Ek probeer om vir so lank as wat ek kan, vas te klou aan daardie heerlike gevoel van sorgelose dae, van laat opstaan, van op die bank ontspan met ‘n boek . . . As ek eers terug is by die kantoor, is daardie luukse vir eers neusie verby! Dan is dit tyd om die jaar aan te pak en sy uitdagings in die gesig te staar. Vir oulaas probeer ek nog bietjie vashou aan my vakansiegevoel.

Summer at the lake, Erica James (Orion, R265)

Floriana is ‘n eksentrieke toergids in Oxford. Vir twee jaar al het sy geen kontak met haar boesemvriend, Seb nie. ‘n Vertrouensbreuk het gemaak dat hul vriendskap afgekoel het. Maar nou is daar uit die bloute ‘n uitnodiging na Seb se huweliksbevestiging met die ‘o so perfekte’ Imogen in Lake Como. Boonop het Seb ‘n persoonlike boodskap waarin hy op haar gevoel speel, op die uitnodiging aan Floriana geskryf. Sy wil nie regtig die troue bywoon nie, maar weet as sy dit nie doen nie, is dit die finale stap om hul vriendskap vir ewig te vernietig. Terwyl sy tob oor die uitnodiging word sy raakgery in ‘n tref-en-trap-ongeluk. Twee barmhartige Samaritane, eiendomsontwikkelaar Adam Strong en oujongnooi Esme Silcox, kom tot haar redding.  ‘n Onwaarskynlike vriendskap ontwikkel tussen die drie. Esme het ‘n ou verbintenis met Lake Como. Sy voel Floriana moet Seb se troue bywoon om sake op te klaar, sodat daar rigting aan Floriana en Adam se vriendskap kan kom. Sy oortuig Floriana en Adam om haar te vergesel terug op haar jongmeisie-spore van die verlede. Daar moet sy en Floriana die verlede konfronteer en besluite neem wat hul toekoms gaan beïnvloed.

Al is dit ‘n ligte, romantiese verhaal, skryf Erica James dit so boeiend dat jy nie anders kan as om dit op te slurp nie. ‘n Lieflike storie met ‘n waardevolle boodskap. – Phyllis Green

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

At Home With The Templetons, Monica McInerney(Pan Books, R105)

Die flambojante Henry met sy ewige sjarme en gawe woorde staan aan die hoof van die Templeton-familie.  Henry, Eleanor en hul kinders, Charlotte, Audrey, Gracie en Spencer moet inderhaas padgee uit Engeland om die skuldeisers te vermy. Henry sleep hulle almal Australië toe.

Vir drie jaar woon  hulle in 'n statige ou herehuis, sonder dat  Eleanor en die kinders weet hul lewe daar is eintlik gebaseer op 'n leuen.  Volgens Henry het hy die huis van 'n familielid met 'n baie ryk geskiedenis geërf, maar in werklikheid huur hy net die huis. Hulle smee hegte vriendskappe met die buurvrou Nina en haar seun Tom. Weens Henry se swak vermoëns en nalatigheid om sy skuld te vereffen, moet hulle weereens padgee,  terug Engeland toe.  Henry en Eleanor se paaie skei en die  kinders slaan elkeen hul eie rigting in.  Gracie en Tom is verlief op mekaar en onafskeidbaar.  'n Motorongeluk waarin Tom ernstig beseer word, verander almal se lewens.  Groot hartseer en baie verwyte volg, en onwetend vir Tom en Gracie word hulle van mekaar weggehou deur  hul ouers se selfsug en jaloesie.  Agt verlore jare gaan verby voordat Gracie en Tom uiteindelik by mekaar uitkom.  – Jenny du Toit

Geur van vervulling FOTO: verskaf

Geur van vervulling, Alta Cloete(LAPA Uitgewers, R165)

Vivien het al vir baie jare 'n groot geheim wat aan haar vreet. Dit maak dat sy mense vinnig oordeel en fout met almal soek. Sy is geskei en het twee seuns op universiteit, sensitiewe Wim en loskop Ben.  Sy word  'n lewensafrigter, maar dis asof sy net nie empatie kan vind met haar kliënte se probleme nie. Totdat Herman Dreyer natuurlik sy opwagting maak.  Hy is 'n bekwame psigiater en die twee voel onmiddellik aangetrokke tot mekaar.

