Wanneer Anthony sterf, word arme Laura die baas van sy versameling van verlore items wat hy oor ’n tydperk van 40 jaar versamel het.

As jy hou van verhale waarin daar nog in die goeie en onwaarskynlike sameloop van omstandighede geglo word, dan is hierdie ongewone boek, The Keeper of Lost Things deur Ruth Hogan (Hodder UK, R275)  vir jou. Twee storielyne word met mekaar verweef. Die eerste speel af in die hede en gaan oor Laura wat vir ’n eksentrieke skrywer, Anthony, werk wat ’n vertrek vol verlore items opgegaar het – goed wat oor 40 jaar deur die eienaars verloor of misplaas is. Die tweede storielyn speel af in die 70’s en draai om Eunice se werk as assistent van Bomber, ’n onafhanklike uitgewer. Wanneer Anthony skielik sterf, laat hy sy huis en sy versameling van verlore items aan Laura na, met die bepaling dat sy die verlore items aan hul eienaars moet probeer terugbesorg. Tussen die twee storielyne is daar ook kortverhale wat Anthony oor die verlore items en hul moontlike eienaars geskryf het. Mens moet enduit lees om te sien presies hoe die twee storielyne bymekaar kom en hoe die karakters met mekaar verband hou. Dis ’n vreemde verhaal vol nostalgie en die eksentrieke karakters maak dit ’n storie wat jy lank sal onthou. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

Into The Water, Paula Hawkins (Penguin Books, R249)

Die heel laaste sin van hierdie boek is ’n skokkende onthulling, wat die hele verhaal uiteindelik vir jou in konteks plaas. Volgens die polisie het Nel haarself verdink in “The Drowning Pool”, ’n deel van die rivier naby haar huis. Maar haar dogter Lena glo dat Nel nooit selfdood sou pleeg nie, al was haar ma obsessief oor die geskiedenis van die rivier waarin so baie vroue al hul lewens verloor het. Nel was besig om ’n boek te skryf oor al die vroue wat in die poel dood is en het diep gekrap in hul persoonlike geskiedenis en die van die gemeenskap. Dít het die plaaslike gemeenskap glad nie aangestaan nie. Daar is ’n menigte karakters in hierdie komplekse verhaal wat afwisselend vanuit al die karakters se oogpunte vertel word. Elke karakter se weergawe verskaf vir die leser ’n ander aspek van dieselfde gebeure. So vorm jy drupsgewyse ’n geheelbeeld van presies hoe die ingewikkelde legkaart van gebeure inmekaar pas. Al verloop die verhaal teen ’n stadige pas raak jy nooit verlore of verveeld nie. Jy bly lees tot die heel laaste skokkende sin. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

My Not So Perfect Life,  Sophie Kinsella (Bantam Press, R295)

Katie Brenner lewe nie so lekker in Londen soos sy gehoop en begeer het nie. Haar woonplek is piepklein, haar rangby die werk is laag, maar sy moet suksesvol voorkom. Sy wil nie haar pa ontnugter nie. Op Instagram gee sy voor dat haar lewe hip, ryk en lekker is. Die lewe van almal om haar is soveel beter, veral dié van haar briljante, kreatiewe, getroude baas, Demeter Farlowe wat pragtig aantrek en in 'n weelderige huis woon. Kan daar iets romanties tussen Katie en supercool Alex ontwikkel? Hy is dan Demeter se vriend? Demeter dank vir Katie af. Druipstert gaan sy huis toe na haar pa se plaas in Somerset. Daar leer sy egter dat alles nie regtig is wat sy haar verbeel nie. Heerlike leesstof vol humor en kwinkslae. - Malene Breytenbach

FOTO: verskaf

Plasenta, Peet Venter (Lapa Uitgewers, R220)

Thys Krige is ’n gewese speurder, maar werk nou vir ’n organisasie ‘wat nie bestaan nie’. Hy het pas uitgevind dat hy ’n halfsuster, Karen, het. Sy is jare gelede ontvoer en landuit geneem. Sy soektog na Karen neem hom van een spanningsvolle situasie na die ander. Dié keer is dit gedeelde bloed wat hom roep en hy weier om van die sending af te sien.

Plasenta is die vierde boek in Peet Venter se Thys Krige-reeks. Lesers wat nie die vorige boeke gelees het nie, mag aan die begin van die roman bietjie verlore voel. Die gebeure tot dusver word egter opgesom en onduidelikhede word gou opgeklaar.

Dis ’n spanningsroman met ’n verskil - die gelaaide storielyn word kort-kort onderbreek deur die hoofkarakter se filosofiese mymeringe oor die aard van goed en sleg, moraliteit en geregtigheid en oorsaak en gevolg. Sommige lesers mag hierdie oordenkinge steurend vind, maar vir my het dit die boek net verryk. Die spanning bou op na ’n skitterende klimaks - my bedliggie het tot laat gebrand. Plasenta is beslis die lees werd. – Adele Vorster

FOTO: verskaf

Like it matters, David Cornwell (Umuzi, R250)

Ed word in Grahamstad groot en sy eerste ondervinding met verslawing is sy pa wat hy van die vloer af moet optel as hy te dronk is om self te loop. Ed raak self by dwelms betrokke en vlug Kaap toe nadat hy in ’n gewelddadige onderonsie met ’n dwelmhandelaar betrokke is. Hier verval hy dieper en dieper in die kloue van sy verslawing. Hy dra ’n bottel slaappille saam met hom, want hy dink nie hy verdien dit om verder te leef nie. Maar dan ontmoet hy vir Charlotte by ’n vergadering vir dwelmverslaafdes en sy hele lewe verander. Hy dink dat as hy saam met haar van die dwelms ontslae kan raak, hy tog ’n kans het. Hulle trek saam in en hy kry werk waarop hy trots is. Dit lyk of hy uiteindelik gelukkig kan wees saam met Charlotte. Maar dan daag Dewald op. Hoekom lyk Dewald so bekend en watter planne voer hy in die mou?

Like it matters is nie net nog ’n boek wat dwelmverslawing sensasionaliseer nie. Ed se storie vertel van die werklike stryd wat verslaafdes moet deurmaak. Die treffende eerlikheid waarmee die skrywer dwelmverslawing ondersoek, gee aan Ed se verhaal ’n lewe sonder om verslawing te sensasionaliseer.  - Antoinique van Staden

FOTO: verskaf

Fool Me Once, Harlan Coben (Century, R285)

Maya Burkett, ma van die tweejarige Lily, staan by die oop graf van haar man, Joe. Omring deur haar welaf skoonfamilie tussen wie sy nog nooit welkom gevoel het nie. Joe is tydens ’n rooftog langs haar doodgeskiet en sy was die enigste ooggetuie. Maar hoe gebeur dit dat hy ’n paar dae ná sy begrafnis op ’n video verskyn wat bedoel was om die kinderoppasser se bewegings dop te hou?

Maya was ’n vlieënier in die weermag en wapens en die hantering daarvan was deel van haar opleiding. Sy besit selfook wapens. Dit maak haar die hoofverdagte en die speurder wat die ondersoek lei, is vasbeslote om Joe se moordenaar op te spoor. Maya besluit om self ondersoek in te stel nadat sy bewus word daardvan dat sy agtervolg word.

Harlan Coben boei lesers in nog ’n spanningsvolle verhaal.  – Sandra Marais