’n Vroulike leraar met ’n wit toga, kleurig geborduur met Christelike simbole, het die plegtigheid aan die bo-ent van die rooi tapyt onder ’n klein baldakyn waargeneem. Die gaste het stemmig in kort rye langs die tapyt gesit. Bruid en bruidegom het mekaar gesoen, die seën is oor hulle uitgespreek en die konfetti is gestrooi.

Later die aand het ek by die banketsaal verbygeloop. Die viering was in volle swang. Vonkelwyn het gevloei en die orkes het oorverdowend gespeel met die gaste wat jol dat die seevoëls uit die hotel se jaart gevlug het. Die bruidegom was besig om te kotteljons met een van die mooi vrouegaste. Maar, interessant, die bruid in haar wit nommertjie het eenkant by ’n tafel gesit, druk in gesprek met drie ernstige mans. Een het sy aktetas uitgehaal, oopgeknip en dokumente aan die bruid oorhandig om te teken. Sy het die dokumente bekyk en toe met ’n sakrekenaar berekenings gedoen. Dit het gelyk asof hulle hard sake doen. Nogal op haar troue.

Sy het seker later vir die sake-onderbreking opgemaak met dans en vonkelwyn ensovoorts later.

Ek het by myself gedink: Huwelike is voor ons oë aan die verander, die viering daarvan en die gehalte daarvan. Dis duidelik wie in daardie verbintenis die sê gaan sê. Ek hoop maar die man geniet die dans!

Dis ietwat anders as die storie van die professor wat pas ’n Nobelprys gewen en dit met ’n tweede wittebroodsreis per motor deur die VSA gaan vier het. In die Navajo-woestyn het hy en sy vrou by ’n gelapte vulstasie stilgehou om brandstof te koop. Die eienaar, ’n groot, dik man met ’n bos olierige hare en groot tatoeëer-merke op sy bo-arms, het hulle gehelp. Toe Mevrou Professor hom sien, het sy byna ballisties geraak en hom omhels en gedruk en gesoen en lank aan hom vasgeklou. Haar man was totaal van sy wysie af oor die gedrag van sy gewoonlik ingetoë vrou.

Toe hulle wegry, het sy vir die garageman soentjies gegooi. Haar professor wou stug weet wat aangaan. Sy het verduidelik dat sy en die garageman jare tevore op hoërskool gekys was. Die professor het vies opgemerk dat dit darem maar goed is dat sy eerder met hóm getrou het en nie met die ghwar by die garage nie.

“Wat bedoel jy?” het sy gevra. “As ek met hom getrou het, het hý nou die Nobelprys gewen en nie jy nie.”

Ek weet van ’n paar mans van wie dit waar sou wees. Hul vroue het hulle subtiel en selfs minder subtiel gedryf om uit te haal en te wys.

Onder my kennisse sal ek maar nie name noem nie. Genoeg om te sê dat Nancy Reagan op die strand gaan ontspan het pas nadat haar man tot goewerneur van Kalifornië verkies is. Sy het hul motorbestuurder geroep en gesê hy moet dadelik vir haar ’n boek gaan koop wat sy wou bestudeer. Die boek was oor J.F.K. se verkiesing: The Making of a President. Sy het eggenoot Ronald Reagan tot in die Withuis bestuur.

Ek weet nie of die bruid haar man so sal bestuur nie, maar ek sal nie verbaas wees as sy iewers in die sakewêreld bo-aan die leer gaan eindig nie. Wat dit vir die huwelik inhou, kan ek nie sê nie. Maar die man sal nie aan die dans kan bly nie. Die wese van die gesin en huwelik is aan die verander. Dit alles stel eise wat ’n nuwe geslag in gedagte sal moet hou. Ek sien ook hoe die groter gesin (oumas, oupas, ens.) al hoe meer ’n rol in die kleinkinders se lewe speel - nie noodwendig ’n slegte ding nie.

Hoe die gesin en huwelik van die toekoms ook al gaan lyk, dit sal oorleef as God daarin is. Want reeds in Bybelse tye was ’n vrou, Debora, die rigter van haar volk. Onder haar leiding het haar generaal, Barak, die vyand verslaan. Toe het sy ’n oorwinningslied gesing wat eindig: “Mag almal wat God lief het, wees soos die son wat in sy volle glorie opkom.” In hierdie trant kan alle verandering hanteer word: deur die sakevrou-bruid, die Nobel-mevrou, die Nancy Reagans en elke vrou met haar eie drome.