Lees hier die hoofstuk wat handel oor TELEURSTELLINGS


Anneke van Germiston vra 'n baie relevante vraag. Wat moet 'n mens doen as jy bang is vir teleurstelling, juis omdat jy daagliks in enige situasie teleurgestel kan word waar jy met mense in aanraking kom.

Ek wil dit graag aanspreek, want dit is iets waarmee ek self ook dikwels sukkel. Ek deel graag my gedagtes met julle hieroor. As jy iets het om by te voeg, stuur asseblief vir my 'n e-mail.

Ons is gebroke mense wat in 'n gebroke wêreld leef. Solank as wat ons met mense te doen het, sal ons altyd met die menslikheidsfaktor te doen hê. Ons stel onsself daagliks bloot aan teleurstelling en seerkry, en dit is die realiteit van die lewe. Om dit te vrees is nie heeltemal die antwoord nie en om van alle mense te onttrek is ook nie die antwoord nie. Die tragiese ding is egter dat jy ook deur Christene teleurgestel en seergemaak kan word.

Jesus was volkome mens op aarde en is self verraai en teleurgestel deur die mense vir wie Hy so baie lief het. Snaaks hoe ons na Judas kyk en hom veroordeel en net so maklik vergeet dat ons Jesus op ander maniere ook self teleurgestel het en daagliks steeds doen.

Ons kom op hierdie aarde as onskuldige babas wat almal en alles vertrou totdat ons langs die pad seerkry en nuwe gedragspatrone aanleer. Ek maak 'n doelbewuste keuse (amper daagliks) om myself te programmeer om die goeie in mense raak te sien en te vergewe wanneer hulle my seermaak. Die realiteit is egter dat ek ookmense teleurstel en seermaak, dikwels onwetend.

Ek moet ook myself vergewe en harder werk om nie teleur te stel nie. Omdat ek nie volmaak is nie, kan ek dus ook nie van ander verwag om volmaak te wees nie.

My verwagting van mense is dikwels onregverdig en onrealisties hoog. Wanneer hulle my dus teleurstel, het ek egter ook myself om te blameer omdat ek 'n onrealistiese verwagting gehad het. Dit het my laat besef dat ek my verwagtinge moet aanpas. As jy verwagting met 'n volumeknop moet vergelyk dan is 10 kliphard of volle vertroue en 0 so goed soos mute en geen verwagting nie. Ek stel die volumeknop gereeld so bietjie af en pas dit aan soos my vertroue in mense skuif.

'n Baie belangrike les is om ook jou hart te beskerm (te alle tye).

My ouer boeta het my eendag gewaarsku dat ek nie op prinse en konings moet vertrou nie, maar op die volmaakte Prins en Koning.

God het dit nie in sy natuur om teleur te stel nie. Hy is volmaak. Hy het 'n perspektief wat anders is as ons s'n. Hy sien die groter prentjie en kan toelaat dat ons deur seer en teleurstelling gevorm word om juis ander te help of om nader aan sy volmaakte plan vir ons lewe te groei.

Ek bid dat Hy jou sal beskerm, by jou sal wees en jou ook sal vergewe soos jy ander vergewe.

Koop nou Ek dare jou  - Leef voluit teen 'n spesiale aanbod van R85 (Winkelprys R109.00). Skakel On The Dot by 0861 668 368 

Volg SARIE op Twitter en Facebook