Só tref die petrolpryse ons toe, en daarmee die drie weke lange verslawing aan motortydskrifte. Ek ontsnap uit my wêreld van preke, berading en ander aktiwiteite wat niks met petrol- en huispryse te doen het nie. Dag en nag stoei ek met vrae wat ek nie uit my gedagtes kan kry nie. Petrol of diesel? Nuut of tweedehands? Duits, Japannees of Koreaans? Of in hierdie moeilike tye miskien selfs Chinees?

Vandag is daar ’n stukkie Europese wysheid in die vorm van ’n motor in ons motorhuis. Met ’n een-literenjin en ’n kattebak groot genoeg vir twee kosblikke en ’n koerant ry ons 18½ km met een liter brandstof en juig oor nog twee wolwe wat weggehou is van die agterdeur. Dit lyk asof die eksperiment geslaag het en die nagte se somme maak die moeite werd was.

Maar daar is nog die huispryse en rentekoerse in die agterkop. Somme, somme en nogmaals somme. Wat van huur of verhuur? Moet jy nóú verkoop? Is dit tyd vir afskaal of vasbyt en hoop dat die sokkerspelers in 2010 vir ’n ekonomiese wonderwerk sal sorg? So neem die aardse probleme van menswees jou gedagtes in beslag terwyl jy wonder hoe die engel wat in jou kombuis werk hoegenaamd oorleef.

En dan kom Sondag. Die liedere weerklink en ouer woorde kom staan voor jou bekommernisse en giere. Of jy die prediker of luisteraar is, jou binneste drink die woorde in waarteen geen rentekoers of petrolprys bestand is nie. “Kom na My toe . . . Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle . . . Roep My aan in die dag van benoudheid, Ek sal jou uithelp en jy moet My eer . . . Moet jou nie bekommer oor die dag van môre nie, oor wat jy sal eet of aantrek nie . . .”

Op pad huis toe in jou een-liter-spaarmobiel weet jy daar is dinge wat vas is. Of ’n mens wonder oor rentekoerse of ’n ekstra dag se kombuiswerk, taxi-geld en die prys van mieliemeel - die eeue oue beloftes bly dieselfde. Sekere dinge verander nooit nie, staan vas soos die berge. En jy onthou dat iemand êrens sy oë opgeslaan het na die berge en geweet het waar sy hulp vandaan kom.