Die vlieg in die salf is sy stiefdogter, Amanda wat  'n buite-egtelike seuntjie het. Boonop spandeer sy baie tyd saam Wim en Ben.  Herman se eks-vrou veroorsaak  heelwat drama. Vivien besluit om haar te distansieer van die situasie, maar maak haar groot geheim openbaar.  Dit veroorsaak nie die groot ontploffing wat sy verwag het nie, en sy voel verlig en vry na die onthulling.  Kan sy en Herman weer begin nadat hulle ontslae geraak het van hul bagasie? – Jenny du Toit

My Husband Next Door FOTO: verskaf

My husband next door,  Catherine Alliott (Penguin, R240)

Op 19 het Ella Montclair met die liefde van haar lewe getrou: die aantreklike Sebastian Montclair, ‘n kunstenaar met ‘n blink toekoms voor hom. Nou, amper 20 jaar later, is daar bitter min van die aanvanklike droomhuwelik oor. Sebastian het hom geleidelik aan haar en die huwelik onttrek en woon nou in ‘n kothuis apart van haar en hulle twee tienerkinders. Hy het jare laas ‘n skildery verkoop al skilder hy pal, en Ella moet raap en skraap om huis en haard aanmekaar te hou. Om alles te kroon, trek haar ma ook by haar in nadat sy en Ella se pa baklei het.

Dan verskyn Ludo, die aantreklike, maar getroude tuinier/landskapsargitek op die toneel . . . Ella moet alles wat sy ooit gedink het sy weet, weer in heroorweging neem.

Al klink die storie heel voorspelbaar, het dit ‘n onverwagse kinkel aan die einde. - Retha Burger

Stuur My groete Aan S.tif FOTO: verskaf

Stuur my groete aan Salomé, Jackie Grobler(Protea Boekhuis, R200)

Salomé word uit 'n diep slaap gewek deur 'n dringende klop aan haar kamervenster.  Dis 1901 en die Anglo-Boereoorlog is in volle swang.  Hans van Zyl, Boereverkenner, klimdeur haar venster.  Salomé se lewe verander handomkeer.  Sy raak diep betrokke by die Boere se spioenasie netwerk.  Maar hoe lank kan sy hierdie dubbel lewe handhaaf?

Sy word intussen byna gedwing om gunste van die kakies te aanvaar weens haar ma se siekte.  Kan dit waar wees dat sy, Salomé die patriot, aangetrokke voel tot 'n Britse offisier? Salomé is immers getroud, al beskou sy haar man as ‘n verraaier.

Sy gaan werk as hulpverpleegster in die Irene-konsentrasiekamp waar daar heelwat ontnugtering op haar wag.  Die oorlog is nou werklik en skielik besef sy dat die wêreld nie om haar bestaan draai nie, en dat ander mense swaarder kry as sy.  Kan Salomé na al haar ontberings die pad alleen stap? –  Jenny du Toit

The Golden Hour.tif FOTO: verskaf

The Golden  Hour,  William Nicholson (Quercus, R194,95)

Hierdie is Nicholson se derde boek wat in die fiktiewe Britse dorpie, Edenfield, afspeel. Ek het nie sy vorige romans gelees nie, maar dit het geensins my genot van “The Golden Hour” bederf nie. Die verhaal strek oor sewe dae gedurende die somer en draai om die lewens van ‘n groep middelklas inwoners wat oënskynlik suksesvol en gelukkig is.  Maar die skrywer onthul die karakters se wroeginge en warboel emosies op ‘n meesterlike wyse.

Dit het soms ingewikkeld geraak om myself in elke karakter se skoene te plaas. Die pas is vinnig en die skrywer spring rats tussen elkeen se storielyn. Byvoorbeeld: Andrew is verpletter omdat sy meisie, Maggie, nie by hom wil intrek nie. Henry en Laura verlang na hul seun, Jack en verwelkom sy arrogante vriend, Toby in hul huis. Henry ervaar ‘n middeljare krisis en Laura se swaer is heimlik verlief op haar. Liz en Alan se verhouding is gestriem en haar bejaarde ma maak haar lewe hel.

