Wat van ’n paar dae in die bos? stel jy voor. Terwyl die hele wêreld see toe versit vir die vakansie, glip julle stilletjies binneland toe. Jy ruik al die grasse van Afrika, die diere, die naglug, die stilte en die sterre ...

Sy wil dadelik begin inpak, want dis ’n idee skitterend soos die sterre, sê sy asof sy dit self uitgedink het. Maar skielik is daar geen klere in haar kas nie. Net mooi niks nie!

“Ons moet dadelik die polisie bel,” sê jy. “Dis duidelik hulle het ingebreek en al jou klere gesteel.” Sy ignoreer dit.

Mans weet: Kondig net aan julle gaan êrens heen, hetsy met vakansie of na ’n geleentheid in die aand, en ’n vreemde ding gebeur: G’n vrou het iets om aan te trek nie, veral nie vir die aand nie.

“Ek het niks vir die aand nie. Toevallig het ek net nou die dag so ’n swart rokkie met kant-detail gesien ... en dit pas my perfek.”

Dis nou toevallig, dink jy. Dan leef party vroue met die leuse: As jy iets kry waarvan jy hou, koop vyf.

“En ek het lankal ’n nuwe paar jeans nodig,” dink sy aan bedags ook. “Ek dra die heeltyd net dié een,” en sy wys na haar jeans, die bruin paar. “Ek moes destyds vyf gekoop het.”

“Wat van die bloue en die beige ene en die swarte en die witte en die groene?” vra jy. “Groen is mos nou weer in die mode ...”

“Jy verstaan nie,” sê sy, en verduidelik die bloue sit nie meer reg nie, die beige ene het nie lekker sakke nie en die swarte druk haar êrens as sy sit, die witte raak te maklik vuil en die groene ...

Dis mos nie asof sy onnodige goed sal koop nie. (Nè?)

“My T-hemde is ook op.”

Daar is twintig T-hemde op ’n hopie in haar kas. En elkeen is ’n verskoning vir ’n nuwe een: Kyk hoe uitgerek is hierdie een. En dié een se kleur pas my glad nie (meer nie), my maag steek te veel uit by dié een en dié een het ek gekoop om by my beige jeans te dra, maar nou’s my beige jeans se sakke nie lekker nie, nè, en dié een is veronderstel om ’n langmou-T-hemp te wees, maar kyk waar sit sy moue, hierdie een se nek wurg my, en daardie een dra ek lankal nie meer nie omdat hy my krap.

Sy’s op pad om ál twintig T-hemde se hartseer verhaal te vertel.

By verskoning nommer agt sê jy gaan koop liewer vir jou ’n nuwe T-hemp, dit kan seker nie soveel kos nie.

Dit blyk iemand het ook haar sokkies gesteel. Sy’t nie ’n enkele paar sokkies om saam te neem nie. En ’n lap-roos sal mooi pas by daardie swart rokkie, en sy wonder of sy nie maar nog ’n G-string (of vyf?) moet koop nie, vir ingeval.

En eens en vir altyd wil sy ’n praktiese toiletsakkie aanskaf waarin ’n mens ’n botteltjie sjampoe regop kan staanmaak, sy wil nie meer sukkel met goed wat omval nie, die toiletsakkie moet behoorlike kompartemente hê.

Dis ’n belegging, sê sy.

Sy belê ook in ’n vol bottel sjampoe en etlike bymiddels vir hare, hakke, vel en oë - elke houer moet vol wees, want sê nou die halwes wat sy het, raak op daar in die Bosveld?

Jy sê jy verstaan. Maar jy kom agter ’n Bosveld-vakansie kos ’n hoop geld, en julle is nog nie eens daar nie.

Voor julle ry, moet sy ook besluit watter tydskrifte om saam te neem en eers haar hare laat sny (waar laat sny ’n mens nou jou hare in die Bosveld?), en ’n ontspannende voetmassering kry, want sy weet mos julle gaan ver loop tussen die grasse van Afrika. (“O, amper vergeet ek. Loopskoene! Ek het nuwe loopskoene nodig!”)

Om te pas by die nuwe sokkies.

En as nagedagte bied sy aan: “Wat van ’n nuwe broek vir jou?

’n Mens kan tog nie gaan vakansie hou sonder klere nie.”

Nie? O ...