Die trein na Srimangal (lees: Srie-mong-ghal) vertrek om 6:40. Srimangal is die teehoofstad van Bangladesj.

Ek loop ‘n gewillige riksja-wallah raak, wat dadelik knik toe ek vra of hy weet waar Dhaka se treinstasie is. Min van hulle praat Engels en ek hoop maar ons haal die stasie betyds. Die vroegoggendverkeer in Motijheel is nog rustig sodat ons tien minute voor vertrektyd voor die stasiegebou stilhou. Kort voor lank stap ek na perron 2, waar die Parabat Express reeds staan en wag. In die wa is daar van daai harde, regop kombisitplekke van die 1970’s. Alles is in Bengali en ek moet vra watter sitplek myne is. ‘n Man in die eerste ry bekyk my kaartjie en beduie ek is in die verkeerde wa en stap saam tot by ‘n kompartement in eersteklas. Vir ‘n volle R20 vir die kaartjie vir die ses uur lange reis kan ek in gerief ry! Elke stasie waar die Parabat stop, het sy eie bekoring. 

'n Vrou met 'n geel lap. Op die dorp Bhairab Bazar stop ons lank genoeg dat ek lekker kan inzoem op die vrou met die geel lap.
Seuntjie met rooi truitjie. By Brahmanbaria huppel ‘n klein mannetjie met ‘n rooi jassie en sonder 'n broek al om sy ma.
'n Vrou sit op die spoorlyn. Madhabpur se Lady in Red sit sommer net daar op die spoor en wag.
'n Seuntjie in 'n treinvenster. Naby die draai waar die spoor oos swaai Srimangal toe, kyk ‘n seuntjie met ‘n soet gesiggie lank genoeg na my kant dat ek sy foto kan neem.

Die Bangladesh Tea Research Institute (BDRI) se gastehuis is buite die dorp op die teeplaas. Die kamers is ruim, ouwêrelds en stowwerig – amper iets uit die vorige eeu se koloniale era.

Die teeplantasie. My wandeling deur die teeplantasie lewer lekker foto’s op. Ek gooi duim en ry sonder ‘n valhelm saam met ‘n man op ‘n motorfiets. Dié vriendelike man ry die ganse dorp vol en laai my af waar hy by sy ysterwarewinkel stilhou.

Ek stap en stap deur die stowwerige strate, maak geselsies hier en daar. ‘n Vriendelike jong man nooi my om saam te kuier in ‘n tea house. Ek lag heerlik vir die groepie vriende se pogings om my hul humor te laat verstaan. Op my vraag waaroor hulle kwansuis so lekker sit en gesels, antwoord een: "We gossip."

Na ‘n lekker geselsie met die gossipers moet ek hul pluimbalbaan gaan bekyk. Die manne het ‘n stuk van die sweiswinkel om die hoek se agterplaas gevra, die grond skoongemaak, ‘n hoë bamboesraam gebou en oorgetrek met iets soos ons koöperasiesakke. “Because it has to be indoors, brother.” Hulle het selfs ligte aangelê, waarvan die gloeilampe saans ná speeltyd uitgedraai en gebêre word. Die net en baan is met plat wit toue uitgemerk – ‘n groot bron van trots.

Ek groet om my fotoneem-tog voort te sit.

Toe die son driekwart op sy afwaartse tog is, wals ek weer die manne se baan binne. Bloot omdat ek sat gestap is en lus het vir geseslskap. Ek kyk twee wedstryde en word straataf geneem na die "leier van die bende" se huis. Daar is ‘n reuse-groentetuin, tamaai roostuin en dertig frieskoeie in ‘n groot stal agter die huis. Bo-op die store is kamers waar die ses personeellede bly. ‘n Blinknuwe motor staan voor die deur geparkeer. Dis die eerste keer dat ek in dié arm land aan sulke rykdom blootgestel word.

Ons spring in die blinkblou vuurwa en gaan na die enigste restaurant in die wêreld waar "seven flavours tea" bedien word, ‘n unieke tee waarvan die resep ‘n groot geheim is. Sewe lae in die glas en elke laag het sy eie, unieke smaak. Verstommend! 

Ek begin dink die kuier is aan’t opdroog, maar nee, ons gaan na Kitumburi, blykbaar Srimangal se beste restaurant. Ná ‘n heerlike bord hoender-deur-tant-Dorie is dit steeds nie die einde nie.

Ons stop by die sportwinkel waar twee manne uitspring en vir my ‘n twaalfpak pluimbalveertjies gaan koop. Dan na Bilash, die voorste winkel op die dorp, te oordeel na die pryse, die interieur en die hoeveelheid personeel wat regstaan om jou te help. Hier, hoor ek, moet ek iets kies wat sal sorg dat ek hulle onthou. Ek soek iets eenvoudigs uit, maar my nuwe vriende is nie tevrede nie. Die hoofseun verseker my dis hulle kultuur om ‘n gas te bederf. Basta met my teëstribbeling. Een hou ‘n hemp na my uit en vra: “Brother, this is perfect for you?”

Nadat hulle my by die gastehuis afgelaai en ons ‘n laaste lagsessie deurgewerk het, maak ek die pakkie oop en sien die pryskaartjie nog aan die Lacoste-hemp hang. ‘n Astronomiese bedrag geld. Ek gaan lê met ‘n glimlag in my hart oor my nuutgevonde vriende, vir die heerlikheid daarvan om vir ‘n paar oomblikke deel te wees van ‘n totaal vreemde kultuur, en omdat hierdie Maandag baie ver van blou af was.

Ek sal ‘n pluimbalraket moet kry . . .