Môre sal ek doen net wat julle wil - maar vandag is my dag.

Só brom ’n bose meisiekind met twee tamaai strikke in haar hare, geteken deur Piet Grobler, in die prenteboek wat ek gisteraand saam met my Mia-meisiekind lees.

En dis min of meer hoe ek nog altyd oor my verjaardag gevoel het.

’n Mens moet één dag in die jaar aan jouself kan afstaan, sonder verskonings of skuldgevoelens, ongeag hoe ingewikkeld jou lewe geword het. Maak nie saak hoeveel metgeselle of gewese metgeselle of kinders of stiefkinders of bejaarde ouers of depressiewe vriendinne of behoeftige kollegas jy het nie. Jy móét kan sê: Vandag doen ek wat ek wil.

Binne perke, natuurlik.

As jy byvoorbeeld heeldag in die bed wil bly met ’n bottel vonkelwyn en ’n sondige sjokoladetert en ’n wonderlike boek, moet jy nogtans die kinders by die skool kry en sorg dat daar kos is vir vanaand.

In die Katolieke lande van suidelike Europa is jou “naamdag” - die dag wanneer die heilige wie se naam jy deel, gedenk word - soms belangriker as jou verjaardag. In Frankryk word hierdie tradisie byvoorbeeld steeds gehandhaaf deur TV-weerprofete, wat elke aand amptelik aankondig watter heilige die volgende dag gedenk word. Laas jaar het my seun se klasonderwyser oor ’n naweek gebel om Daniel geluk te wens met “sy dag”. Ek dog die onderwyser het die verkeerde leerling beet en begin dadelik verleë verduidelik dat Daniel eers volgende maand verjaar. Nee, sê monsieur S, hy praat van Daniel se “naamdag” - 11 Desember.

Hy het nie weer gebel toe Daniel ’n maand later verjaar het nie.

Maar omdat ek hopeloos te Calvinisties grootgemaak is om die name op Katolieke kalenders te onthou (en buitendien, wie het nou al ooit van ’n heilige Marita gehoor?), sal ek steeds my verjaardag as “my dag” beskou. Ja, goed, ek weet ek deel dit met miljoene ander mense (onder andere Sigmund Freud en George Clooney, het ’n vriendin my onlangs vertel), maar dit bly my dag. Of kom ons sê dan maar my en George Clooney se dag.

Daar is seker erger mense om ’n dag mee te deel.

Probleem is net hoe ouer ek word, hoe groter word die versoeking om te vergeet van my verjaardag. Probleem is wat bly daar nou eintlik oor om te vier as jy eers die dag jou veertigste kersie doodgeblaas het? “Another day older and deeper in debt,” soos die liedjie “Sixteen Tons” van Merle Travis sê.

Dís die gemoedstoestand waarin ek onlangs nóg ’n verjaardag aangepak het. Die kinders was meer veeleisend as gewoonlik, my huis meer deurmekaar, my man meer gestres. En ek net nie meer lus vir die hele bohaai rondom ’n totaal toevallige datum nie. Ongelukkig het ek weke tevore reeds ’n paar gaste begin nooi om ’n drankie te kom drink. ’n Amerikaanse buurman, ’n Hollandse vrou in my jogaklas, ’n Afrikaanse vriendin op ’n buurdorp, ’n Engelse onderwyseres getroud met ’n Italianer, kortom ’n hele Babelse verwarring van mense wat net mooi niks gemeen het nie behalwe dat ek lankal vir elk van hulle ’n uitnodiging skuld.

’n Resep vir ’n sosiale ramp, dis hoe dit skielik vir my geklink het.

Maar ek het ook nie die krag gehad om almal te bel en die byeenkoms met die een of ander flou verskoning af te stel nie. Dit was minder moeite om bloot te grinnik en alles agter die rug te kry. Só erg sou dit seker ook nie wees nie.

En raai, toe is dit glad niks erg nie. Eintlik heel plesierig, al moet ek dit nou self van my eie partytjie sê. Daar is baie geklets, in baie tale, en baie gelag. Genoeg geëet en ietwat te veel gedrink. En ek het ’n besonder waardevolle les geleer: As jy nie lus het om ’n verjaardag te vier nie is dit éérs belangrik om dit te vier.

Om strikke in jou hare te bind en kersies dood te blaas en jou voet te stamp en teenoor almal te verklaar: Die volgende 364 dae kan julle maar kry, maar vandag behoort aan my.

(En aan George Clooney, natuurlik.)