Van 1 tot 3 Maart 2013 sal mense van regoor Suid-Afrika byeenkom om hul familienaam en voorouers op die Van der Merwe-fees 352 te eer. Dit sal dan 352 jaar wees vandat die eerste Van der Merwe in Tafelbaai geland het, agt jaar nadat Jan van Riebeeck daar aangekom het. Die fees probeer om mense te kry om in hul verlede te delf en hulle aan hul voorouers te herinner. Op die fees sal ook hulde gebring word aan die Van der Merwes wat die weg gekerf het tot waar die nageslag vandag staan. Op Van der Merwe-fees 352 is almal welkom. Is dit dan nie so dat die hele volk by nadere ondersoek tog maar Van der Merwes is nie? Met kosstalletjies, kunsuitstallings, toere na die oorspronklike familieplaas, ‘n kinderarea, geskiedkundige praatjies, musiekoptredes deur onder andere Wicus van der Merwe en die Mej. Van der Merwe-kompetisie is dit ‘n fees vir die hele gesin. Die fees beloof om vele lekker herinneringe saam huis toe te stuur wat weer ter inspirasie ‘n paar geslagte vorentoe oorgedra kan word. Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Besoek ook die webwerf www.vandermerwefees.co.za, bel Nicolene vir navrae by 079 642 2892 of stuur e-pos aan nicolene@vandermerwefees.co.za