied.

Waar kom my verwagting (ek verkies hartstog) vandaan? Dink ek terug, is daar ’n duidelike prentjie, een waarvan ek al voorheen vertel het. Tydens my laerskooldae het ons ’n paar jaar op Porterville gewoon. Al wat ek nog kan onthou, is die Hanekoms se saagmeule, die biblioteek-tannie wat altyd gehoes het as ek in die rigting van die grootmensboeke begin dwaal het, die vreemde melkwinkeltjie in die middel van die dorp en Ant Suzie en Ant Kit se huisie om die hoek.

Dié huisie het teen die straat gestaan met ’n koue, klein sementstoepie en toe hortjies. Binne was dit altyd skemer, soos ’n spooktonnel by ’n kermis. Daar was donker meubels met letsels wat net tydens die Groot Trek opgedoen kon wees en sifdeure om die dorp se enigste vlieg buite te hou. Om die waarheid te sê, hierdie plekkie kon die nagmerries van enige kwesbare kind tot en met puberteit aan die gang hou, maar dit was allesbehalwe die geval. Daar was ’n permanente reuk van vars meel, uitgerolde deeg en elke ander bestanddeel wat nodig is vir ’n vrolike saamtrek.

En die prentjie wat my ewig sal bybly: die houttafel in die kombuis, altyd reeds gedek vir die volgende maaltyd, met ’n geborduurde net bo-oor. En by elke bord, ’n lepel vir nagereg. Winter of somer, droogte of vloed, siekbed of kwaal, daar was altyd nagereg. Dit was ondenkbaar dat die geringste maal sonder blydskap in ’n bak sou eindig.

So sit ek voet op my lewenspad, oortuig dat niks ooit my spoed sal breek nie en dat elke ramp of beproewing oorkombaar is, want elke dag is daar ’n lekkerte wat wag. En hoe dit begin het, sal ek nie weet nie, maar skielik word ek oorval deur rampe soos gasvroue wat sê: Ek maak nie eintlik nagereg nie, iemand vir roomys? Ek word gestuit deur gaste wat sê: Ek het nou nie juis ’n soettand nie. (Eet jy ’n perske oor sy goddelike smaak of oor hy soet is?) En dan is daar my doodskoot: O, nee, dankie, ek is darem nou te vol. (En waar’t jy geleer eet?)

Nagereg is die slot van ’n goeie verhaal, die afronding van ’n gebalanseerde koservaring, die klimaks van ’n feesviering, dis die bevestiging dat elke dag uniek en belangrik is. Dis die bederf van jou beste vriende en jou geliefdes. Dis die verwelkoming van ’n nuweling aan jou tafel of jou boesem. Dis die kroon van nog ’n oes wat hierdie aarde en hierdie vrugbare land ons gee. Dis die unieke kuns wat ’n bekwame sjef beoefen of die eenvoudige plesier wat ’n huiskok met sy gaste deel.

Die einde van ’n maaltyd is nie ’n loperige brousel vol suiker, dertig jaar terug se cholesterol-ontploffing of die gevolg van ’n pakkie poeier nie, maar die logiese volvoering van ’n reeks geure, die ekstra saamkuier aan tafel, die erkenning aan die seisoen se varshede.

Oktober is rêrig ons mooiste maand. Elke denkbare vrug maak weer sy verskyning. Die voorsit van nagereg is tradisioneel die geniet van ryp vrugte in elke denkbare vorm of verwerking. Of jy nou opgewasse voel vir ’n meesterstuk met torings of bloot ’n vrug met ’n heerlike snysel kaas, dek hierdie seisoen jou tafel vir ’n koning. Blaai deur ’n goeie boek of gaan loer in die tydskrifte; daar is miljoene opwindende, maklike en gesonde idees. (My nuutste vonds is Italiaans: waatlemoenpulp word verhit met ’n bietjie mielieblom en blokkies versuikerde vrugte. Daarna word dit afgekoel voordat splinters bitter sjokolade ingeroer word. Skep in individuele vorms en plaas in yskas vir 3 uur.)

En as jy dink dis alles te veel moeite, wees dan op die uitkyk. Kort-kort hoor of lees ons nog iemand het verdwyn. Ek weet al geruime tyd dis die poedingpolisie wat mense snags kom wegvat. Sodat ons eendag kan woon in ’n wêreld sonder treurige tafels.