Tot in daardie stadium het Random House hoofsaaklik sy Britse uitgawes in Suid-Afrika versprei. Van die groot name in die plaaslike literêre kringe wat by Umuzi uitgee, is Antjie Krog, Ivan Vladislavic, Mike Nicol, Lewis Nkosi, Chris Barnard, Imraam Coovadia en nog ‘n hele swetterjoel ander. Die 100ste titel wat in September verskyn, is Son-in-Law of the Boere deur Nape a'Motana. Dié satire draai om ‘n jong swart man wat te kampe het met ou realiteite en nuwe moontlikhede, wanneer hy verlief raak op ‘n Afrikaanse meisie.

Umuzi-skrywers het al ‘n paar keer gesogte literêre pryse gewen. Die Sunday Times Alan Paton Award is gewen deur Ivan Vladislavic en Peter Harris en die University of Johannesburg Prize is toegeken aan Ivan Vladislavic, Imraam Coovadia en Chris Marnewick. Patrick Cullinan en Njabulo Ndebele het The South African Literary Award ontvang en vanjaar se Olive Schreiner Prize is toegeken aan Michael Cawood Green. Dis beslis ‘n veer in die hoed van die uitgewer!

Random House Suid-Afrika het in 2008 saamgesmelt met Struik-uitgewers en behalwe vir Umuzi is daar ook nog Zebra Press, Struik Nature, Struik Travel and Heritage, wat nog drukkersname is van Random House Struik (RHS).