Sy boodskap is eenvoudig en sy lewensblyheid aansteeklik. Hy’s die eerste om spontaan vir sy eie grappies te lag en sommer vinnig ook ’n danspassie in te pas.

Maar dis wanneer hy oor vroue praat dat jy werklik lúister. Want jy voel aan, instinktief, dat sy respek vir vroue eerlik en diepliggend is.

Onlangs was ek ’n gas van die Deense ambassade in Kaapstad, waar ’n wêreldwye inisiatief vir die bemagtiging van vroue en gendergelykheid in SA bekend gestel is, en waar drie Suid-Afrikaners, onder wie aartsbiskop Tutu, as fakkeldraers ingehuldig is. Tereg het die Deense ambassadeur, Dan Frederiksen, gesê: “Vroue verteenwoordig byna 50% van die wêreldbevolking, en as ons nie in vroue belê nie, verbrou die wêreld die kans op ’n magdom geleenthede en groei. Gelykheid tussen mans en vroue is ’n mensereg. Diskriminasie is verkeerd en onregverdig. Boonop is gendergelykheid en die bemagtiging van vroue ekonomies slim.”

Maar dit was die hartswoorde van aartsbiskop Tutu oor vroue wat regtig getref het.

“Sonder vroue is die wêreld onvoltooid,” het hy dit eenvoudig gestel.

En toe vertel hy hoe hy die wêreld oor reis as genooide spreker. Dat hy soms duisende mense op ’n keer toespreek. In Amerika is dit aangenaam, want daar kry jy altyd ’n staande ovasie, “ongeag hoe goed of hoe sleg jy is”, het hy met die bekende vonkel in die oog gesê.

Maar dit is nie die eintlike erkenning wat hy soek nie. Ná 53 jaar van getroude lewe is dit die ja van sy vrou wat belangrik is. “Eers wanneer my vrou, Leah, sê dit was reg, kan ek ontspan.”

En: “’n Revolusie wat deur vroue gelei word, is iets om na uit te sien,” meen hy.

“Watter vrou wat ’n baba nege maande lank dra, sal haar kind self oorlog toe stuur? Vroue sal alles in hul mag doen om vrede te bewaar. Hulle is natuurlike vredemakers. Die lewe se regstellers, die planeet se lewegewers.”

Vroue sien hulself ook nie in die rol van slagoffer nie. “By die Waarheids-en-versoeningskommissie het mans hul eie stories kom vertel, maar vroue het ander mense se stories vertel. Dié van ’n seun, ’n eggenoot . . . Ons mans moet onsself afvra: Hoe kan vroue ons help om mensliker te word?”

Met oortuiging het hy bygevoeg: “Vir die planeet om te oorleef, vir die wêreld om vooruit te gaan het ons die besondere eienskappe van vroue nodig. Vroue moet bemagtig word en die ruimte kry om aan die mensdom ’n menslike gesig te gee.”

Ek word dikwels gevra om te praat oor die rol van die moderne vrou. Hiérdie is die rol van die vrou vandag. Dit is om al die wonderlike eienskappe waaroor ons beskik in te span, elke dag, by die huis, die kantoor, in die raadsaal. Tussen familie, vriende en ook vreemdes. Want ons vermoë om vrede te maak, te lei, te onderskraag, te vertroetel, aan te moedig, te baklei vir dit wat reg is en dít waarin ons glo, ’n skouer te wees en ’n steunpilaar, ís die dinge wat van hierdie land en hierdie wêreld ’n beter plek sal maak.

Michélle van Breda

NS.
Toe ek myself ná aartsbiskop Tutu se toespraak aan hom bekend stel, het hy my hande gemoedelik saamgevat en dadelik oorgeslaan na Afrikaans. Van almal sien hý die meeste uit die Praat met wat ons met hom gedoen het!

SARIE November 2008