Daar is deesdae sulke lekker kinderboeke, soos die wat legkaarte bevat, “soek die meerkat”-speletjies en aktiwiteitsboeke en sommer net lekker kyk- en leesboeke.

Mari Rheeder bespreek sommer ’n hele klomp kinderboeke, spesiaal vir die vakansie.

Om ’n resensie te skryf oor hierdie boeke moet jy jouself kan plaas in die skoene van ’n kind. Jy moet terugkeer na die dae van prinsesse en ridders, vreemde verskynsels, apies en skapies wat vermis is en rympies van trekkers op ’n plaas. Vir iemand in haar 20’s is hierdie boeke ’n geleentheid om weer meegevoer te raak in jou eie verbeeldingswêreld. Wanneer ’n resensie oor ’n kinderboek geskryf word, is dit die vermaakliheidsfaktor wat meer punte sal verdien eerder as lang inhoud en groot woorde.

Onthou om ons boekwinkel op Kalahari.com te besoek om van hierdie boeke aanlyn te bestel.

Holderstebolder: Rympies vir Rakkers, Jaco Jacobs, illustrasies deur Karen Ahlschl?ger (Lapa Uitgewers, R99,95)

Die helder, gelukkige, lawwe versameling rympies is kort en bondig geskryf om klein kindertjies se aandag te hou. Blaai deur die bladsye en volg die daaglikse roetines van seuntjies en dogtertjies op ’n opwindende manier. Hetsy dit opstaantyd is, blokkies of legkaart speel, of verjaarsdagvieringe, bevat hierdie boek ’n rympie vir elke gebeurtenis in ‘n kleintjie se lewe. Elke rympie is kort wat dit maklik maak vir die kleinspan om dit te memoriseer en weer op te sê as ouma of oupa kom kuier.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Die lekkerte van… slaaptyd, Trace Moroney (Bargain Books, R49 of 3 vir R99)

Hierdie reeks bevat agt titels ondermeer die “Lekkerte van… Myself wees” en die “Lekkerte van… Skool”. Dis so ontwerp om alledaagse situasies wat deur kinders ervaar word op ’n praktiese en noodsaaklike manier weer te gee. Die lekkerte van… slaaptyd beskryf alles wat moet gebeur voor boetie of sussie in die bed gesit kan word. Hierdie tyd van die dag kan vir talle kinders ’n tragiese ervaring wees, maar die storie word op ’n eenvoudige manier vertel om kinders voor te berei vir dit wat hulle moet doen. Leer by hasie waar sy bad, pajamas aantrek en oomblikke van die dag met haar pappa deel. Die boek bevat notas vir ouers, opvoeders en oppassers oor hoe hulle elke ervaring behoort te hanteer. ’n Uitstekende boek om die stappe in ’n kind se lewe vir hom of haar lekkerder en makliker te maak. Eksklusief beskikbaar by Bargain Books. Vir ’n lys van winkels, besoek: http://www.bargainbooks.co.za/index.php?option=com_content&view=category&id=56&Itemid=62.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Soek die skapie, Brenda Apsley (Human & Rosseau, R79,95)

Dié boek kleurvolle, hardebandboek is maklik hanteerbaar, veral vir sy piepklein lesers. Volg vir Ben die skaaphond in sy reis waar hy opsoek is na Lika die skapie. ’n Spesiale paadjie is so ontwerp vir kleine vingertjies om te volg tot by flappies, waaragter ’n verrassing skuil. Op elke bladsy is daar talle diere wat ure se vermaak verskaf. Die illustrasies is pragtig helder en duidelik. Ek kan beslis sien hoekom kleuters hierdie boek sal geniet. Die ander boek in hierdie reeks is “Apie se magie”. Die boekies is in Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Meneer Klaasneus se Reusagtige Vriend, Charles de Villiers, met illustrasies deur David du Plessis (Struik Nature, R80)

Klaasneusmuis is op sy avontuur deur die savanna van Afrika, maar hy sukkel om te aanvaar hy is klein van statuur. Hy ontmoet ’n skilpad wat aanbied om hom te vat na daar waar die groot ou olifant wei. Hulle reis verloop egter nie glad nie, met ’n neushoringvoël en tierboskat op hul spore. Die storie is redelik lank wat dit perfek maak vir slaaptyd. Die illustrasies maak die kleinspan bewus van die natuur, omdat dit geskets is op ’n realistiese, tog sensitiewe manier wanneer dreigende situasies uitgebeeld word. In hierdie reeks is ook Meneer Koning se Ongelooflike Reis, wat die verhaal vertel van ’n pikkewyn se besoek aan die verafgeleë Suid-Atlantiese eiland. Beide titels het aktiwiteitsboeke met inkleurprente, plakkers, legkaarte en ander aktiwiteite. Die aktiwiteitsboeke is deur David du Plessis saamgestel en kos R50 elk. Hierdie reeks boeke is ook in Engels beskikbaar.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Ons kan, Martie Preller, illustrasies deur Andries en Erica Maritz (Lapa Uitgewers, R90)

’n Boek vol avontuur, pret, humor en angs. Ons ken almal vir Babalela, die klein, pers bosbewonertjie. In sy nuutste avontuur skrik Babalela hom flou wanneer die bos wat gewoonlik geruisloos is, oortrek word deur ’n nare gerammel. Die altyd brawe Babalela stel ondersoek in. Hy kom agter daar is ’n groot, geel stootskraper wat aan die rand van die bos besig is om die bome om te stoot. Die vrees dat hul geliefde bos in gevaar is, is genoeg om Babalela en sy vriende te inspireer om iets te doen aan die geel monster. ’n Heerlike storie vir slaaptyd.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Onverklaarbaar, Jaco Jacobs (Lapa Uitgewers, R120)

