Op die oog af, já. En op die vooraand van ons vakansie, is dit omtrent ál karaktereienskappe van Skotland waarvan ek grotendeels kennis dra.

Ná ons besoek aan die land van tartan, sing ek geheel en al 'n ander deuntjie. En gepraat van tartan of te wel Skotse geruit, ek is nou skoon tartan-verspot. My voubiljet toon 'n konserwatiewe 140 blokkies-patrone van die vernaamste Skotse families en ‘clans’. Die Wallace-ruite herroep skerp die helde tonele van die fliek ‘Brave Heart’, asook ons besoek aan die Wallace-monument. Die Munro-tartan herinner aan die Skotse benaming van 'n heuwel of berg. Talle bekende Suid-Afrikaanse verbintenisse val op onder die familiename – Oliphant, Robertson, Sutherland, Maitland, Napier.

Skotse geruit en die Hooglandse drag is 'n kragtige simbool van die Skotte se vaderlandstrots. Oorspronklik is dit as grof geweefde geruit gedra vir warmte en beskerming teen die koue, nat klimaat. Maar dis nie nét die tartan wat kleurryk is nie; Skotland is besaai met kleurryke karakters en tonele.

Die Skotte is erg patrioties. Het ons Afrikaners dalk meer ingemeen met die Skotte as die Engelse? Hoe dit ook al sy, die Skotte praat hul eie taal, reik hul eie banknote uit, strewe na onafhanklikheid, brou hul eie bier en whisky, beskik oor hul eie kroonjuwele, en kook hul eie geregte. Haggis byvoorbeeld. Dis al Skotse gereg waaroor meeste mense my vooraf kon aanraai. Of eerder áfraai. So asof ons Suid-Afrikaners nie weet van afval en pens-en-pootjies en ‘smileys’ nie. En ja, ek het 'n happie daarvan geproe. Eina klein, maar darem. Baie ryk en dit het my aan biefstuk-en-niertjiepastei laat dink.

Maar die tipiese Skotse kroegspyskaart het my aangenaam verras: varklies, Skotse salm, burgers, lamsgeregte, en “Guiness”-pasteie – die Skotte is kompleet kop in een mus met die Iere en hul donker bier. Alles keurig, vars en baie geurig voorberei. Nie dat ek alles met een slag bestel het nie, maar elke keer het ek wél van almal in ons groep se etes én bier geproe. Die ekstra kilogramme het duidelik nie in my tas saam teruggekom nie – dis sommer direk om die heupe gedra!

Nog iets wat ek nie verwag het nie, is dat Italiaanse restaurante en koffiewinkels volop in Skotland is. Siende dat Italië my vorige reisbestemming was, was dit 'n onverwagte gesig tussen die donker Skotse steengeboue. Macchiato’s, espresso’s, pasta en pizza word heel outentiek bedien, al is die kelnerin van Poolse afkoms en praat sy Italiaans met 'n Skotse aksent. Salute!

Maar die Skotte is bekend vir veel meer as pasteie en die harige “Highland cow”, of soos die Skotte dit uitspreek: “Hielind koe”... Die skattige West Highland Terrier, of “Westie”, is inheems, en so ook alle sport en uitvindsels wat met gras te make het, te danke aan die hoë reënval en geil natuurgroei – gholf en gholfbane, rolbalbane, hawermout, sokker, gholfstokke, reënjasse, ens.

Ek was waarlik verstom oor die aantal uitvindsels, ontdekkings, produkte en mense van dié klein landjie – Dr Livingstone, “I presume”; penisillien; insulien; televisie; mikrogolfoonde; termosflesse; marmelade; faksmasjiene; die telefoon; die stoomenjin; paraffien; verdowingsmiddels; die trapfiets; stoombote; radar; die desimale punt; die MRI-skandeerder; yskaste; die spoeltoilet; kleurfoto’s; chloroform; ligtoring-lense en motorbande.

Verbasend merk ek ook omtrent geen outydse of tweedehandse motors in Skotland op nie. Ons gasheer verduidelik dat die voorkoms van die wintersneeu die strooi van sout op die paaie noodsaak. Gevolglik roes die onderstelle van motors teen 'n snelle tempo. Ek vermoed die motors vind dalk 'n heenkome in Oos-Europa of elders?

Wat wel erg outentiek is, is die Skotse boustyle. Oraloor in elke klein dorpie of groot stad lyk woonhuise omtrent almal eenders, en dit geld vir oud én nuut. En elke dorpie het natuurlik 'n kroeg, met bier afkomstig vanaf 'n plaaslike mikrobrouery. Hier en daar is 'n dorpie of stad geseënd met 'n besonderse ryk geskiedenis en 'n kasteel; Edinburg en Stirling se kastele is veral vernaamd. Magstryde vind wel nie nét in kastele plaas nie; Murrayfield in Edinburg, is die slagveld van verskeie rugbyspanne, ons eie Bokke inkluis.

Kospryse het ook gesneuwel in Skotland, en ons word verras deur die billike pryse in supermarkte. Die “koop een, kry twee gratis”-fenomeen is veral gewild in Tesco’s, en ek verkyk en verlustig my aan die mooi verpakkings in Sainsbury’s, Marks & Spencer, Morrison’s, ensomeer. Hiér is inkopies sowaar 'n vorm van vermaak!

'n Verdere keur van (ware) vermaak wag ons in by die Edinburg Kunstefees. 'n Karnaval atmosfeer heers al langs die “Royal Mile” met geesdriftige, opkomende sterre wat hul vertonings bemark deur elke denkbare, én ondenkbare, truuk uit die hoed te trek. Narre op stelte, vroue in naggewaad, hofnarre in strepe, en kunstenaars in bisarre kostuums verras, skok en inspireer. Die beroemde Koninklike Militêre Taptoe is 'n skouspel uit die boonste rakke en getuig van presisie én passie.

Skotland is omtrént 'n inspirasie. Ek het dié land liederlik onderskat en weet nou dat dit 'n veelkleurige land is. Skotland beskik oor 'n wonderskone natuurprag, trotse én slim burgers, prentjiemooi dorpies, lekker eet-en-drinkgoed, pragtige geruite klere, en vele meer. “Slainte!”. Ek skink en klink graag 'n stewige skeut whisky op dié land van véle fasette...