Ek was bevoorreg om die toernooi te kon bywoon en dit bly van my beste herinneringe. Hierdie afgelope weke het my bors weer geswel van trots vir al ons sportlui wat deelgeneem het aan die Statebondspele. Ek raak sommer tranerig wanneer ek sien hoe diegene wat medaljes verower het, die einste medaljes in ontvangs neem. Dan huil ek weer lekker oor die ander wat nie so goed gevaar het nie en die teleurstelling van om te verloor moet hanteer.

Een van die uitblinkers was Chad le Clos. Hy het ’n allemintige sewe medaljes losgeswem. In sy kort loopbaan het hy nou al 12 medaljes verower by verskillende kampioenskappe. In sy biografie vertel hy waar sy motivering vandaan kom en spreek hy die wens uit dat sy boek ander mense sal inspireer om ook hul drome uit te leef. Maar dis nie net hy wat my trots maak nie, dis elkeen wat op hul unieke manier ’n bydrae lewer, of dit ’n skeidsregter, fotograaf, skywer of sportadministrateur is. Hierdie week is al hierdie mense my inspirasie vir my boekkeuse.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

chad le clos

Chad le Clos - Unbelievable!, Myan Subrayan (Penguin, R175)

Pa Bert le Clos vertel in die eerste hoofstuk van hoe hy die woord “unbelievable” onvergeetlik gemaak het nadat Chad die 200 m vlinderslag by die 2012 Olimpiese Spele gewen het en hoe hierdie woord uiteindelik tekenend van dié goue seun van swem se loopbaan geword het – dis ’n gepaste titel vir sy biografie. Vir hom het sy droom om ’n Olimpiese kampioen te word, begin in 2004 nadat hy Michael Phelps se vertonings by die 2004 Olimpiese Spele in Athene gesien het. Toe het hy reeds gesê hy wil in 2012 na die Spele gaan. Glo my, as jy hierdie boek lees, sal jy sien hoeveel oefening hy moes insit en hoeveel deursettingsvermoë hy moet hê om te presteer in ’n baie eensame sport. In alles het hy hom gemeet teen Phelps, en geglo dis hoe hy sy kop reggekry het om ’n kampioen te word. Hy deel letterlik alles oor homself, van sy gesinslewe, sy oefenprogram, sy klein gewoontes en sy roetine net voordat hy aan ’n groot kompetisie deelneem. Die vertelling is boeiend en jy kan nie anders as om beïndruk te wees met hoe hardwerkend en nederig hy is nie. Daar is ’n hele paar lesse te leer uit sy jong lewe.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Call it like it is - The Jonathan Kaplan Story, soos vertel aan Mike Behr(Zebra Press, R220)

As rugbyliefhebber kan jy dalk ’n bietjie skaam kry wanneer jy hierdie boek lees. Dis die verhaal van Jonathan Kaplan, wat tot redelik onlangs in baie kringe as die beste skeidsregter in die wêreld beskou is.

Dis mos maklik om skeidsregters te kritiseer, maar wie van ons het die moed om die fluitjie te vat en beheer van ’n wedstryd te probeer neem? Kaplan hèt en sy verhaal begin waar hy dit reeds as ’n skoolseun doen.

Die boek is vermaaklik en eerlik. Ons lees van hoe Kaplan soms koes-koes moes fluitjie blaas (bottelgooiers, jy weet, en groot ouens wat jou onderstebo probeer hardloop) en van sy stryd om erkenning te kry vir sy werk.

Werk, ja, want hy was ’n voltydse skeidsregter. Ai tog, die arme man was maar min by die huis en dis dan geen wonder dat sy verhoudings nie gehou het nie. Aan die begin is dit pret, skryf Kaplan, maar later begin jy voel dat jy iets soos ’n gesinslewe mis. Maar dis nie wat ’n mens regtig wil lees nie. Jy wil lees oor die struwelinge op die veld en die binnegevegte in skreidsregterskringe en Kaplan hou nie terug nie.

Hy vertel van hoe die Aussie George Gregan hom gechirp het en hoe hy en die Suid-Afrikaanse skeidsregtersbaas Andre Watson kopgestamp het. En die leser herleef weer van die baie wonderlike wedstryde wat hy geblaas het saam met Kaplan en kry soms ’n ander insig daaroor.

Dis ’n genotvolle boek wat rugbyliefhebbers sal verslind, juis omdat dit vir ’n keer vanuit die skeidsregter se hoek vertel word.

