Wat is lekkerder as vakansie? Om tyd te hê vir lees, is my antwoord! As jy op die strand lê, onthou asseblief jou hoed en sonskerm. Natuurlik ook jou donkerbril. As jy soos ek, vakansie hou in die binneland ruim vir jou ’n knus lêplekkie in en geniet ’n boek.

Koukonap, Johann Botha (Queillerie, R260)

Wat ’n heerlike terugreis na vervloë dae! Dis die verhaal van die Fouries. Pa Lood word verplaas van die Oos-Vrystaat na die dorpie, Koukonap, in die Noord-Kaap.  Dis waar die drie seuns grootword en ontdekkings maak oor die lewe. Sommige is minder aangenaam, soos die dood van ’n maatjie terwyl hulle gespeel het en die konflik met ’n seun van ’n ander kleur. Die lewe op ’n kleindorp in die vroeë jare in Suid-Afrika word in pragtige vinjette uitgebeeld. Interessante karakters gee kleur aan die vertelling en jy kan nie anders as om empatie met die wel en weë van die inwoners van Koukonap te hê nie. Dis amper tragies om te lees hoe Dries, Lood se oudste seun, vir die eerste keer bewus word dat daar ’n verskil is tussen hoe wit en swart mense behandel word. Die lewenslesse en bewusthede wat die Fouries opdoen tydens hul verblyf in die klein dorpie kan mens jou ook mee vereenselwig. Baie daarvan is ook ons eie ervarings. ’n Lieflike boek wat ’n greep van die lewe ontbloot. – Phyllis Green

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

’n Ander vrou se rok, Kristel Loots (Tafelberg, R180)

Zia Bekker is ’n onderwyseres in Afrikaans vir matrieks. Sy wil graag funky wees, maar wie kan dit bekostig op ’n onderwyssalaris? Daarom koop Zia tweedehandse ontwerpersklere by ’n liefdadigheidswinkel. Ongelukkig pas ’n ander vrou se rok nie altyd so lekker aan jou lyf nie, en ook nie in jou lewe nie. Boonop laat die matrieks haar dit nie sommer vergeet nie.

Ná ’n uitbarsting in die klas bedank Zia en sit sy werkloos. Skielik wil Karel, haar kêrel, niks met haar te doen hê nie. Hy soek immers ’n ordentlike vrou wat nie skandes maak nie. Toe sy die dag dus by Creative Creatures se deure instap vir ’n onderhoud, het sy nie verwag dat sy die werk sou kry nie. En nog minder dat sy haar hart op die eienaar, Jack de Villiers, sou verloor. Die man wat soos ’n winkelpop lyk en meisies kies wat by sy dasse pas … Niks goed kan daarvan kom nie.

’n Verhaal so reg uit die alledaagse lewe wat mens kort-kort hardop laat lag! ’n Lekker lees! – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Liefde in die Ou Kaap, Sarah du Pisanie (Lapa Uitgewers, R214,95)

Die bundel bevat twee verhale – Don Poseidon en Lilie.

Don Poseidon.  1790 – Die Franse adel vlug voor die guillotine. Die jong Pauline, vermom as ’n kajuitjonge, bevind haar aan boord van ’n skip op pad na die Kaap die Goeie Hoop, waar haar sterwende vader en haar aanstaande bruidegom, die markies Giliomee, vir haar wag. ’n Huwelik wat deur haar vader gereël is sodat sy ’n nuwe lewe in hierdie vreemde land kan bou. Die reis is egter nie net vol gevare van ruwe seestorms tot seerowers nie, maar dis ook ’n tyd waarin sy al hoe nader groei aan die forse skeepskaptein, Louie, en die bemanning wat haar as een van hulle aanvaar. Pauline is in ’n tweestryd tussen haar vrees vir die onbekende wat voorlê en die nuwe gewaarwordinge in haar hart. ’n Lekker lees met ’n onverwagte kinkel aan die einde!

Lilie.  Ons kuier nog ’n rukkie langer saam die karakters van die Don Poseidon, maar net ’n geslag later.  Die verhaal speel af in die Franschhoek-vallei waar nuwe boere uit Nederland, Brittanje, Frankryk en Duitsland die ongerepte Kaap begin tem met die uitlê van plase. Lilie is ’n jong meisie, vasgevang in waardes en gebruike van die tyd, maar stel belang in geneeskunde en gedra haar nie altyd binne die aanvaarde norme van die tyd nie. Sy moet ook veg vir die liefde van ’n man wat nie van haar as vrou bewus is nie. Die liefde pynig haar elke uur van die dag. Tussen perdry-ongelukke, verraad en ontvoerings hou die verhaal jou geboei. Natuurlik seëvier die liefde, soos dit in ’n goeie roman hoort. – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

