As dit eers verby is, is dit soms so belaglik om te dink hoe ek dae van lig en liefde kon vermors op die beuselagtige rede vir my stilte van verontregting.

Stilte kan gevaarlik wees. In die antieke geloof van Israel was hulle oortuig as daar stilte tussen jou en God gekom het, het jy reeds die doderyk begin betree. Daarom sou ’n Jood eerder by God kla as om niks te sê nie. Die hele Ou Testament is vol van hierdie klaagliedere. Die jeremiades van hulle wat geglo het jy vermy die donker valleie deur te bly praat met Hom wat mag het oor die skadu’s en die lig.

Die begin van ’n klaaglied was meestal vol vrae, selfs verwyte. Slaap God dan? Gee Hy nog om? Hoe kon Hy die ellende toelaat? Hoe lank gaan dinge nog so aanhou?

Maar sonder om die leser in te lig hoekom die meeste klaagliedere egter ’n wending het, vanaf klag tot lof. Terwyl jy nog lees van die ongelukkigheid en ontevredenheid, is die treur-psalm skielik vol bewondering en dankbaarheid. Dis asof hulle ons wil herinner dat net God die mineurwysies van die lewe kan verander. Vir hulle wat na Hom kom met die hartseer musiek van die hart, kan Hy nuwe musiek gee. Want musiek behoort aan Hom.

Die Bybel is ’n boek van musiek en kuns. Selfs Openbaring, die laaste boek in die Bybel, is vol daarvan. Openbaring 18 vertel van die laaste oordeel en Babilon wat vernietig word. En wat gebeur eerste as die engel die finale oordeel bring? Musiek word weggevat. Stilte.

En tweede? Geen kuns of kunstenaars meer nie. Want hoe kan ’n mens musiek en skoonheid soek en nie die komponis en skilder wil ken nie?

Uiteindelik is dit net God wat sê het oor wysies en prentjies. Hy is die groot musiekmaker en skilder. Hy gee dít wat mooi is. Hy is die digter en komponis. As dit stil geword het, nooi Hy ons - om selfs te kom kla. Hy verander klaagliedere in lof. Ook leë prettigheid word skoonheid. En as ons binneprente dof en deurmekaar is, skilder Hy nuwe prentjies van genade.

As ons luister sal ons hoor hoe Hy ons nooi - Hy met die verf en die kwas. Hy met die musiek.