Jou drome word in jou eie private taal “geskryf”. Dis hoekom die betekenis dikwels onduidelik is. Drome bevat boonop beelde, eerder as woorde. Daar is universele simbole in drome, soos die see. Ons assosieer die see met emosies. Maar jy moet ook weet wat die see vir jou persoonlik beteken. As jy byna in die see verdrink het, gaan dit waarskynlik heeltemal ’n ander betekenis hê as vakansie en son. Ontleed ’n simbool totdat dit vir jóú sin maak. Jy droom meestal van jouself, al is die mens in jou droom iemand anders. Dus: Al is jou suster die “hoofkarakter” in die droom, is die droom se betekenis steeds op jóú van toepassing. Droom jy van ’n baba of jong mense (veral van jou eie geslag), kan dit dui op ’n aspek van jouself wat jy nie ontwikkel het nie of ontken. Wat is dit in jouself waaraan jy aandag moet gee? Droom jy van ’n dier, is dit waarskynlik óók op jouself van toepassing. Jy droom jou getroue hond byt jou. Het jy iemand vertrou wat jou seergemaak het? Drome oor die dood beteken dikwels dat iets, dalk ’n deel van jou persoonlikheid of lewe, besig is om verby te gaan of minder belangrik te word.