Al die karakters se storielyne is met mekaar verweef. Die boek voel soos die Britse romantiese komedie Love Actually, maar omdat die verhaal plotseling stop, ervaar die leser nooit die nodige emosionele katarsis nie. My finale indruk was: maar wat nou? – Lee-Ann Steenkamp

The Ingredients of Love FOTO: verskaf

The Ingredients of Love, Nicolas Barreau(Quercus, R134)

Wat is meer romanties as 'n liefdesverhaal wat begin by 'n klein restaurantjie in Parys, Frankryk?  Dis hier by "Le Temps des Cerises" dat André die eerste keer vir Aurélie sien.  Sy is die eienares en dis háár glimlag wat hom so betower.  Hy is so oorweldig daardeur dat hy ‘n boek daaroor skryf.  Hierdie einste boek maak uiteindelik Aurélie se gebroke hart heel en gee haar weer 'n lus vir die lewe.

Nadat haar kêrel haar sonder enige waarskuwing gelos het, dwaal sy doelloos rond in die strate van Parys.  'n Bekommerde polisieman agtervolg haar en om hom te ontglip, loop sy in 'n vreemde boekwinkel in. Dis hier waar sy op die boek afkom waarin geskryf word oor haar restaurantjie en ook meer spesifiek oor haar.  Dis net wat sy nodig gehad het om alles wat gebeur het te verwerk en ook opnuut ware liefde te vind. Die verhaal is deurspek met beskrywings van heerlike resepte en interessante plekkies. – Jenny du Toit

The Irresistible Inheritance of Wilberforce FOTO: verskaf

The irresistible inheritance of  Wilberforce, Paul Torday (Weidenfeld & Nicolson, R151)

Laat een somersaand neem Wilberforce, ‘n ryk jong man behep met sy werk by ‘n sagtewaremaatskappy, ‘n onverwagte ompad huis toe.  Dis sy eerste stap in ‘n rigting wat sy lewe radikaal sou verander.

Hy ontmoet Francis Black, wat hom voorstel aan ‘n wêreld waar wyn, gasvryheid en hartlikheid vrylik vloei. Deur Francis word Wilberforce ingewy in ‘n lewe wat hy nooit vir homself kon voorstel nie – beloftes van vriendskap en avontuur, van aanvaarding,  en selfs liefde is nou binne sy bereik.

Wilberforce koester ‘n nuutgevonde passie vir goeie wyn,  maar selfs goeie wyn het ‘n bitter nasmaak. . .

Dis ‘n verhaal van obsessie en verslawing, lojaliteit en verraad. Dis nogal interessant dat die storie met die einde begin. - Chris Botha

I Think I Love You FOTO: verskaf

I think I love you, Allison Pearson (Chatto & Windus, R122)

Petra en Sharon is dertienjarige meisies wat David Cassidy, die popster van die sewentigs, aanbid.  Hulle weet absoluut alles van hom.  Koop elke maand sy tydskrif en knip al sy artikels en foto's uit ander tydskrifte en koerante. Dan wen hulle 'n vasvra-kompetisie wat Bill, die skrywer van die Cassidy-stories in die tydskrif, opstel. Petra se ma steek egter die wenbrief weg en Petra ontdek dit 24 jaar later na haar ma se afsterwe. Intussen skei Petra van haar man en besluit om te bel en haar prys op te eis. Hier kom die kinkel in die kabel. Bill het intussen die grootbaas van 'n hele groep tydskrifte geword.  Hy reël dat Petra en Sharon saam met hom na Las Vegas vlieg om 'n David Cassidy-vertoning by te woon en daarna 'n onderhoud met hom te voer. Verder verg dit nie veel verbeelding om te raai wat volgende gebeur nie.  Ja, voorwaar, Bill en Petra besef  hulle het gevoelens vir mekaar en dat hulle mekaar aanvul en voltooi.  Bill se vasvra het hom en Petra na al die jare bymekaar uitbring.  Die eerste helfte van die boek se tempo is stadig, maar wanneer dinge in plek val sien jy uit na hoe die storie gaan eindig.  – Jenny du Toit