Almal sal hierdie boek interessant vind, ongeag jou ouderdom. Of dit nou bog of feite is, het elke kind ’n fassinasie met hierdie vreemde karakters soos eenhorings, spoke en vampiere. Dis belangrik om ingedagte te hou dat hierdie boek nie beweer dat daar iets is soos drake en aapmense nie, maar dis tog interessant om te weet waar die bangmaakstories vandaan kom. Die boek bevat feite van gebeure wat aanleiding gegee het tot hierdie gerugte. Die talle illustrasies sal ’n kind se verbeelding aangryp. Die vraag bly – is hierdie karakters feitelik of is dit ONVERKLAARBAAR?

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Die Wildtuin-Bus, geskryf en uitgegee deur Nico Moolman (R130 op bestelling by Nico Moolman)

Maak jy hierdie boek oop besef jy dat jy jou bevind in die vlaktes van Suid-Afrika. Gaan saam met Dassie en Kwaggie op ’n reis deur die wildtuine van ons pragtige land en leer die maniere van bekende diere. Die boek is op ’n kort en kragtige manier geskryf en in rymvorm. Kinders lees van die lui seekoei wat net wil bad en gaap, die krokodil wat net wil slaap, die bromvoël met sy koggel-lag en ’n rooikat-mamma wie se ore spits, terwyl sy haar babas oppas. Die belangrikste karakter wat in hierdie boek sy verskyning maak en aan wie die boek ook opgedra is, is die renoster. Die gevaar van stropers in hierdie land word ook uitgelig. Die boek bevat ook ’n afmerk-lysie wat gebruik kan word op reis deur Suid-Afrika se talle wildtuine. (Bestel by lingloi@telkomsa.net)

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Halsoorkop, Miriam Koch (Protea Boekhuis, R120)

Halsoorkop is ’n drietoonstrandloper voëltjie wat haastig op pad is oral waar hy gaan. Hy dra ’n goue sakhorlosie by hom, maar steeds is hy laat vir sy belangrikste afspraak. Hierdie voëltjies bly in die somermaande aan die Noord-Duitse kus, maar verhuis gedurende die winter na Europa en Afrika. Halsoorkop is egter laat en mis die vlug saam met die ander voëls. Hy probeer tevergeefs om by hulle uit te kom. Die storie is dromerig geskryf met pragtige illustrasies en min teks. Hierdie is ’n prenteboek waarin weer en weer geblaai sal word. Dit is een van daai boeke wat jy graag vir ander sal wil wys. Die boek is uit Duits vertaal deur Nicol Stassen.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Soek die meerkat – ‘n reis deur tyd, Jen Wainwright (Protea Boekhuis, R120)

Hierdie boek sal sorg vir groot vermaak wanneer jy daardeur blaai op soek na die 10 lede van die meerkat-familie, asook hulle 2 vriende: Ferdinand, die arend en Ernst, die eekhoring. In ’n Reis deur tyd ontwerp een van die meerkatte ’n tydmasjien waarin al die karakters van hierdie boek op ’n reis gaan deur die eeue. Dis ’n uitstekende boek om die jongspan te leer van belangrike geskiedkundige gebeure. Volg die meerkatte deur Griekeland 861 v.C., die Nylrivier in antieke Egipte, die tyd van die dinosourusse, 1989 met die afbreek van die Berlyn-muur asook talle ander tye. Nog ’n titel in hierdie reeks is Soek die meerkat - met vakansie.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Geheime Koninkryk: Meerminrif , Rosie Banks(Lapa Uitgewers, R80)

Ideaal vir ouer kinders, omdat hierdie boek baie leeswerk bevat. In hierdie reeks ontmoet ons drie boesem-vriendinne, Janie, Bianka en Tamsin. In Meerminrif beleef die drie ?n betowerende avontuur onder die see. Die verhaal sorg vir hope vermaak terwyl die vriendinne probeer om die wenspêrel te red . . . ?n Tipiese feëverhaal, bedoel vir dogtertjies met groot verbeeldings. Die boek bevat alle dinge waaroor jong meisies dol is: vriendskappe, avonture en fantasie. Jong lesers raak ook bekend met goeie leesteken gebruik in hierdie verhale sowel as ?n meer volwasse skryfstyl. Daar is nog titels beskikbaar in hierdie reeks. Die stories is in Afrikaans vertaal deur Jaco Jacobs.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Daar’s ’n T.Rex in die tuin, Ruth Symons, illustrasies deur Aleksei Bitskoff (Human & Rousseau, R49,95)

“Wat as dinosourusse vandag nog gelewe het?” Dis die vraag wat hierdie reeks boekies afskop. Feite van spesifieke dinosourusse word in die storie ingeskryf op interessante maniere. Kyk hoe leef die T.Rex denkbeeldig in ’n huis. ’n Dinosourus in ’n huis lewer ’n paar skreeusnaakse gevolge op. Die feite wat gegee word, is insiggewend en iets wat elke kind behoort te weet: hoe vinnig kon hy hardloop, hoe sterk was hy, hoeveel kon hy eet, asook die grootte van sy tande. Agter in elke boek is foto’s van die fossiele en daar is x-strale van elkeen. Daar is nog drie ander boeke oor die ander dinousourusse. Vertaal deur Kobus Geldenhuys.