Vicki is steeds verwonderd oor haar kroning as tweede prinses in Mej. Dowe Internasionaal. “Ek het dit glad nie verwag nie en het soos ’n ‘Cinderella’ gevoel in my sagte blou rok, wat die Bloemfonteinse ontwerper Schalk van Dyk vir my ontwerp het. Die hoogtepunt was om die dowe aktrise Marlee Matlin te ontmoet. Soos ek, het sy ook kleintyd haar gehoor verloor – in haar geval weens ’n geneties misvormde oorskulp. Sy het ’n Oscar gewen vir haar rol in Children of a Lesser God.

Sy is so ’n inspirasie. Klein maar met ’n groot persoonlikheid.”

Vicki se gehoorsenuwee is aangetas toe sy as baba koors gehad het. Op twee jaar kon sy nog nie praat nie, en ná ’n breinstam-toets is vasgestel sy het 97% gehoorverlies. Maar dit het haar nie afgeskrik nie.

Sy is voorskools na die Carel du Toit-gehoorsentrum in Bellville, naby Kaapstad, waar sy geleer het om normaal te praat en te liplees. Haar ouers, Gerhard en Bonita, albei pastore, het ook baie liefdevolle ure met haar deurgebring om haar daarmee te help.

Sy was in Lifestyle Christian Academy op Worcester en die laaste twee jaar van haar skoolloopbaan het sy tuis skoolgegaan nadat die gesin Bloemfontein toe getrek het.

Sy hou gereeld motiveringspraatjies, doen modelwerk en skryf graag – op die oomblik is sy besig met haar outobiografie.

Lees meer oor Vicki in die Januarie uitgawe van SARIE.