Volgens Sua du Plessis, publikasiebestuurder van CUM, is Ek droom van ’n droom reeds ’n topverkoper en was dit ná net ’n week op die winkelrakke onder die vyf topverkopers op die Nielsen-verkoperlys vir biografieë.

“Die maatstaf vir ’n suksesvolle publikasie is die verkoop van 3 000 boeke binne twee jaar. Ons (CUM) het binne ’n week 15 000 eksemplare van dié boek verkoop,” sê Du Plessis.

Ek droom van 'n droom

Elsje deel spesiaal ‘n paar gunsteling-fotos met ons:

Heelbo: Ek en Boeta (Olimpiese swemmer Ryk Neethling). Hy is en bly my held. Ons het veral Sondagmiddae wanneer my ma-hulle slaap, agter in ons erf huise gebou, met strate en geboue en als. Ons agterplaas is teenaan Naval Hill, die natuurreservaat. Ons het oor die draad gespring, Naval Hill uitgeklim met ons skurwe knieë en tekkies en die volstruise gekoggel. Stout! Die wildbewaarder op die reservaat het altyd ons ouers gebel om te kla, dan was daar groot marakkas. My ouers is ongelooflike mense, sterk met die nodige dissipline, maar met hope liefde.

Ek en Rykie. Hy is drie jaar oud en ek is ’n paar maande oud.

Ek en Angelina, my ander ma.

 Saam met Angelina Lehodi. Sy is nou 78 en werk ná 36 jaar steeds by ons! Sy is my ander ma en daar is 'n hele hoofstuk oor haar in die boek. Ek is SOOOO lief vir Angelina. Sy's 'n treat.

My eerste swemtoer.

My eerste Vrystaat-swemtoer. Ek was sewe jaar oud.

Familie Neethling. Hier is ons in die 90"s!
'n Mooi foto van my pragtige gesin. Van links is dit Ryk, my pa, Ryk, sus Jean-Marié, my ma, San-Marie, en ek.

Ek is met die kankergewas gebore, maar volgens die dokter het ek as kind gewoond geraak aan die pyn. Toe ek vir die skoolspan begin duik het, het die gewas begin drukking kry. Die oggend van 16 Januarie 1992 het ek wakker geword en kon nie loop of sien nie as gevolg van die drukking op my brein. My pa het my in sy arms opgeskep en ons is almal hospitaal toe. Dokters het voorspel ek het 2 maande oor. Die diagnose was choroid plexus carcinoma, 'n baie seldsame en aggressiewe gewas. Daai tyd was daar net 4 mense in wêreld wat dit gehad het, en niemand het dit oorleef nie. Ek was so 11 toe hierdie foto geneem is, net voor die diagnose.

 Een van ons gesinsfoto's uit die 90's. Kyk net Rykie (heel regs) se lang hare - haha! Van links is dit ek, my ma, San-Marie, en pa, Ryk, en Jean-Marié. Hulle is my hele lewe, my hart se punt en was nog altyd my ankers.

My gunsteling vakansie in die Karibiese Eilande.

Tydens my gunsteling-vakansie in 2006 in die Karibiese Eilande. Hier is ek en my twee skoonsusters, Susan en Michelle, in die Grand Cayman-Caribbean. Ons is op ‘n sandbank waar ons saam met pylstertvisse (stingrays) geswem het in Stingray City. Custom has it that if u kiss a stingray, it brings u 5 years of good luck! Hier soen ons hom op sy mond! Lol. Dit het gewerk.

Op my troudag

Lentedag 2007 was my troudag. Hier is ek en Bruce saam met Amanda Strydom (my peetma) en Rykie. Dit was vir my die heel lekkerste om die groot dag te beplan. My ma het die mooiste detail in my troue ingebring. Sy het selfs maande voor die tyd houtspieëltjies laat sny wat ons vir maande soos die mooiste meerminne geverf het. Dit was ons bonding-tyd.

My ma het my geleer om die lewe se issues met humor aan te pak. Die lekkerste van my troudag was toe my peetma die liedjie wat sy vir my geskryf het vir die eerste keer in die kerk gesing het. En Casper de Vries het vir my 'n stemboodskap gestuur om ons geluk te wens. Dit was baie spesiaal.

