Dis ’n ander wêreld op die water. Met ons aankoms by die Southampton-hawe in Brittanje is die opwinding onder die passasiers reeds voelbaar - die heel eerste vaart van die Freedom of the Seas. Dis immers die grootste passasierskip wat tot nog toe gebou is en die nuutste speelding van die Royal Carribean-skeepsmaatskappy.

Sommer met die intrapslag besef jy: Dis ’n ervaring van ’n leeftyd. Om mee te begin is die kajuite luukser as die meeste hotelle se kamers - elkeen met ’n koningingrootte bed, plasmaskerm-TV, kroegdiens en eie lugversorging. En 800 kajuite het ’n eie balkon, kompleet met skuifdeur en dekstoele, en ’n asemrowende uitsig oor die see. Daar is 15 dekke - dink aan ’n vyftienverdiepinggebou! Elke dek het ’n verskeidenheid restaurante en ontspanningsareas - genoeg om jou asem weg te slaan. Daar is iets vir elke lid van die gesin om hom- of haarself mee besig te hou. Swembaddens spesiaal vir kinders, ’n solarium vir volwassenes, ’n speletjiesarkade, ’n basketbalbaan, ’n ysskaatsbaan, ’n rotsklimmuur, ’n minigholfbaan - om net ’n paar te noem.

Die nooiensvaart-vuurwerk bo die skip.

Vir die naguile is daar natuurlik ook meer as genoeg vermaak. Dis moeilik om te kies tussen ’n gesofistikeerde jazz-klub, ’n salsa-kroeg, ’n volwaardige nagklub en ’n vertoning in die teater. Daar word ook voorsiening gemaak vir mense met uiteenlopende belangstellings - van branderplankry-entoesiaste tot boekwurms, van inkopieslawe tot sonaanbidders. Alle etes is ingesluit by die vaart. Jy kan letterlik elke uur van die dag iewers iets te ete kry. Ná ’n reuse-ontbyt soggens is daar ook ’n koffiewinkel, roomys- en pizzaplek indien die honger voor middagete knaag. Middagete kan in enige van die baie restaurante geniet word. ’n Vaart op die skip is beslis nie vir kilojoule-bewustes nie! Aandete is baie formeel. Die balsaal, waar meer as 2 200 mense gelyk kan aansit, voel soos iets uit ’n ander era.

Wil jy nou meer

  • Die Suid-Afrikaner Ilza Naurattel, medebestuurder van die spa, sê SA meisies is gesogte skoonheidskundiges aan boord.
  • Daar is ongeveer 45 SA bemanningslede aan boord van die Freedom of the Seas.
  • Die skip het 11 kombuise en daar word tussen 12 000 en 15 000 bottels wyn per week verbruik. Daar is 165 sjefs aan boord, wat weekliks meer as 140 000 borde kos voorsit.
  • Die Karibiese See is sinoniem met pragtige strande en sprankelende water. Dis ’n tropiese paradys met ’n ryk kulturele erfenis en geskiedenis. Jy kan ruïnes, reënwoude en asemrowende watervalle te wagte wees.
 

Hoewel dié skip plek vir meer as 4 000 passasiers en 1 300 bemanningslede het, is dit só goed ontwerp dat dit nooit voel asof daar so baie mense aan boord is nie. Wat ’n onvergeetlike ervaring!

Nuutjies op die Freedom of the Seas

  • Rotsklimmuur
  • Flowrider (’n branderplank-oefenbaan)
  • Binnenshuise ysskaatsbaan