Haar kinderboek, A is vir appel (Human & Rousseau, R120), was net die begin – Vicky wil opvoedkundige en kreatiewe stories vir kinders skryf ... en dalk sommer nog fiksie vir volwassenes ook!

A is vir appel is ’n bundel vol oulike rympies, vrolike illustrasies en helder foto’s om die ABC maklik vir die kleinspan te leer. So kan kleuters nie net letters van die alfabet leer ken nie, maar sommer ook die klanke uitken en ontdek watter woorde om daarmee te assosieer.

A is vir Appel (Human & Rousseau, R120)

Wat het jou laat besluit om ’n kinderboek te skryf?
Skryf was nog altyd deel van my lewe en werk. Ek was in 2011 een van die bydraende skrywers van NB Uitgewers se bundel kinderverhale deur Afrikaanse kunstenaars, Rondomtalie. Die ABC-boek het toe net natuurlik gevolg. Ek hou daarvan om kreatief te wees met ’n opvoedkundige doelwit in die oog. Boonop het ons gevind dat daar ’n vraag is vir oorspronklike leer-lees-boeke in Afrikaans omdat die meeste weergawes vertaal word. Dié boeke spreek dan nie altyd tot die Suid-Afrikaanse kind se omgewing nie.

Hoe oud is die kinders vir wie jy skryf?
A is vir appel is vir 3- tot 6 jariges.

Hoe lank het jy aan die boek geskryf?
Die skryfproses het taamlik vinnig gegaan, maar die skaafproses saam met my uitgewer het langer geduur. Dis ’n konstante proses van herkou en nog weergawes lewer totdat dit reg is. En dan, wanneer die teks korrek is, spring die illustreerder, Chris Venter, in. 

Wat was die lekkerste deel van die skryfproses?
Die lekkerste deel was die skryf van die rympies natuurlik, en om dit spelerig en verbeeldingryk te kon aanbied. Ek het dit ook baie geniet om te sien hoe Chris die woorde interpreteer en uitbeeld in sy illustrasies en hoe die hele boek dan kleur en lewe kry.

En die moeilikste deel daarvan?
Dat daar net 26 letters in die alfabet is! 

Wat is die belangrikste les wat jy uit die hele proses (van die skryf tot die uitgee van die boek) geleer het?
Ek het geleer dat jy nie oormatig precious kan wees oor jou werk nie en dit vryheid moet gee om te word. Almal betrokke by die uitgee, is daar om ’n rede – van die uitgewer en illustreerder tot die bemarkingsmense. Jy as skrywer moet jouself daardeur laat lei.

Beplan jy om in die toekoms nog iets te skryf?
Beslis! Ek sal graag nog vir kinders wil skryf in ’n opvoedkundige sowel as kreatiewe kapasiteit, en ook volwasse fiksie.

Hoe het jy en Chris Venter die illustrasies gekies?
Nadat die teks voltooi was, het ek en Chris ontmoet en die aard van die illustrasies bespreek. Ons het ook gekyk na watter woorde illustrasies moes wees en watter foto’s sou wees, vanwaar hy gegaan het en sy eie stempel op die teks afgedruk het. Dit was vir my wonderlik om te sien hoe hy die woorde neem en uitbeeld.

Wat is jou gunstelinge op jou bedkassie?
Ek is versot op kinderverhale en illustrasies, so ek versamel graag kinderboeke. As leser geniet ek realisme soos in die werk van Jonathan Franzen en Don DeLillo. My gunsteling-boek bly egter die roman 18/44 deur Etienne Leroux. Maar my gunsteling-skrywer is Ingrid Winterbach en ek lees tans haar Die boek van toeval en toeverlaat.