Die jong Perikles was só betower dat hy haar die volgende dag weer gaan soek het. Maar die son het opgekom en ondergegaan en sy was nie daar nie. Die dag daarna is hy na die orakel van Delphi, die vrou wat in die toekoms sien en raad gee. Hy wou weet waar die skone nimf is. Maar die orakel het, soos dit orakels betaam, ’n antwoord in ’n raaisel gegee: Moenie die son dophou vir die nimf nie ...

Perikles is verward huis toe. Wat sou dit beteken? Het hy te veel na die son gekyk en die nimf nie raakgesien nie? Was hy te bang die dag gaan verby voordat hy haar te sien kry? Het die son hom dalk vir die verskyning van die nimf verblind? Alles moontlikhede. Maar toe, skielik, het hy iets gesnap: Wát as die orakel met “moenie die son dophou nie”, bedoel het dat hy juis moet gaan soek wanneer daar géén son is nie?

Toe gaan hy in die nag en in die flou maanlig het hy haar gesien, naak en aan die bad in ’n poeletjie onder ’n klein waterval. Onbeskaamd het hy haar oopmond staan en afloer. Die fynheid en vroulikheid van haar slanke lyf, die blink van die water op haar vel, die gloed wat haar omgeef en die maanlig wat op haar lang, donker hare skyn ... Perikles kon nie beweeg nie, byna in ’n beswyming. En skielik het sy weer verdwyn asof sy nooit daar was nie.

Natuurlik het die jong Perikles toe elke nag gaan soek. “Jy moet wysheid leer,” het die orakel van Delphi gesê toe hy haar weer gaan raadpleeg het, “nimfe laat hulle nooit volkome vind nie. Die bessies sal praat ...” Hiervan kon die jong Perikles min verstaan. Wysheid, ja, maar, soos al die Grieke gevra het, wat ís wysheid? En die nimf hét haar immers laat vind? En wat van die “bessies”?

Hy het weer gaan soek. Soggens vroeg, saans laat. Maar die nimf was weg. En die orakel van Delphi het net geswyg.

Die volgende lente het Perikles een oggend in sy ouers se tuin gesit en lees. Hy het sy soektog gestaak. Miskien, het hy geredeneer, het “wysheid” beteken om jou nie die onbereikbare te probeer toeëien nie. En skielik het die nimf in al haar skoonheid voor hom gestaan, met haar mandjie en skittering en die son op haar blinkswart hare. Sy het ’n hand vol bessies uit haar mandjie gehaal en vir hom gegee.

“Daar is een vir elke maand,” het sy gesê. “Eet dit, asseblief. Almal.”

Die betowerde Perikles het die bessies geëet en beswaar gemaak dat sommige suur was. Maar daar was ook soetes.

Hy het vraend na die nimf gekyk.

“Dis ’n jaar se bessies,” het sy gesê. “Jy gaan ’n groot leier word. Leer uit die bessies dat elke maand, jaar, elke doelwit, elke soektog, sy vreugdes en teleurstellings, sy soet en suur het, en soms vars en soms verlep is. Eet dit sonder om te kla. As jy dit kan hanteer, sal jy wys wees.”

Die nimf het verdwyn en nooit weer aan Perikles verskyn nie. Die legende lui dat hy ’n groot leier geword het. En soos alle mites en legendes, wemel dit van waarhede: ’n Mens sien soms die skoonste skoonheid, maar eet ander tye suur bessies. Maar alle bessies is ook nie verlep
en suur nie. Sommige is kraakvars en soet. En die antwoorde van die lewe is dikwels in raaisels.

Ons nuwe jaar gaan ook wilde bessies hê om te eet. Soetes en sures. Ons hoef nie nimfe te soek nie. As ons deur alles die Here soek, sal Hy ons vind en ons leer om die soet en skone te waardeer en die suur te hanteer. En dan sál ons wysheid leer, en dalk ook nimfe en engele sien.

Gelukkige nuwe jaar.