Ek praat van daardie ding wat gebeur wanneer ’n man homself begin wysmaak sy motor, wat hy gister nog by enige braaivleisvuur sou verdedig as een van die betroubaarste motors op die pad, is vandag nie meer voldoende nie.

Sekerlik, naas die slang-in-die-vrugteboom-affêre, die grootste versoeking op onse aardbodem. En die gevolge daarvan dikwels amper ewe vreeslik.

Vreemde dinge begin gebeur met ’n man se logika wanneer dié versoeking hom beetpak. Gister was daar nie geld vir ’n nuwe rusbank nie, is al wat ’n dreigement geslinger in die rigting van een en almal wat ’n kraan laat drup of ’n lig onnodig aanlos. ’n Klein oorloggie het uitgebreek as ’n kind net ’n bietjie te veel kriewel of vroetel in die kar, want hierdie kar moet nog jare hou, daar’s nie geld vir ’n ander een nie.

Asof uit die hemel kom die wending in die begroting, niemand sal eens agterkom daar moet ’n ekstra klein paaiementjie elke maand betaal word nie. So ’n kans kan ’n mens nie laat verbygaan nie. En uiteindelik glo elke man in hierdie versoeking sy eie argumente.

Skielik is die getroue huidige motor ’n gevaar vir die gesin se veiligheid, is die enjingeluide rede tot diepe kommer, gaan hy van nou af drasties in waarde verminder, ensovoorts ...

Elke vrou ken dié verderflike pad wat die manlike geslag bedreig. Elke vrou weet van die wrede misleiding wat op haar wederhelf wag ná daardie eerste koop van ’n motortydskrif tot by die ontnugtering dat dit maar net nog ’n ryding (en nog skuld) is. En elke vrou weet dit is net ’n kwessie van tyd voor die eertydse slang hom gaan vermom as ’n verkoopsman en êrens tussen blink vierwiel-Delilas gaan wag.

Snaaks hoe ons almal maar moet veg teen die oulike leuens wat ons om elke draai inwag. Ek wonder of daar nie êrens ’n spesiale straf wag op mense wat advertensies skryf nie. Die regte waspoeier gaan jou huwelik na nuwe romantiese hoogtes neem. ’n Sekere haarsjampoe gaan jou sosiale lewe vir ewig verander. Om nie te praat van die ommeswaai wat die regte reukweerder in jou eensame bestaan sal bewerkstellig nie.

Miskien is dit sedert Eden en tot by kar koop tog dieselfde met alle versoekings - die misleiding dat hierdie een ding (of mens) vir my dit gaan gee waarna ek hunker.

Hoe sukkel ons nie om die les te leer dat die leemte van die binneste nie deur gemaakte dinge gevul kan word nie, maar deur die Maker van alle dinge.