Met my krale.

Met my beads-www.hip-e.co.za Ek het die gemeenskapsprojek i bead cancer in 2008 by die nasionale hospitaal in Bloemfontein begin. Ek het gevoel ek kan nou elke dag miserabel wees en suur by daai hospitaal sit en wag vir bestraling, of ek kan dit lekker maak. Toe gaan haal ek eendag my beads en strooi dit op 'n tafel. Hulle het my net so aangekyk. Later het 'n klomp terminale kankerpasiënte nadergestaan en ons het elke oggend voor chemoterapie en bestraling ge-bead en gesing en saam gelag. Dit was 'n beautiful ervaring. Selfs die dokters het later na my gekom en gesê: "Jy het  'n ding hier begin. Gewoonlik kan die pasiënte nie wag om hul behandeling te kry en huis toe te gaan om te rus nie. Nou, MET JOU BEADS, vergeet hulle waarvoor hulle hier is. Dankie!"

Dit vat so min om ander te help deur swaar tye.

My 10 jaar-skoolreünie. Wêreldbekersokkertoernooi, SA teen Frankryk in Bloemfontein.

By my tienjaar-reünie in 2008 by die Eunice-hoërskool in Bloem. Dis al vir 25 jaar die Vrystaatse skool met die beste uitslae in die matriekeindeksamen. Hierdie pêlle het my op    skool deur my siekte gedra.

Saam met my pa en sus Jean-Marié by die Wêreldbeker- sokkerwedstryd tussen SA en Frankryk in Bloemfontein. Ons was van kop tot tone uitgerus in ons Bafana-klere!

Ontmoeting met Oprah.

In 2011 is ‘n eredoktersgraad deur die Universiteit van die Vrystaat aan Oprah Winfrey oorhandig. Dit was my grootste dag nog! Ek het vir  Oprah ontmoet, maar toe sy my vra : “What’s your name?”, toe slaan ek 'n blank en vergeet alles! Haha! Prof. Jansen moes haar sê wat my naam is.

Saam met Izette Krogman op haar troudag.

Izette Krogman is een van my groot universiteitsvriendinne van die Puk. Ons het saam joernalistiek geswot. Sy kon baie mooi foto's neem. My ander groot pêlle van Puk is Maiza van der Merwe-Lourens, Chandre Pretorius, Martin van der Linde en Danie Breedt. Ons was baie close en sien mekaar taamlik gereeld by Aardklop. Hierdie foto is op Izette se troudag geneem.

Elsje Neethling Blair en Sarah Kate Scott.

Saam met Sarah Kate Scott. Sy is Darren Scott se vrou. Hierdie foto is geneem net voor klein Mark met kanker gediagnoseer is. Ons het groot pêlle geword. Sy is die dierbaarste mens.

Familiesamtrek op Dealesville.

By ‘n Neethlingfamilie-reünie op ons familieplaas in Dealesville in die Vrystaat. Ek was siek met bestraling. Ons is 'n groot hegte familie. Hier’s al die niggies en nefies en ooms en tannies.

Saam met Casper de Vries en Shaleen Surtie-Richards

Saam met my groot maatjie, Cassie (regs), ná sy show in Bloemfontein. Casper ondersteun my geweldig met my stryd teen kanker. My sussie (links) was saam hier en ook Shaleen Surtie-Richards (naaslinks). My peetma, Amanda Strydom, en Cassie is groot maats. Toe Rykie die Athene-medalje gewen het, het Cassie haar gevra of hy Ryk kan kontak om hom geluk te wens. Hy het. Ek en hy het so kontak gemaak en is sedertdien baie close pêlle. Ek leer baie by hom, soos om die klein goed te waardeer en lief te hê en om sterk te staan - al beteken dit dat jy groot teenspoed kry van buite. Glo in wat jy glo en wees jouself.

Elsje Blair  

Hierdie foto van my hang waar hulle die mammogramme doen in Rosepark Hospitaal in Bloemfontein. Dis great dat ek iemand uit my jarelange swaarkry bietjie kan bemoedig.