Soos Kaplan ’n mens herinner – sonder ’n skeidsregter is daar nie eers ’n wedstryd nie. – Michael Green

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

South Africa’s 50 Most Famous Rugby Photos, Gallo Images (Jonathan Ball, R195)

Ek het geweldige respek vir sportfotograwe wat in wind en weer toegewyd langs die rugbyveld is, wedstryd na wedstryd, om die aksie in foto’s vas te lê. Om ’n goeie rugbyfoto te neem, verg kennis van die spel, goeie fotografiese tegniek en passie. Natuurlik speel geluk soms ’n rol. Die fotograaf is op die regte plek en die spel beweeg in sy rigting en hy is gelukkig genoeg dat daar iets dramaties op daardie tydstip gebeur. Vir bewonderaars en liefhebbers van rugby is hierdie boek ’n aanwins. Hier is 50 van die beste Suid-Afrikaanse rugbyfoto’s deur top-sportfotograwe bymekaar gemaak in een boek. Wie sal dan ooit Joel Stransky se skepskop op 24 Junie 1995 vergeet? Ja, daai een wat Suid-Afrika gehelp het om die Wêreldbeker te wen. Dis die foto waarmee die boek afskop, sommer oor ’n dubbelblad. Wat ’n oomblik, wat ’n foto! So kan ek aangaan om oor elke foto iets te vertel, maar hierdie visuele reis van herinnerings moet jy eerder self ervaar.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

The Rise Of The Phoenix – The Story of Sport in the New south Africa, Peter Joyce (Zebra Press, R230)

Die skrywer bekyk sporthoogtepunte, en ’n paar laagtepunte, ná Suid-Afrika se hertoetrede tot die internasionale sportarena. Dis ’n bondige oorsig oor die grootste en gewildste sportsoorte, maar daar is ook vertellings oor minder bekende sporte en die presteerders. Sibusiso Vilane, die eerste swart Suid-Afrikaner wat Everest geklim het tot op die kruin, se verhaal word ook gedeel. “Even if I collapsed at that time and passed out and died, I would not have had a problem. I would have been the happiest person ever.” Dis Vilane se woorde oor hierdie ervaring. Vir my was dit interessant om bietjie meer te leer oor hom, maar ook oor die uitdagings van hierdie ekspedisie. ’n Goeie boek om as geskenk te gee vir mense wat alles oor sport wil weet.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Potent Pastimes: Sport and leisure practises in modern Afrikaner history, Albert Grundlingh (Protea Boekhuis, R200)

Verstaan my mooi, hierdie is ’n ernstige dissertasie deur ’n gerekende professor in geskiedenis en nie sommer net so boekie wat jy vir ligte vermaak gaan lees nie. Waarom sou prof. Grundlingh ’n boek wou skryf oor so ’n lywige onderwerp. In ’n gesprek by die bekendstelling van sy boek het hy aan Louis Esterhuizen, bestuurder van Protea Boekwinkel Stellenbosch verduidelik “dat hy nog altyd gefassineer is deur die ingrypende effek wat sport op die Afrikaner en sy verbeelding het. “Waarom dié obsessie?” het hy gewonder. Toe besluit hy om dit akademies te ondersoek, want dit is ’n vraag waarmee hy al twintig jaar lank worstel. Die fokus van sy historiese studie is die wyse waarop sekere sport- en ontspanningspraktyke verbind is aan kulturele en politieke sake binne die Afrikanerkultuur. Die politiek, kerksake, asook die opkoms van Afrikanernasionalisme blyk ’n invloed te gehad het.” Hierdie een is vir mense wat baie ernstiger en dieper wil delf oor die invloed van sport op die Afrikaner se geskiedenis.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Hunting Africa – a practical guide, Dirk Botes, Pieter Smit en Gerhard Swan (Litera, R395)

Of mens van jag hou of nie, dit is ’n sport en tydverdryf wat deel is van die kultuur van Suid-Afrika. Onlangs is Victor Matfield, Springbok-kaptein verkies as die ambassadeur van die Suid-Afrikaanse Jagters-enWildbewaringsvereniging (SAJWBV), en is die gesig van die organisasie se nuwe True Green-bewusmakingsveldtog. Hierdie gids is die perfekte geskenk vir jagters en vir buitelewe-entoesiaste. Dit het oorspronklik in 2000 verskyn en is nou bygewerk met nuwe en relevante inligting. Daar is onder meer hoofstukke oor voorbereiding vir die jag, spoorsny, gewere en ballistiek, trofees en veldvoorbereiding, sowel as etiek en die wet. Wat die gids ook waardevol maak, is die detailinligting oor 130 wildspesies. In die voorwoord het die volgende my opgeval: “Few try to understand what motivates the hunter, and few are exposed to the facts about sport hunting and its role in conservation and in the economy, and an authoritive book such as this, which helps to bring these facts to the attention of the public, is in my opinion, very welcome.” – Gregor Woods, Jag redakteur van Man Magnum. Hopelik is elke jagter in besit van hierdie boek en bestudeer dit intens, veral die hoofstuk oor etiek en die wet.