End of Watch, Stephen King (Hodder & Stoughton, R365)

End of Watch is die laaste boek in Stephen King se Hodges-trilogie, die ander twee boeke in die reeks is Mr. Mercedes en Finders Keepers. In Mr. Mercedes jaag Brady Hartsfield, met ’n Mercedes-Benz, deur ’n groep werksoekers. Agt mense sterf en 15 is ernstig beseer. Brady word aangekeer teen die einde van die verhaal toe Holly Gibney hom oor die kop geslaan het om te keer dat hy ’n klomp tieners tydens ’n musiekkonsert opblaas. So doen hy ’n breinbesering op en is in ’n koma. In End of the Watch is Brady steeds in die hospitaal in ’n koma waar hy met eksperimentele medisyne behandel word deur ’n dokter. Die dokter se redenasie is dat Brady in ’n koma is en nooit gaan wakker word nie, maar die medisyne het onverwagte newe-effekte wat telekinesis insluit. Pete, ’n kollega uit Bill Hodges se polisiedae, vertel vir Hodges van ’n moord/selfmoord-ondersoek wat moontlik verband hou met die Mr. Mercedes saak. Bill besluit om meer uit te vind oor die moord/selfmoord-ondersoek, en besef vinnig dat dit nie ’n afsonderlike geval is nie. Brady met sy nuwe vermoëns is besig om almal in die Mr. Mercedes saak te teiken. Hodges se dilemma is alhoewel hy weet dat Brady betrokke is, hoe bewys hy dit en verhoed dat meer mense hul lewens verloor. Die verhaal is ’n kombinasie van ’n gruwel- en speurverhaal soos net Stephen King dit kan doen. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Ink and Bone, Lisa Unger (Simon & Schuster, R305)

Ink and Bone is die vierde boek in Lisa Unger se The Hollows-reeks. Die 23-jarige Finley Montgomery bly by haar ouma Eloise Montgomery in The Hollows, New York. Finley probeer om ’n nuwe lewe vir haarself te maak ná haar probleme in Seattle (soos vertel in Crazy Love You). Beide Finley en Eloise is spiritistiese mediums.

Jones Cooper, ’n privaatspeurder, word deur Merri Gleason genader om haar te help om haar dogter, Abby, te vind. Abby het verdwyn toe sy saam met haar familie, in die omgewing van The Hollows vakansie gehou het. Abby het saam met haar pa en broer gaan stap; Merri was nie saam nie en daaroor blameer sy haarself. Abby is ontvoer terwyl haar pa en broer geskiet is, maar hulle het oorleef. Jones, saam met wie Eloise gereeld saamwerk, nader haar om te help met ’n saak, maar dis Finley wat ’n konneksie maak met die saak. Finley sukkel om haar psigiese vermoë te beheer en te gebruik. Sal sy Abby vind voordat dit te laat is?

’n Goeie spanningsverhaal waarin bonatuurlike kragte vir ’n boeiende storielyn sorg. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Perfect Daughter, Amanda Prowse (Head of Zeus, R220)

Sy is ’n vrou, ma en dogter, maar êrens oor die jare het Jacks Morgan haarself verloor. Elke dag is propvol met die vervulling van haar gesin se behoeftes, twee moeilike tieners en ’n ma met Alzheimers se siekte. Sy het amper nie eers tyd om ’n koppie tee te drink nie, wat nog te sê om te tob oor onvervulde drome en dit wat kon gewees het. Alhoewel sy nie die lewe lei waaroor sy gedroom het nie, is sy vasbeslote om haar dogter, Martha, die kans te gee wat sy nooit gehad het nie. Maar dan verskyn daar ’n nuwe kêrel uit die bloute uit in Martha se lewe, en Jacks is bang die geskiedenis gaan homself herhaal. Boonop duik daar ook ’n gesig uit Jacks se verlede op en haar lewe raak nog meer ingewikkeld en sy weet nie watter kant toe nie.

’n Verhaal wat mens insig gee in hoe gewone mense uitsonderlike situasies hanteer.  ’n Ware inspirasie. – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

The Beach Hut Next Door, Veronica Henry (Orion Books, R165)

Daar staan ’n lang ry strandhutjies, sewe en vyftig om presies te wees, op Everdene se strand.  En net soos elkeen se kondisie verskil, so verskil die stories van die onderskeie eienaars. Die boek raak net aan ’n paar van hierdie stories, maar nietemin is elkeen besonders en eindig almal gelukkig.

