Wagtyd is nie vrye tyd nie. Wagtyd is daardie halfuur wat jy in die dokter se spreekkamer wag of op die lughawe of vir die mooier een in jou lewe om die laaste lipsel die derde keer aan te sit.

Die kinders draai as hulle in die middag ná skool kar toe moet kom. Daar is wag by die lisensiekantoor of niks wat die moeite werd is op die honderd en hoeveel TV-kanale nie. Alleen by die huis op ’n Saterdagmôre met niks om te doen nie, behalwe dinge waarvoor skroewedraaiers en hamers nodig is en wat in elk geval tot volgende Saterdag kan wag.

’n Mens moet mooi werk met jou wagtyd.

Wagtyd mag nie niksdoentyd word nie, want enige verantwoordelike mens behoort in elk geval genoeg niksdoentyd in sy week te beplan.

My eksperiment was om in my wagtyd daardie boeke te takel wat reeds jare lank op my rak gebêre word vir eendag wanneer ek tyd het. Ek het agtergekom daardie eendag wil net nie nader kom nie. Sommige boeke staan al byna 20 jaar en het al ophou smeek om aandag.

Ek het somme begin maak. Net 10 bladsye per dag (buiten my gewone leeswerk vir my soort werk) en ek kan in een jaar aan 3 650 bladsye van die verwaarloosde boeke aandag gee.

En só het ’n wêreld vir my begin oopgaan.

Onkundig, maar vasberade en stukkie vir stukkie het ek groot name getakel, name waarvoor ek half bang was. Dostojefski, Tolstoi, Dickens. Ek het Chris Barnard herontdek en Jane Austen. En my gedagtes het vol geword van nuwe dinge.

Die mooiste taal, die diepste lewenslesse. Ander lande en ander eeue het in my wêreld inbeweeg. Nie net lewenslesse nie, maar ook die doodgewone genot van verlore raak in ’n storie.

Die betowering van die boeke van my wagtyd het my net weer bewus gemaak van hoe dikwels ander voornemens in my lewe soos ongeleesde boeke op ’n rak staan. Dit het my laat besef hoe maklik dit is om met die klein, gereelde doen van die regte dinge groot uitdagings te bemeester.

Ek het gesien dat die dikste boek uiteindelik moet swig onder ’n paar bladsye per dag. En ek het geleer om nie die krag van aanhoudendheid te onderskat nie. Een gebed per dag, een vriendelike oproep, een e-pos, maar aanhoudend, en die wêreld word ’n beter plek.