Dié Suid-Afrikaanse man het ’n hele vliegtuig vol mense oortuig om hom te help om sy meisie te vra om te trou. En dié daad het selfs Amerikaanse TV-nuus gehaal!

Die Suid-Afrikaner George Erasmus het almal op sy vlug oortuig om hom te help met sy verlowing aan die Amerikaner Ashley Kracht. Ashley het niksvermoedend op die Kansas City Internasionale Lughawe vir haar kêrel gewag, berig die TV-nuuskanaal KSHB.

Een vir een het die passasiers vir haar ’n blom gegee soos hulle uit die hekke gestap het. Hulle het net geglimlag, die vars madeliefie vir haar gegee en weggestap. Ashley was onseker wat aangaan, maar het elkeen bedank.

Heel laaste het George uitgestap met nóg ’n bos blomme. Sy het aanvanklik gedink die verrassing eindig hier, maar toe sak George op sy een knie en vra die groot vraag - onder toejuiging van die ander passasiers.

Kyk die KSHB-insetsel oor hul verlowing hieronder:

George, wat van die Kaap is, het vir Ashley in Kaapstad ontmoet terwyl sy hier sendingswerk gedoen het. Haar liefde vir kinders het sy hart gewen. Volgens KSHB beplan hy reeds van Januarie af dié verlowing.

Bronne: KSHB en KSDK

Nóg viral-video's op SARIE.com