Die verhaal van Elodie is meer uitgebreid omdat die herehuis op die kop van die heuwel, Grey House, aan haar familie behoort het.  Hier word sy groot, het sy haar beste tye, maar dan ook haar hartseerste tyd van haar lewe. Haar lewe loop vol sirkel wanneer sy op haar troudag weghardloop en dan op sewentigjarige leeftyd terugkeer ná ’n afwesigheid van vyftig jaar om die eiendom, strandhut ingesluit, te koop.

Al die karakters waaroor geskryf word se verhale is baie uiteenlopend en totaal verskillend. Vat byvoorbeeld Vince en Chris, twee broers wat hul pa verloor op die see en dan is daar Tim en Rachel wat nie swanger kan raak nie wat besluit om te skei maar dan tog nie. Dan is daar weer Chloe wat gearresteer word vir diefstal, maar wat haar lewe handomkeer verander. En ook Kiki wat al in die tronk was, maar in een van die hutte kom bly vir die somer. Die boek lees baie lekker en boonop word die goedvoel element telkens herhaal. – Jenny du Toit

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

The Girl on the Train, Paula Hawkins (Doubleday, R264)

Die boek sal jou van begin tot einde intrek en vasvang. Die verhaal begin waar Rachel vanuit die venster van 'n trein inkyk op die lewens van 'n getroude paartjie, Megan en Scott, in 'n huis waar die trein verby ry. Die verhaal begin momentum kry met die verdwyning van Megan, die vrou in die huis. 'n Polisie-ondersoek vind plaas en deur  'n sameloop van omstandighede word Rachel ook ondervra. Wat die intrige egter verder laat verdiep, is dat Rachel te midde van haar drankprobleem obsessief is om te bewys dat Scott onskuldig is. Terselftertyd worstel sy met geheueverlies wat haar getuienis onbetroubaar maak. Te midde van die krisis is haar lewe ook nou verweef met die van Tom, haar gewese man en sy nuwe vrou, Anna. Die verhaal se ontknoping is skokkend, dog realisties. 'n Moet-lees boek vir aanhangers van sielkundige rillers en 'n aangename leeservaring. Beslis aanbevelenswaardig. - Anne Marais       

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

The Marble Collector, Cecilia Ahern (Harper Collins, R310)

In een dag verander die lewens van Fergus Boggs en sy dogter Sabrina handomkeer. Fergus leef sy hele getroude lewe met twee identiteite. Hy het gedurig hierdie geheimsinnige houding. Ná sy beroerte in sy middel vyftigs kom alles egter na vore. Twee dose gevul met albasters van elke soort, kleur en grootte word deur Sabrina oopgemaak. Sy het geen benul van wat dit alles beteken nie. Twee van die duurste versamelings albasters word egter vermis en sy is vasberade om dit te kry. En so stuk vir stuk word Fergus se geheime lewe onthul. Dit word ook vir Sabrina al hoe duideliker hoekom sy so afsydig is in haar eie lewe. Dit is ’n ontdekkingsreis wat van onskatbare waarde is vir pa en dogter.  Ek het die boek baie geniet en sal dit aanbeveel.  – Jenny du Toit

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

The One-in-a-Million Boy, Monica Wood (Headline UK, R325)

Ona Vitkus is ’n 104 jaar en 133 dae oud. Sy tel elke dag.

Die Boy Scouts laai elke Saterdagoggend ’n seun by haar voordeur af om haar met take rondom die huis te help. Die laaste seuntjie wat aan haar voordeur klop, is elf jaar en sy verwag dat hy ook sal ophou om op te daag. Maar hy kom elke Saterdag getrou om sy take af te handel en stadig vind Ona in hom ’n vertroueling teenoor wie sy weer haar hart kan oopmaak. Hulle deel ’n belangstelling in voëls en hy luister aandagtig terwyl sy haar lewensverhaal aan hom vertel. Die seun se droom is om Ona se naam in die Guiness Wêreldrekordboeke te verewig en hy dink dat sy op 104 die oudste mens op aarde moet wees. Ona het egter kompetisie vir hierdie titel. Dit laat hulle nie afsit nie en hulle besluit dat Ona weer haar rybewys moet kry. So kan sy darem solank die titel “Oudste mens met bestuurslisensie” agter haar naam skryf. Maar ná verskeie Saterdae is dit die seun se pa, Quinn, wat aan Ona se voordeur klop en die lewe neem hulle op ’n avontuur wat nie een van hulle verwag het nie.

The One-in-a-Million Boy boei van die begin tot aan die heel einde en tussen trane, lag en verlange deur leef die leser saam met Ona in haar 104 jaar se herinneringe. -  Antoinique van Staden